Tyd is kosbaar – Dag 9
Die wederkoms van die Here
Bybelteks(te)
MATTEUS 24
Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms
Deur die eeue was daar altyd mense wat aangevoer het dat hulle presies weet wanneer Christus weer gaan kom – sommige uit eerlike oortuiging, ander met duistere motiewe.
Jesus kom vir seker weer. Sy wederkoms is ʼn baie prominente tema in die Bybel en Christus self getuig dat Hy weer sal kom om te regeer. In sy Woord verseker die Here ons baie duidelik dat Jesus weer sal kom, sonder om ons nuuskierigheid te bevredig oor presies wanneer dit gaan plaasvind
Daardie dag is versteek in die raadsplan van God.
Jesus voorsien ook dat daar geen tekort gaan wees aan mense wat die liggelowiges met hulle bewerings gaan mislei nie. Enigiemand, ongeag wie dit is, wat beweer dat hy die presiese dag en datum van die wederkoms weet, is ʼn vals profeet. Dit kan ons sonder twyfel sê, want dit is die woorde van Jesus self.
Een rede waarom sommige Christene ʼn obsessie ontwikkel om die dag van die wederkoms te bepaal, is omdat hulle ongeduldig is. Hoe bly ʼn mens waaksaam as Hy na 2 000 jaar nog nie gekom het nie?
Die antwoord is in ons vermoë om te kan onderskei tussen Jesus Christus se teenwoordigheid en sy wederkoms. Van die oomblik wat ons ons harte vir Hom oopmaak is Hy by ons. Regdeur ons lewens ondervind ons sy teenwoordigheid tydens aanbidding, in sy Woord, op die manier wat Hy vir ons sorg en verskeie ander maniere.
Ons hoef nie die datum van die wederkoms te weet nie. Op die presiese tyd wat God bepaal het, sal Hy in al sy glorie weer kom. Dié wete behoort vir ons genoeg te wees om elke dag ons Christenskap uit te leef in afwagting op daardie wonderlike dag.