Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 267

Spreuke 24:1-2

Bybelteks(te)

1Moenie slegte mense beny nie,

moenie by hulle wil wees nie;

2al waaroor hulle dink, is geweld,

en al waaroor hulle praat, is moeilikheid maak.

SPREUKE 24:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Spreuk 20 – Moenie slegte mense beny nie.

Daar is altyd die versoeking om slegte mense te beny dat hulle met geweld vat wat hulle wil, en niks en niemand in hulle pad laat staan om te kry wat hulle wil hê nie. Om die waarheid te sê, kwaaddoeners word baie keer selfs bewonder vir hulle sukses, waarmee die vrae wat ‘n mens met reg oor hulle metodes en karakter kan vra, oordonder word. En dit is net ‘n kort treetjie van beny na begeer en uiteindelik om dieselfde as hulle te wil doen.

Daarom moet hulle geselskap self vermy word, sê Spreuke. Vergelyk ook die motivering wat Spreuke gee op twee ander plekke oor dieselfde saak. In die een geval motiveer hy ons deur die toekoms wat die Here vir ons belowe as ons op die regte pad bly (vgl Spr 23:18). Ons moet kwaaddoeners dus nie beny nie, want ons toekoms is in God se hande. In die ander geval motiveer hy ons deur kwaaddoeners se uiteinde te beskryf. Die lewenslig van goddeloses sal vir ewig uitgedoof word (vgl Spr 24:20).

Uit ‘n NT hoek is dit natuurlik ook ‘n deel van die verleiding van die versoekings waarvoor die duiwel Jesus geplaas het (Matt 4:1-11) – om verstommende, aangrypende, en magtige dinge te doen wat mense eenvoudig sou dwing om sy boodskap te aanvaar. Jesus verweer Hom daarteen deur God se pad te kies:

  • om God se wil te ken en te doen en nie wonders tot sy eie voordeel te doen nie (klippe in brood),
  • om God se tydsberekening en metodiek te aanvaar en te kies, en God nie te probeer dwing om aangrypende dinge te doen voor die mense wat as ‘n kortpad sonder die kruis tot Jesus se voordeel sou wees nie (spring van die tempel af), en,
  • om God alleen te dien uit ontsag vir Wie Hy is, en nie die koninkryke van die wêreld met mag en geweld aan Homself onderdanig te maak nie, soos wat die duiwel Hom aangebied het nie. Jesus moes self leer op ‘n harde manier om nie die duiwel te beny vir die slegte goed wat hy voorgestel het nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS