Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 23

Die liefde van God

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 4

16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

1 JOHANNES 4:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 25

40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

MATTEUS 25:40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vroeg in die 20ste eeu was daar ʼn gospelsanger met die naam Charles McCallon Alexander. Hy was ʼn sanger wat saam met van die groot predikers van die tyd, soos dr. Reuben Archer Torrey en dr. John Wilbur Chapman, tydens hulle evangelisasiebyeenkomste opgetree het. Hulle is miskien vandag nie meer so bekend nie, maar hulle was legendes van hulle tyd.

Charles was getroud met Helen Cadbury, die dogter van die stigter van die Cadbury-sjokolade maatskappy. Hy was ʼn opgevoede Amerikaner en sy was ʼn baie ryk Britse aristokraat. Maar hulle was verenig in hulle liefde vir Christus en Helen het elke aand met die sendingbyeenkomste gehelp om mense se vrae te beantwoord en ook diegene gehelp wat hulle harte vir die Here wou gee.

Een aand tydens ʼn byeenkoms wat spesiaal vir dronklappe, straatmense en boemelaars gereël is, was Helen weer daar om te help met diegene wat raad kom vra het. ʼn Vrou met ongekamde hare en vuil, geskeurde klere het vorentoe gekom. Helen het probeer om iets van God se liefde vir haar te verduidelik, maar sy het net voor haar uitgestaar en duidelik nie verstaan nie. Al wat sy gesê het was: “Hy het jou lief, maar nie vir my nie.” Uiteindelik het dit gelyk asof sy begin begryp. Sy het skielik die aristokratiese Helen in die oë gekyk en gesê, “soen my”. Helen het dit dadelik gedoen en die vrou is daar weg. Maar sy het weer en weer na die byeenkomste gekom en Helen het vertel dat sy so bly was om haar daar te sien. Sy was “skoon gewas en netjies”.

Hierdie klein bewys van die Vader se liefde en aanvaarding het hierdie arme vrou gehelp om te verstaan dat die Here haar in alle omstandighede liefhet. Ons het ook soms daardie versekering nodig.

Maar, dink julle nie ons woorde sal meer gewig dra wanneer ons vriendeliker en meer opreg teenoor ander mense optree nie? Ons moet meer liefdevol in woord en daad wees.

Selfs die kleinste bewys van vriendskap kan baie help om die gesindheid te verander van diegene wat ʼn geestelike behoefte het en wat onverskillig teenoor die evangelieboodskap staan.

Miskien is daar iemand in jou kring wat moet hoor dat God liefde is: “… wie in die liefde bly, bly in God”. Hulle moet dit kan sien en beleef. Hulle moet kan voel dat God hulle liefhet wanneer jy uit vrye wil jou arms om hulle sit, vir hulle bid en onvoorwaardelik omgee, al is hulle vuil en verwaarloos.

Dit is van toepassing op ons almal, ongeag ons sosiale klas. Die liefde van God moet aan hulle verkondig word, maar soos in die geval van Helen Cadbury, is dit soms nodig om ook sigbaar te wees.

Onthou die woorde van Jesus in Matteus 25:40: “En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ ”

Laat die liefde van God al jou dade bepaal en laat sy liefde sigbaar wees vir almal met wie jy in aanraking kom, veral vir diegene vir wie dit moeilik is om lief te wees.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS