Bible Society of South Africa
Neville Turley

Tyd is kosbaar – Dag 13

Paulus se laaste brief

Bybelteks(te)

2 TIMOTEUS 1

9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.

2 TIMOTEUS 1:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus het Timoteus se moeder en ouma geken, en as jongman het Timoteus een van Paulus se metgeselle en medewerkers geword.

Hulle het baie van mekaar verskil. Die titel van Taylor Caldwell se boek oor Paulus is nie verniet Great Lion of God nie. Hy was ʼn vreeslose vegter wat deur sy ywer en toewyding aan die Christen-saak bereid was om vriend en vyand aan te durf.

Timoteus was baie jonger. Hy het nie die gedrewe geaardheid van Paulus gehad nie. Hy was meer teruggetrokke en skugter.

Paulus was ook baie beskermend teenoor Timoteus. “Wanneer Timoteus kom,” skryf Paulus aan die Korintiërs, “moet julle hom by julle laat tuis voel, want net soos ek, doen hy ook die werk van die Here. Niemand moet op hom neersien nie” (1 Korintiërs 16:10-11).

Paulus se brief is vol gerusstellende woorde en goeie raad aan Timoteus. Die hooftema, volharding in die geloof, is van toepassing op alle Christene.

Ons moet in alle omstandighede getrou wees aan Jesus Christus. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewyd te wees – nie op grond van ons dade nie, maar vir sy eie doel en deur die genade wat Hy reeds van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. God gee aan ons onverdiende genade – verniet. Genade is reeds voor alle tye in Christus Jesus aan ons geskenk.

Paulus se laaste opdrag aan Timoteus is om aktief te bly in sy geloof en om getrou die boodskap van die Here te verkondig. Dit is raad wat ons ook moet volg en ook aan ons geliefdes moet oordra.

Paulus sluit sy laaste brief ooit af met twee seëninge: Een vir Timoteus, “Die Here sal by jou wees,” en een wat ons almal insluit, “Die genade sal by julle wees!”

Hierop kan ons maar net antwoord: Amen, amen, amen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS