Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Verandering, Advent en Kersfees – Dag 4

“Encore, encore!”

Bybelteks(te)

ROMEINE 3

23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

ROMEINE 3:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is ʼn apokriewe verhaal oor ʼn bekende en reeds gestorwe operasanger wat op ʼn keer in die Teatro alla Scala operahuis in Italië gesing het. Toe hy klaar gesing het, skree die gehoor: “encore, encore!” en baie in sy noppies oor die ovasie, sing die man toe weer. Nog was dit nie die einde nie. Hulle encore hom weer en weer. En uiteindelik, poegaai gesing, sê hy vir die gehoor, hy is so bly hulle geniet sy sang so baie, maar hy kan nie meer nie. Toe staan een van die uitgelese gehoorlede op en sê: “Mr X, you shall-a sing-a it, until-a you sing-a it right!”

Ai, soms voel elkeen van ons so. Kan ons dan niks reg doen nie? Moet ons elke keer dieselfde foute in die lewe maak? Selfs ʼn donkie stamp nie sy poot teen dieselfde klip nie. Hoekom leer ons nie uit ons foute nie?

Daar is egter ʼn ander verhaal van twee ou omies wat elke aand huisgodsdiens gehou het en aan die einde baie vals ʼn psalm gesing het. Op ʼn dag sê die bure vir die omies dat hulle met plesier huisgodsdiens kan hou maar hulle moet tog net nie sing nie. So gesê en so gedaan. Een aand klop daar ʼn engel aan die deur en met trane in sy oë en vra: “Hoekom sing julle nie meer nie?” Toe antwoord een van die omies: “Maar ons sing dan so vals dat die bure gesê het ons moet ophou sing.” Die engel het geantwoord: “Ai tog, het julle dan nie geweet nie? Elke aand as julle so vals sing is daar ʼn hele skare engele bokant die plafon wat wag en elke vals nootjie omskep tot die allerskoonste hemelse klanke vir die hemelse Vader se oor.”

So kom God en sy engele ons swakhede tegemoet, tot God se stem in ons uiteindelik “ryp tot ʼn lied” en ʼn hemelse simfonie God loof met elke noot volmaak op sy plek.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS