Nuwe begin – dag 3
Nuwe begin … met nuwe doelwitte
Bybelteks(te)
SPREUKE 16
ʼn Bekende gesegde lui: “Die persoon wat nalaat om te beplan, beplan om te misluk.” Sonder duidelike doelwitte word jy soos iemand wat in sy of haar motor klim en sonder ʼn eindbestemming begin ry. Dit maak nie saak hoe spoggerig die motor is of hoe vinnig dit kan ry nie, na ʼn ruk sal die petroltenk leeg wees en die persoon sal steeds geen bestemming bereik het nie.
Dink vir ʼn oomblik waar jy oor ʼn jaar van nou af wil wees. Wil jy ʼn beter werk hê? Wil jy gewig verloor? Oorsee gaan? Beter verhoudings met jou familielede of kollegas by die werk hê? Toe, dink vir ʼn oomblik.
Besef jy dat die manier hoe jy vandag en elke dag hierdie jaar gaan aanpak, jou nader of verder van daardie doelwitte gaan bring? Hier is twee wenke wat jou kan help met die stel van doelwitte vir ʼn nuwe jaar:
Wenk 1: Vra God se leiding
In Spreuke 16:9 lees ons: “ʼn Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” Voordat jy dus jou doelwitte neerskryf, vra die Heilige Gees om jou te lei. Vra spesifiek dat God aan jou sal wys wat Hy vir jou vir die nuwe jaar beplan.
Wenk 2: Wees spesifiek
Stel doelwitte vir die jaar, maar breek dit af na doelwitte vir elke maand en dan elke week. Kleiner doelwitte maak dit makliker om die groter doelwitte te bereik. Gebruik gerus hierdie sewe kategorieë as ʼn vertrekpunt om doelwitte vir ʼn nuwe jaar te stel:
- 1.Werk (Wat wil jy in hierdie jaar in jou werkplek bereik?);
- 2.Sosiaal (By watter vriende moet jy meer gaan kuier? Vir watter van jou ongelowige vriende moet jy meer bid?);
- 3.Finansieel (Besluit watter gedeelte van jou salaris jy gaan spandeer om jou tiende te betaal, om te spaar of om armes te help);
- 4.Verhouding met God (Besluit watter tyd van die dag jy saam met God gaan spandeer – byvoorbeeld ʼn halfuur voor werk of ʼn tyd oor middagete?);
- 5.Familie (Besluit om gereeld vir jou familielede te bid en/of hulle gereeld te kontak);
- 6.Gesondheid (Besluit om gesonder te eet en meer oefening te kry);
- 7.Drome (Neem ʼn besluit om ten minste een van jou jare lange drome hierdie jaar te probeer verwesenlik).
Onthou, jy gaan dalk nie eensklaps daardie oortollige 10 kg afskud, ʼn 10 km wedloop kan hardloop of met jou onbeskofte kollega oor die weg kom nie. Tog, met dissipline, klein opofferinge en baie gebed, sal jy beleef hoe jy mettertyd makliker “nee” sê vir soetgoed, begin draf sonder ʼn miltsteek en selfs ʼn vriendskap met daardie onbeskofte kollega kan aanknoop. Kom ons neem die eerste stap en beplan ʼn onvergeetlike nuwe jaar! Sterkte.