Laat God die “pyle” verwyder – 23 Februarie 2021
Deur Benescke Janse van Rensburg
Bybelteks(te)
HEBREËRS 13
PSALMS 147
FILIPPENSE 4
’n Paar weke gelede was die Greenside-gemeenskap in Johannesburg in rep en roer oor ’n hadida voël wat met ’n pyl deur sy liggaam rondgevlieg het. Iemand se mislukte poging om die voël dood te skiet, het die pyl sowat 1cm diep in sy liggaam agtergelaat. Dit het ’n groep vrywilligers vyf dae lank geneem om die hadida eindelik te vang om die pyl te verwyder.
Soms dra ons ook “pyle” met ons saam. Dit kom in die vorm van mense wat ons seermaak met hulle woorde. Of dikwels neem ons onnodig aanstoot in ’n bepaalde situasie. Ander kere is die “pyle” ons bekommernisse wat ons met ons saamdra – ’n vrees vir Covid-19, ’n uitdaging met ’n kind, ’n huwelik wat swaarkry, finansies wat swaar trek of selfs ’n siektetoestand. Indien ons nie betyds hierdie pyle identifiseer en vir God vra om dit te verwyder nie, sal dit kort voor lank ons lewensvreugde en vrede begin steel.
Soos die vrywilligers nie moed opgegee het om die hadida te vang nie, sal God ook nie op ons moed opgee om ons te help nie. Hy wil ons red en genees. Hy wil ons vry laat leef.
In Hebreërs 13:5 sê God immers: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Ook in Psalm 147:3 staan geskryf: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.” En in Filippense 4:6-7 vind ons die sleutel om ontslae te raak van ons bekommernisse: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Mag ons braaf genoeg wees om die pyle in ons lewens te identifiseer en met God daaroor te praat. Hy wil sy krag en liefde aan ons demonstreer en ons volkome genees. Sterkte.
Gebed: Vader God baie dankie dat ek met elke uitdaging na U kan kom, wetend dat U my wil genees en help. Ek bring (noem wat dit is wat jou van jou vrede beroof) na U. Asseblief neem die “pyl” weg uit my lewe en genees my hart. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen