Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 92

JESAJA 6–10, PSALM 149

Bybelteks(te)

Jesaja word geroep om profeet te wees

1In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6Een van die serafs het toe 'n gloeiende kool met 'n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

8Toe het ek die Here hoor vra:

“Wie kan Ek stuur?

Wie sal ons boodskapper wees?”

Ek het geantwoord:

“Hier is ek! Stuur my!”

9Toe het die Here gesê:

“Gaan sê vir hierdie volk:

Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie,

en kyk en kyk en tog niks sien nie.”

10Verder het Hy vir my gesê:

“Maak hierdie volk traag van begrip,

maak hulle ore doof

en hulle oë blind

sodat hulle nie met hulle oë sien,

met hulle ore hoor,

en met hulle verstand begryp

en hulle hulle bekeer en genees word nie.”

11Toe vra ek: “Tot wanneer, Here?”

En Hy het geantwoord:

“Totdat die stede verwoes

en sonder inwoners is,

totdat die huise verlate is

en die land in 'n puinhoop omskep is,

12totdat Ek, die Here, die mense ver weggevoer het,

en die land heeltemal verlate is.

13Selfs al is daar net 'n tiende oor,

sal die land nog verder verwoes word.

“Maar soos van 'n akkerboom of 'n terpentynboom

'n stomp bly staan wanneer dit afgekap word,

so sal daar vir die land 'n stomp oorbly:

die gewyde geslag.”

Immanuel sal gebore word

1In die tyd toe Agas, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, koning van Juda was, het die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka seun van Remalja 'n veldtog teen Jerusalem onderneem. Die veldtog het egter op niks uitgeloop nie.

2Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind.

3Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. 4Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie. 5Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang. 6Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

7Maar so sê Ek, die Here jou God:

Dit sal nie plaasvind nie,

dit sal nie gebeur nie,

8want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie, 9want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is.

Maar ook julle sal nie standhou

as julle nie in geloof standhou nie.

10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God 'n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

12Maar Agas het geantwoord:

“Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.”

13Toe sê Jesaja:

“Luister, geslag van Dawid!

Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

17“Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal 'n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

18“In dié tyd sal die Here fluit vir die vlieë ver langs die riviere van Egipte en vir die bye in Assirië. 19Hulle sal almal kom en gaan sit in die steil klowe en in die rotsskeure en op al die doringbosse en by al die drinkplekke.

20“In dié tyd sal die Here julle kaalskeer, die hare op julle koppe en op julle liggame, en ook julle baarde. Hy sal dit doen met 'n skeermes wat oorkant die Eufraat gehuur is, die koning van Assirië.

21“In dié tyd sal iemand wat net 'n jong koei en twee ooie aan die lewe hou, 22dikmelk hê om te eet danksy die oorvloed melk wat hulle gee. Dié wat in die land oorbly, sal almal dikmelk en heuning eet.

23“In dié tyd sal elke stuk grond waar 'n duisend waardevolle wingerdstokke gestaan het, oortrek wees van dorings en dissels. 24'n Mens sal daar net met 'n pyl en boog kan kom, omdat die hele land vol dorings en dissels sal wees. 25Uit vrees vir die dorings en dissels sal niemand meer êrens op die heuwels kan kom wat voorheen met 'n pik bewerk is nie. Dit sal net 'n plek wees waar 'n mens beeste injaag en wat deur kleinvee vertrap word.”

Jesaja se seun as teken

1Die Here het vir my gesê: Vat 'n stuk leer en skryf daarop met 'n pen: Plunder en roof is naby. 2Ek sal betroubare getuies vir My laat optree: Urija die priester en Sagaria seun van Jeberekja.

3Na 'n tyd het my vrou swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Die Here het toe vir my gesê: Noem hom: Plunder-en-Roof-is-Naby, 4want voordat die seuntjie pa of ma kan sê, sal die rykdom van Damaskus en die besittings van Samaria as buit na die koning van Assirië toe gevat word.

Die oordeel oor Juda

5Die Here het verder met my gepraat: 6“Omdat hierdie volk Siloag se kalm waters verwerp het en bang geword het vir Resin en vir Peka seun van Remalja, 7sal die Here die magtige vloedwaters van die Eufraat oor hulle laat kom: die Assiriese koning met al sy mag. Die Eufraat sal oor al sy oewers stoot, oor al sy walle spoel. 8Hy sal Juda binnedring, die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat hy skouerhoogte bereik. Hy sal sy vlerke uitsprei totdat dit jou land heeltemal oordek, Immanuel.”

9Doen maar kwaad, volke, julle sal inmekaar stort!

Luister, al julle ver plekke van die aarde!

Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!

Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!

10Smee maar planne, dit sal verydel word! Pleeg maar oorleg,

daar sal niks van kom nie! God is by ons!

11In sy groot mag het die Here my gewaarsku om nie die voorbeeld van hierdie volk te volg nie. Hy het gesê: 12Julle moenie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. 13Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees. 14Hý sal vir julle 'n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy 'n klip wees waarteen 'n mens jou stamp, 'n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy 'n vangnet en 'n strik wees. 15Baie van hulle sal struikel en val, verstrik en gevang word; hulle sal verpletter word.

16Bly eers stil oor my prediking,

laat my volgelinge vir hulleself hou wat ek hulle geleer het.

17Ek vertrou op die Here

wat Hom vir die nageslag van Jakob verberg,

op Hóm hoop ek.

18Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op Sionsberg woon.

19Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou 'n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg? 20Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms! 21Bedruk en honger sal hy deur die land trek. Wanneer die hongersnood hom tref, sal hy kwaad word en sal hy sy koning en sy God vervloek. Hy sal boontoe 22en ondertoe kyk, maar hy sal niks anders sien as benoudheid en donkerte nie, die volslae duisternis en donkerte waarin hulle gedryf is.

'n Seun is gebore

23Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.

1Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn.

2U het dié wat nie meer 'n nasie was nie, baie gemaak,

hulle blydskap groot gemaak.

Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly

soos mense bly is in die oestyd,

soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.

3Soos die dag toe Midian verslaan is,

het U die juk verbreek wat op die volk gedruk het,

die stok waarmee hulle geslaan is, waarmee hulle gedryf is.

4Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is,

en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,

deur die vuur verteer word.

5Vir ons is 'n Seun gebore,

aan ons is 'n Seun gegee;

Hy sal heers, en Hy sal genoem word:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors.

6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

Die Here spreek sy volk aan

7Die Here het 'n boodskap gestuur vir Jakob, vir Israel; Hy het hulle aangespreek:

8Die hele volk, Efraim en die inwoners van Samaria wat so trots en selfversekerd is, moet dit weet. Hulle sê: 9“Die huise van roustene het wel omgeval, maar ons sal met gekapte klip bou; die wildevyebome is wel afgekap, maar ons sal dit met seders vervang.”

10Die Here gee aan Resin se teëstanders die oorhand oor hom en hits sy vyande aan. 11Arameërs uit die ooste en Filistyne uit die weste het vir Israel met een hap verslind. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

12Die volk het hulle egter nie bekeer tot Hom deur wie hulle gestraf is nie, hulle het nie gevra na die wil van die Here die Almagtige nie.

13Daarom sal die Here vir Israel heeltemal vernietig op een enkele dag; Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny.

14Die leiers en die koning se gunstelinge is die kop,

die profete wat leuens verkondig, is die stert.

15Dié wat die volk moes lei, het hulle mislei,

en dié wat gelei moes word, is verwar.

16Almal is godloos en sleg, elke mond laster teen die Here. Daarom sal selfs die volk se jongmense die Here nie meer vreugde verskaf nie en sal Hy nie langer barmhartig wees oor die volk se weeskinders en weduwees nie. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

17Die goddeloosheid brand soos 'n vuur. Dit verteer dorings en dissels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookkolom verdwyn. 18Onder die straf van die Here die Almagtige brand die land weg, die volk het vuurmaakhout geword; die een mens bekommer hom nie oor die ander nie.

19Elkeen verslind links en regs maar kry nie genoeg nie. So verteer hy sy eie krag. 20Manasse veg teen Efraim, Efraim teen Manasse, en saam veg hulle teen Juda. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

1Ellende wag vir julle wat kwaad bevorder met die wette wat julle maak, wat met julle ordonnansies mense laat ly: 2julle verdraai die reg van die armes, julle ontsê die armes van my volk hulle regte, julle buit weduwees uit, julle plunder weeskinders.

3Wat gaan julle doen op die dag van afrekening wanneer die straf wat nou nog ver is, julle tref? Na wie toe sal julle hardloop om hulp, en waar sal julle julle besittings wegsteek? 4Al wat vir julle sal oorbly, is om te buig soos 'n gevangene of om te sterf. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

Teen Assirië

5Ellende wag vir Assirië,

Assirië, die stok waarmee Ek sal straf,

die werktuig van my toorn!

6Ek stuur hom teen die godlose nasie,

Ek beveel hom om op te trek teen die volk vir wie Ek kwaad is,

om hulle te beroof en te plunder,

om hulle te vertrap soos modder in die strate.

7Maar dit is nie wat Assirië in gedagte het nie,

ook nie wat hy beplan nie.

Sý bedoeling is om te vernietig, om baie nasies uit te roei. 8Hy vra: “Is al my vorste nie konings nie? 9Het dit nie met Kalne gegaan soos met Karkemis nie, met Hamat soos met Arpad nie, met Samaria soos met Damaskus nie? 10Ek het nog altyd die koninkryke van ander gode ingeneem, gode wie se beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaria. 11Sal ek nie met Jerusalem en sy gode kan doen wat ek met Samaria en syne gedoen het nie?”

12Maar wanneer die Here alles wat Hy op Sionsberg en in Jerusalem wil doen, afgehandel het, sal Hy die koning van Assirië straf oor sy trots en selfversekerdheid, 13want die koning van Assirië het gesê: “Ek het dit met my eie mag gedoen, met my eie insig en verstand. Ek het die grenslyne van volke verskuif en hulle voorrade geplunder; ek het hulle inwoners met my mag onderwerp. 14Asof ek my hand in 'n nes steek, het ek die rykdomme van volke gevat; soos iemand eiers wat rondlê, bymekaarmaak, so het ek al die lande van die aarde onder my verenig. Nie een het 'n vlerk geklap of sy bek oopgemaak en geskree nie.”

15Kan 'n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag? Kan 'n stok die een swaai wat hom optel, kan 'n lat die een oplig wat hom gebruik? 16Daarom sal die Here ons God, die Almagtige, die vernames van Assirië laat krepeer van ellende en sy besittings laat verteer deur 'n vuur wat aanhou brand.

17Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in 'n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer, 18en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig. 19Die bome wat in die bos, Assirië, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel.

Die oorblyfsel van Israel sal terugkom

20In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou. 21Daar sal 'n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob. 22Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel sal na die land toe terugkom.

Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos 'n vloed: 23Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg.

24Daarom, so sê die Here ons God, die Almagtige: My volk wat op Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriërs nie, vir dié wat vir julle vertrap het en slawe gemaak het van julle, soos Egipte gedoen het. 25My toorn teen julle sal nog net 'n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei. 26Die Here die Almagtige sal hulle met 'n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het.

27In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

Opmars en vernietiging van die Assiriërs

28Die Assiriërs oorval Aja; hulle trek deur Migron; in Mikmas bêre hulle hulle voorrade. 29Hulle trek oor die pas en sê: “Ons wil vannag in Geba kamp opslaan.”

Die inwoners van Rama bewe, dié van Gibea van Saul slaan op die vlug. 30Skreeu, mense van Gallim! Luister, inwoners van Lajesa! Arme Anatot! 31Die inwoners van Madmena vlug, dié van Gebim soek skuiling! 32Nog vandag sal die Assiriërs in Nob kamp opslaan, en daarvandaan sal hulle beduie in die rigting van die Sionsberg, die heuwel waarop Jerusalem lê. 33Maar dan sal die Here ons God, die Almagtige, die takke van die bos, Assirië, met geweld afkap. Die hoë bome sal afgekap word, die grotes sal val. 34Die Here sal die digte takke van die bos met 'n byl afkap; die Libanon sal val voor die magtige God.

Die Here is goed vir sy volk

1Prys die Here!

Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here,

sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars.

2Laat Israel hom verheug in sy Maker,

laat die volk van Sion jubel oor die Here hulle koning.

3Laat hulle sy Naam prys met koordanse,

laat hulle speel tot sy eer op tamboeryn en lier.

4Die Here is goed vir sy volk,

Hy kroon die hulpeloses met oorwinning.

5Sy troue dienaars juig oor sy mag,

jubel selfs as hulle op hulle beddens gaan lê.

6Die roem van God klink uit hulle mond,

en in hulle hand is die swaard, alkante geslyp,

7waarmee hulle die nasies sal verslaan

en die volke sal straf.

8Hulle sal die konings van daardie nasies met kettings vasbind,

hulle aansienlikes met ysterboeie,

9en die vonnis aan hulle voltrek soos dit vasgestel is.

Dit sal die triomf wees van al die troue dienaars van God.

Prys die Here!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS