Tyd is kosbaar – Dag 10
Wees gereed
Bybelteks(te)
LUKAS 12
Deur die gelykenis van die huiseienaar wat onverwags terugkeer, leer Jesus sy dissipels wat hulle toekomsgesindheid moet wees. Die groot geleentheid wat in die toekoms sal gebeur, is die wederkoms van die Seun van die mens en dit gaan op ʼn onverwagse en onbekende tyd gebeur.
Hy vergelyk hierdie gebeurtenis met die huiseienaar wat na ʼn bruilof toe is. Hy laat sy slawe by die huis agter om op sy terugkoms te wag. Hulle het nie geweet wanneer om hom terug te verwag nie en ook nie of hy met sy terugkeer ʼn maaltyd sou wou hê nie.
Hulle was getroue slawe en het nie gaan slaap nie. Inteendeel, hulle het hulle moue opgerol om al die voorbereidings te tref sodat hulle gereed sou wees om hom te ontvang wanneer hy terugkeer.
Jesus sê dat hierdie eienaar so gelukkig sal wees met sy slawe se gedrag dat hy hulle aan tafel sal laat sit en eerder vir hulle sal bedien.
Wat het hierdie gelykenis met ons te doen?
Ons weet dat Jesus, ons Meester, weer terugkom: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3).
Ons moet te alle tye gereed wees want Hy gaan terugkeer wanneer ons Hom die minste verwag. Dit beteken dat ons in afwagting op daardie wonderlike dag moet leef sodat wanneer ons Eienaar terugkom, Hy ons aktief in sy diens sal aantref.