Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 1

Sielsreis

Bybelteks(te)

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.

EKSODUS 33:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Lewe deur die geloof

16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

2 KORINTIËRS 4:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag word jy uitgenooi, of uitgedaag, om op reis te gaan sonder om ʼn voet uit jou huis te sit. Dit is ʼn reis na die siel om bestekopname van jou geestelike landskap te doen. Jy hoef nie eens op jou eie te gaan nie. In die Ou Testament lees ons van God wat saam met sy volk reis, Jesus praat oor die koninkryk wat altyd by ons is, terwyl Paulus gereeld praat van die gemeenskap van gelowiges wat rondom ons is. Ons kan dus ʼn sielsreis op soek na ons geloof onderneem in die voetstappe van dié wat ons voorafgegaan het.

Waar begin ek? Deur ontslae te raak van alles wat jou aandag in beslag neem en jou gedagtes van jou reis aflei. Ignoreer die gemorspos, die katalogusse, die koerantartikels, en as jy kan, of veral, die televisie.

Verfris jou innerlike. Ontdek weer die vreugde van geloof. Wat maak jou opgewonde oor jou geloof? Wat dink jy sal God se hart verbly oor die manier waarop jy glo? Probeer om jou eerste liefde vir God te herwin. Gaan soek weer na die werking van Heilige Gees in jou siel. Paulus sê mos êrens: Moenie die Gees in jou blus nie.

Moenie verskoning maak vir jou geloof nie. As iemand jou vra wat belangrik is in jou lewe, sê sonder skroom: My geloof in Jesus Christus.

Die wonderlikste van so ʼn innerlike reis is om te ontdek dat al wys jou liggaam die tekens van die tyd, jou siel oor en oor hernu en verfris kan word.

Voorspoedige reis!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS