Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 319

Spreuke 27:18-20

Bybelteks(te)

18Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet;

wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang.

19Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk,

so sien jy jouself in wat jy dink.

20Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie;

'n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie.

SPREUKE 27:18-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 18. Dit is tot jou eie voordeel om na jou werkgewer se belange om te sien. Jy sal die vrugte pluk as jy sy belange op die hart dra.

Vers 19. Jy is soos jy dink. Jou gedagtes is ‘n spieëlbeeld van jou menswees. Dit is soos om jou gesig in water te sien. Dit is waarom Spreuke soveel klem daarop lê dat ‘n mens versigtig met jou gedagtes moet omgaan. Dit bepaal jou hele lewe (Spr 4:23). Jy kan ook baie leer van jouself in ‘n “heart-to-heart” gesprek met iemand anders, soos die spreuk ook geïnterpreteer kan word. Jy sien dus jouself in hoe ander jou sien.

Vers 20. Begeertes is onversadigbaar. Jou oë is soos die doderyk (Sheol) en die onderwêreld (Abbadon). Dit word nooit versadig nie. Dit is waarom dit so nodig is om tyd in jou gedagtes te maak vir God en om te luister na wysheid, want dit is die enigste manier waarop jou begeertes nie oor jou sal heers nie.

Vergelyk hoe Johannes in die NT daaroor praat: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. (1 Joh 2:15-17)

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS