Bible Society of South Africa

Krag in die naam van Jesus Christus – 3 Februarie 2021

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

1 PETRUS 2

24Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

1 PETRUS 2:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

JOHANNES 14:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vrydag ’n week gelede het die ondenkbare vir Shamonei Schoeman van Benoni en haar gesin gebeur. ’n Angskreet van die huishulp het haar gebring tot by die swembad waar haar 1-jarige dogtertjie met die potblou ogies, Shiané bo-op die swembad se water gedryf het.

Shamonei: “Ons het die Vrydagoggend by my ma in Brakpan gaan kuier. Die swembad se seil was op, maar dit het weens die baie reën aan die eenkant begin lostrek. Shiané het heeltyd rondom ons gespeel, maar in ’n stadium moes sy die veiligheidshek wat gesluit was op ’n manier oopgekry het en buitentoe gegaan het.

“Die huishulp se histeriese gil het my laat dink die honde byt haar so ek het dadelik uitgehardloop. Geskok het ek egter gesien dat dit Shiané is wat potblou en opgeswel bo-op die water in die swembad dryf. Dit is verseker ’n gesig wat geen ouer ooit wil sien nie! My broer, Dylan het haar uitgeduik voordat my ma, Elize met mond-tot-mond asemhaling begin het. Dylan het hierna die nooddienste gebel.

“My kind het geen pols gehad nie. Weens die baie water in haar lyfie het sy swaar gevoel om op te tel. Aangesien ek vyf weke swanger is, het ek in die skok gedink dat ek beide my kinders op een slag gaan verloor.

“Alhoewel ek min van die oggend kan onthou, kan ek baie goed my ma se gebede onthou. Sy het kliphard gebid. Ek onthou hoe sy in ’n stadium haar hand op my kind se kop gesit het en gebid het: ‘Jesus u bloed. Ons het U nodig.’ In daardie oomblik het Shiané begin hoes en skielik weer asemgehaal. Haar polsslag was terug. God het bonatuurlik ingegryp en ’n absolute wonderwerk kom doen. Selfs die paramedici kan nie glo dat Shiané geen breinskade opgedoen het nie. Ons is God ewig dankbaar.”

In 1 Petrus 2:24 word ons daaraan herinner dat ons genesing ontvang deur Jesus Christus se kruiswonde – sy bloed het namens ons gevloei. Ook in Johannes 14:12 sê Jesus: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Watter werke het Jesus gedoen? Hy het blindes laat sien, dowes laat hoor, verlamdes laat opstaan en self dooies opgewek.

Wat het langs die swembad in Brakpan gebeur? Elize het haar geloof in aksie geplaas. Sy het ons Almagtige God van die heelal aangeroep en Hom aan sy belofte van genesing herinner. Was Hy daar teenwoordig om die dogtertjie met die spierwit haartjies en potblou ogies deur sy Heilige Gees aan te raak? Ek betwyfel dit vir geen oomblik nie.

God doen stééds wonderwerke. Hy is stééds in beheer van ons lewens. En daar is verseker stééds krag in die Naam van Jesus Christus. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ons in moeilike tye na U kan roep en weet dat U steeds wonderwerke doen. Ek bring vandag (noem jou uitdaging) na U en ek vra in die Naam van Jesus Christus dat U ook my situasie sal verander. Dankie, dat ek dit by U kan los. Amen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS