Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 1

Die boek Spreuke word met Salomo geassosieer omdat hy bekend was as ‘n wyse man (1 Kon 3-5). Twee bundels van sy spreuke is ook opgeneem in hierdie boek en beslaan 18 hoofstukke: Spreuke 10:1-22:16 en 25:1-29:27. Die res van die boek is egter deur ander wyses geskryf. Dit is oor ‘n hele paar eeue versamel.

Die spreuke in hierdie boek is kernagtige gesegdes wat uit antiteses en sinteses bestaan. Antiteses is teenstellings waar die spreuk uit twee teenoorgestelde begrippe langs mekaar bestaan. Sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Daar is ook langer uitgebreide gesegdes of gelykenisse en numeriese spreuke.

Hierdie spreuke vang lewenswaarhede of –wyshede vas sodat jy daaruit die beginsels van die lewe kan leer ken. Dit help jou ook om jou eie en ander se gedrag met groter onderskeiding te kan beoordeel, en met meer oorleg te kan leef (Spr 1:2).

Hierdie versameling God-gegewe oortuigings, oor die breë spektrum van die lewe, is daarom ‘n goudmyn van slagspreuke vir die lewe. Dit leer jou die geheim van die lewe coram Deo (voor God) ken, sodat jy met wysheid en oorleg kan leef (Spr 1:3) en die dwaasheid kan vermy (Spr 1:7). Dit is daarom ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en/of opvoeding te gebruik.

Met die waarhede en wyshede van die boek Spreuke as gids kan ook jy ‘n ekspert in die lewe word! Spreuke bou jou kapasiteit vir wyse gedrag.

Bybelteks(te)

1Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel.

2Dié spreuke is bedoel

om mense wysheid te leer en hulle te onderrig

sodat hulle sal weet

wanneer iemand verstandig praat.

3So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid.

4Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word,

jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree.

5Selfs wyse mense kan na die spreuke luister

en so tot dieper insig kom.

Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer

6om spreuke en sinspelings,

woorde en raaisels van wyse mense te begryp.

7Kennis begin met die dien van die Here;

dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.

SPREUKE 1:1-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die spreuke is versamel in bundels waarvan ses hulle weg tot in die boek Spreuke gevind het, soos ‘n mens telkens in die eerste vers van só ‘n bundel meegedeel word.

  1. 1.Die eerste bundel spreuke van Salomo – Spreuke 10:1-22:16
  2. 2.Die eerste bundel gesegdes van die wyses – Spreuke 22:17-24:22
  3. 3.Die tweede bundel gesegdes van die wyses­ – Spreuke 24:23-34
  4. 4.Die tweede bundel spreuke van Salomo – Spreuke 25:1-29:27
  5. 5.Die belangrike uitsprake van Agur – Spreuke 30:1-22
  6. 6.Die woorde van Lemuel se ma – Spreuke 30:1-31

Vir hierdie bundels is ‘n inleiding geskrywe (Spr 1:1-7) wat die doel van die boek uitspel en al die spreuke van die boek as uitvloeisel van die ontsag en eerbied vir God teken. Hierna is ‘n hele aantal wysheidsgedigte geplaas in die raamwerk van ‘n langerige gesprek waarin ‘n pa sy seun onderrig in tien “lewenslesse”, afgelei uit frases soos dié: ”My seun, jy moet luister …” (Spr 1:8-9:18).

‘n Hele paar van die spreuke in die boek Spreuke toon ooreenkomste met die wysheid van ander kulture en godsdienste uit daardie tyd, soos dit ook die geval is in die boeke Prediker en Hooglied. Daar is ‘n hele paar spreuke in Spreuke 22-23 wat ooreenkom met die Egiptiese Onderrig van Amenenope.

Spreuke 1:1-7

Spreuke beklemtoon in die eerste plek dat wysheid van God af kom. In alles moet jy dus met God begin. Spreuke wil jou ‘n ekspert in die lewe maak. Die boek wil jou kapasiteit vir wysheid bou, sodat jy met wysheid kan optree. Dit sal jou help:

  • Om te weet wanneer iemand verstandig praat (Spr 1:2);
  • Om ‘n sin vir regverdigheid te ontwikkel (Spr 1:3);
  • Om met oorleg op te tree (Spr 1:4);
  • Om tot dieper insig te kom (Spr 1:5-6);
  • Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (Spr 1:7).

Die klem op kennis en oorleg in vers 4 tref ‘n mens. Let op dat dit nie teoreties bedoel word nie, maar prakties. Dit gaan ook nie net oor kennis as sodanig nie, maar oor kennis en oorleg. Oorleg kan ook vertaal word met oordenking of beraadslaging. Dit veronderstel ’n deurdink van die implikasies en betekenis van kennis, en dit ook nie net op jou eie nie, maar saam met ander, soos Spreuke ook in hoofstuk 11:14 nog verder in terme van leiers en die gemeenskap sal beredeneer.

Kennis en oorleg is dus nodig om reg te kan optree. Hierdie tipe wysheid is vir die lewe saam met ander bedoel! Dieselfde geld ‘n sin vir regverdigheid en billikheid in vers 3. Dit is iets wat jy aanleer. Dit is iets wat jy beoefen. Dit is iets waarin jy groei. Maar dit is ‘n leerervaring wat met die gemeenskap te make het. Dit is immers waar jy die regverdigheid moet beoefen. En dit is die basis van ’n goeie en behoorlike opvoeding – dat jy tereg kom in die gemeenskap met God en met ander.

Die eerste ding wat ‘n mens moet leer om hierdie tipe wysheid te bekom, begin egter nie met die gemeenskap as sodanig nie, maar met die “vrees van die Here”, wat in vers 7 vertaal word met “die dien van die Here.” (1983-vertaling). Hierdie vrees kan ook vertaal word met ontsag vir die Here, wat beter oordra wat die vers bedoel.

Die tipe kennis wat Spreuke dink die moeite werd is, begin met die bewussyn en ontsag vir die Here. Sonder hierdie ontsag vir God raak jy eintlik self god en draai jou lewe te maklik net om jouself. Om die waarheid te sê, sonder ontsag vir God raak dit ook vir jou moeilik om na ander te luister, veral na die rolmodelle wat met ontsag vir God lewe.

Peterson vertaal daarom vers 7 met: “Start with God—the first step in learning is bowing down to God.” (The Message). Dit is ook die oorhoofse beginsel vir alles wat Spreuke gaan sê, en waarin die wysheid ook opgesluit lê. Soos kennis by die ontsag vir die Here begin, so begin wysheid ook daarmee (vgl Spr 9:10).

Spreuke moedig jou dus aan om beproefde wysheid te beoefen. Beproefde wysheid bring insig, onderskeiding en oorleg. Besluit om die beproefde wysheid van Spreuke jou gedagtes en gedrag te laat vorm hierdie jaar. Dra jou reis met die boek aan die Here op.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS