Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 252
Spreuke 22:28
Bybelteks(te)
SPREUKE 22
Spreuk 5 – Moenie antieke grense verlê nie.
Die boek Genesis werk met die kernwaarheid dat God ons gemaak het om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. God se bedoeling met die aarde was en is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste. Dit geld mense, diere en plante.
Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Gen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see. Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.
God se bedoeling met die mens was, en is nou hieraan verwant. God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Gen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Gen 2:15). Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën. Dit beteken ook dat bewoon, bewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.
Dit is waarom ’n mens nie antieke grense moet verlê nie, want jy ontneem mense hulle verbintenis aan die grond, aan die plek waar hulle ’n ruimte het om tot hulle reg te kom, om God se opdrag na te kom, om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar (vgl Lev 25:23).
Die volk is byvoorbeeld met die Intog in Kanaän gewaarsku dat hulle nie in die beloofde land hulle bure moes mislei deur grenspale te verskuif om vir hulleself meer grond te gee nie (vgl Deut 19:14; 27:17; Jes 5:8; vgl ook Spr 23:10-11).
Netso mag ‘n mens nie sommer so van jou geboortegrond afstand gedoen het nie. ’n Mens hoor daarom in hierdie spreuk ook die wysheid wat agter die baie belangrike verhaal van Nabot se wingerd sit, waar koning Agab hom van sy grond wou vervreem, en so grense wou verlê wat al lankal daar is nie (vgl 1 Konings 21).
Hierdie spreuk in Spreuke 22:28 is ’n belangrike teks om oor na te dink in ons land.