Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 11

Nogtans sal Hy my beskerm

Bybelteks(te)

PSALMS 33

13Die Here kyk uit die hemel

en sien al die mense.

14Van die plek waar Hy as koning sit,

sien Hy almal wat onder op die aarde woon.

PSALMS 33:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 41

10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.

JESAJA 41:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 23

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

PSALMS 121

My hulp kom van die Here

1'n Pelgrimslied.

Ek kyk op na die berge:

waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

2My hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;

Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

4Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie

en Hy slaap nie.

5Die Here beskerm jou,

die Here bewaar jou van alle gevare.

6Bedags sal die son jou nie steek nie

en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

7Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,

jou lewe sal Hy beskerm.

8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,

nou en vir altyd.

Op ʼn dag het ʼn foto in Die Burger verskyn van ʼn eensame branderplankryer diep in die water naby Strandfontein buite Kaapstad. Die fotograaf vertel dat hy vir bykans vyf minute bo die branderplankryer in sy girokopter gehang het om dié foto te neem en dat hy in hierdie tyd bykans vyf haaie binne 100 m van die branderplankryer gesien het. Hoewel een van die haaie reg onderdeur die bord van die branderplankryer geswem het, was dié duidelik onbewus van hul teenwoordigheid.

Die vyand is daarop uit om te steel, slag en verwoes (Johannes 10:10). Hy soek na maniere om ons seer te maak en gebruik gereeld “haaie” om ons lam te lê. Hierdie “haaie” kom in verskillende vorms, insluitende uitdagings in die werkplek, dreigemente van bankrotskap, skinderpraatjies met die doel om ons karakter te beskadig, flirtasie deur iemand buite jou huwelik, konflik met ʼn geliefde of selfs ons kinders wat by die skool geboelie word. Die “haaie” vul ons met onrustigheid en vrees.

Een ding wat ons egter moet onthou is dat God, soos die fotograaf in die girokopter, ʼn ander perspektief op ons lewens het. Hy sien die “haaie” — selfs dié waarvan ons steeds onbewus is. In Psalm 33:13-14 lees ons:“Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.”

God sien nie net die haaie nie, Hy beskerm ons ook daarteen. In Jesaja 41:10 lees ons: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” In Psalm 23:4 lees ons: “Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.” Ook in Psalm 121 staan geskryf: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Mag ons hierdie week ingaan met die wete dat God ons Beskermer is. Hy plaas ʼn staalhok om ons om ons te beskerm wanneer dit voel asof ons diep in die water op die branderplank sit en gevreesde haaie reg op ons afswem. Kom ons dank Hom daarvoor. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS