Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Rig jou geloofsoog op Hom – Dag 10

Maak oop julle harte

Bybelteks(te)

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

2 KORINTIËRS 6:11-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus het die inwoners van Korinte liefgehad en hy het sy liefde op verskillende maniere bewys. Eerstens het hy openhartig met hulle gepraat. Dit beteken hy het met hulle gekommunikeer en ook vir hulle vertel wat in sy eie lewe gebeur het. Hy het sy gevoelens, sy stryd, sy mislukkings, die druk waaronder hy was, en sy probleme met hulle gedeel, en vir hulle vertel hoe hy alles hanteer het. Dit is altyd ʼn bewys van liefde. Om jou hart vir ander oop te maak is om hulle lief te hê.

Baie van ons ondervind egter die teenoorgestelde, self in ons gemeentes. Mense dink dikwels dit is beter om jou gevoelens en dit wat in jou lewe gebeur vir jouself te hou om privaat te wees, ʼn toe boek. Ons wêreld leer ons om voor te gee totdat jy bereik het wat jy graag wil hê, maar om seker te maak niemand weet wat binne-in jou aangaan nie. Om ʼn Christen te wees beteken egter om die teenoorgestelde te doen en openhartig te praat.

Tweedens het Paulus sy liefde aan die Korintiërs bewys deur sy hart wyd oop te maak. Daar was geen voortrekkery nie, hy het die hele gemeente ingesluit. Hy het nie sy hart net vir die oulike, gawe mense tussen hulle oopgemaak nie. Hy het hulle almal liefgehad, die moeilikes onder hulle, diegene met probleme en selfs die hardekoppe met wie dit nie maklik was om mee oor die weg te kom nie. Paulus het geen voorwaardes gestel voordat hy iemand in die gemeente liefgehad het nie. Hy het almal aanvaar vir wie hulle was. Alhoewel hy hulle probleme, swakhede, hartseer, mislukkings en weerstand geken het, het hy hulle nogtans liefgehad.

Die probleem was dat hulle hom nie liefgehad het nie. Dit is ongelukkig vandag dikwels die probleem in gemeentes, tussen individue, in gesinne, families en in huwelike. Ons verstaan nie die wedersydse aard van liefde nie. Liefde is ʼn tweerigtingstraat. Liefde vra ʼn reaksie. Paulus het hulle liefgehad, maar hulle het hom nie liefgehad nie. Hulle was geslote, onsimpatiek en terughoudend teenoor hom. Hulle het hulle liefde van hom weerhou, vasgevang in hulle selfsugtige lewens.

Dit is hoekom Paulus by die Korintiërs pleit om hulle harte wyd oop te maak.

Dit is vir baie van ons moeilik om openhartig te praat. Dit laat ons weerloos voel. Uit hierdie les van Paulus leer ons om openhartig met almal te wees en sό deur die krag van Christus ons liefde vir ander en vir Hom te bewys.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS