Bible Society of South Africa

Moenie moed opgee nie! – 24 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

JAKOBUS 1

Geloof en wysheid

2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

JAKOBUS 1:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bid jy reeds vir ’n geruime tyd vir ’n spesifieke deurbraak sonder dat jy dit beleef? Luister dan gerus na die storie getiteld, Die Klippie van Sukses:

Moeg en mismoedig het Rafael Solano in 1942 op ’n rots in die droë Venezolaanse rivierbed gaan sit. Vir maande het hy en twee ander mans daagliks in die rivier na spoeldiamante gesoek – sonder sukses.

Een van Rafael se vriende het nader gestaan om te vra of alles in orde was. Rafael het na die klippie in sy hand gekyk en geantwoord: “Ek is klaar. Dit help nie om langer te soek nie. Hierdie is seker die 999 999ste klippie wat ek optel en steeds is dit nie ’n diamant nie!”

Die ander twee mans het geskok na mekaar gekyk. Was dit die einde van hulle droom om diamante te ontdek? Een van die mans het geantwoord: “Nou maar goed, Rafael. Tel dan ten minste nog een klippie op, dat ons kan sê ons het deur ’n miljoen klippe gekyk.” Rafael het geknik, vorentoe gebuk en ’n klip uit die hoop klippe voor hom uitgehaal. Dit was so groot soos ’n hoendereier. “Hier,” het hy gesê en dit aan sy vriend oorhandig.

Daardie “miljoenste klippie” sou later as The Liberator, die grootste en suiwerste spoeldiamant wat nog ooit ontdek is, bekend staan. ’n New Yorkse juwelier, Harry Winston het dit vir ’n reuse bedrag geld van Rafael gekoop.

Wat sou gebeur het as Rafael besluit het om nie daardie laaste klippie op te tel nie? Of wat sou met die basketbalspeler, Michael Jordon gebeur het as hy op hoërskool moed opgegee het nadat hy uit sy skool se basketbalspan gelaat was? Of as Dr. Seuss moed opgegee het nadat die 23ste uitgewer sy kinderboek afgekeur het – voordat die 24ste uitgewer hierdie boek aanvaar het en ses miljoen kopieë daarvan verkoop het?

God ken ons hartsbegeertes. Al wat Hy van ons benodig is deursettingsvermoë en vertroue op Hom. In Jakobus 1: 2-4 lees ons: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Moenie moed opgee as jy al vir ’n geruime tyd vir ’n deurbraak bid nie. God is besig om agter die skerms te werk en alles in plek te stel sodat jy op die regte tyd jou deurbraak kan beleef. Wie weet, dalk is jou deurbraak net soos Rafael sin, nog net een klippie weg! Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek weet dat U in beheer is van elke situasie. Help my om nie mismoedig te word as dit voel asof die antwoord op my gebed wegbly nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS