Tyd is kosbaar – Dag 12
Wees gereed op die dag van sy koms
Bybelteks(te)
MATTEUS 25
ʼn Bruilof is ʼn vreugdevolle geleentheid. Mense hou daarvan om op die spesiale dag in die blydskap van die nuwe egpaar te deel. Jesus het die troue by Kana gebruik om sy eerste wonderwerk te doen. Dit is dus nie ʼn verrassing dat Jesus die gelykenis van die tien meisies by ʼn troue gebruik as Hy sy wederkoms beskryf nie. Dit sal ʼn vreugdevolle geleentheid wees, ʼn tyd om fees te vier.
In die gelykenis word daar beskryf hoe almal in groot afwagting op die koms van die bruidegom wag. Toe hy te lank neem om op te daag, het die tien meisies moeg geword en aan die slaap geraak. Teen middernag hoor hulle die geroep: “Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!”
Hulle gaan uit in die donker met hulle lampe om die bruidegom na die bruilofsfees te vergesel. Skielik is daar ʼn krisis: vyf van hulle het nie genoeg olie in hulle lampe nie.
Hulle vra tevergeefs vir die ander vyf wat genoeg olie het om hulle te help. “Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie,” was die antwoord.
Die vyf meisies wat genoeg olie gehad het ontmoet die bruidegom en gaan saam met hom na die bruilofsfees. Toe hulle daar aangekom, word die deur gesluit. Later kom die ander vyf meisies daar aan: “Meneer, Meneer, maak vir ons oop!” roep hulle. Maar die bruidegom antwoord: “Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!”
Wat leer hierdie gelykenis vir ons?
Al tien meisies het geweet dat die bruidegom gaan kom en dat hulle gereed moet wees om hom te ontmoet. Die vyf onverstandige meisies was egter nie voorbereid nie. Alle Christene wag om die bruidegom, Jesus Christus, te ontmoet. Ons weet nie op watter dag en uur Hy gaan kom nie, maar wanneer Hy kom moet ons gereed wees.
Om voorbereid te wees, kan nie van een persoon na ʼn ander oorgedra word nie. Ons kan nie die koninkryk van God binnegaan met iemand anders se “olie” nie. Ons moet ons eie voorraad hê en dit kan ons direk deur die Heilige Gees van ons Drie-enige God kry.