Nuwe begin – dag 4
Nuwe begin … met nuwe geloof in God se beloftes vir jou
Bybelteks(te)
NUMERI 23
Is daar beloftes wat God reeds lankal aan jou gegee het, maar wat nog nie in vervulling gegaan het nie? Bid jy dalk al lank vir ʼn baba, ʼn finansiële deurbraak, vir versoening met ʼn geliefde, verbetering in jou werksomstandighede of genesing van ʼn siekte? Aanvanklik was jy vuur en vlam terwyl jy gebid het, maar as jy eerlik moet wees – is die twyfelmonster besig om soms aan jou te knaag?
Luister na die woorde in Numeri 23:19: “God is nie ʼn mens dat Hy sou lieg nie, ʼn mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”
In die boek Promissio und Bund skryf Bertold Klappert: “God handel nooit anders met die mens as deur sy beloftewoord nie. En die mens kan nie met God anders omgaan as deur geloof in sy beloftewoord nie.”
God se Woord en beloftes staan vas. Abraham was immers al 100 jaar oud en sy vrou Sara 90 toe die belofte van ʼn baba in vervulling gegaan het. Moses was al 80 jaar oud toe God uit ʼn brandende bos met hom praat en die belofte vervul word dat Moses die volk van Israel uit Egipte sou bevry. En Gideon het met net 300 krygers die oorlog ingestap omdat God beloof het dat Hy hulle sou beskerm en aan hulle die oorwinning sou gee. Só het dit ook gebeur.
By God is daar geen beperkinge nie. Hoe groter die uitdaging, hoe groter is die deurbraak. Wanneer die twyfel dus weer begin knaag, gaan terug na God se Woord en skryf die beloftes neer wat van toepassing is op jou uitdagende situasie. Só kan jy jou twyfel beveg en wie weet, dalk nog in hierdie jaar jou deurbraak beleef! Sterkte.