Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 66

Rigters 6–10, Psalm 43

Bybelteks(te)

Gideon

1Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die mag van die Midianiete. 2Hulle het die Israeliete hard behandel, en daarom het hulle langs die bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly. 3Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste. 4Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie. 5Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. 6Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp.

7Toe hulle tot die Here roep om hulp teen die Midianiete, 8het Hy 'n man gestuur om onder die Israeliete as profeet op te tree, en hy het vir hulle gesê: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte laat wegtrek en Ek het julle uit die plek van slawerny bevry. 9Ek het julle gered uit die mag van Egipte en van almal deur wie julle verdruk is. Ek het hulle laat plek maak vir julle en Ek het hulle land vir julle gegee. 10Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”

11Daarna het 'n Engel van die Here gaan sit onder die groot boom in Ofra wat behoort het aan Joas die Abiësriet. Sy seun Gideon was besig om koring uit te slaan in 'n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete. 12Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

13Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.”

14Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”

15Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.”

16Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”

17Gideon het vir Hom gesê: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my 'n wonder dat ek seker kan wees dit is U, Here, wat met my praat! 18Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.”

Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.”

19Gideon het toe 'n bokkie gaan gaar maak, en van sestien kilogram meel het hy brood sonder suurdeeg gebak. Hy het die vleis in 'n mandjie gepak en die sous in 'n pan gegooi en vir die Engel van die Here gebring onder die groot boom. Toe Gideon dit naderbring, 20sê die Engel van God vir Gideon: “Vat die vleis en die brood sonder suurdeeg en sit dit op hierdie rots en gooi die sous daaroor.”

Hy het so gemaak, 21en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg.

22Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was, en hy het uitgeroep: “Ag, Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!”

23Toe sê die Here vir Gideon: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”

24Gideon het net daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem: “Die Here gee rus!” Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete. 25Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat 'n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af. 26Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.”

27Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen. 28Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul 'n brandoffer op die altaar wat gebou is. 29Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?”

Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!”

30Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.”

31Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy 'n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.”

32Daardie dag het hulle vir Gideon genoem Jerubbaäl, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy saak teen Gideon behartig, want dis hý wat Baäl se altaar afgebreek het.”

33In daardie tyd het die hele Midian en Amalek saam met ander mense uit die ooste bymekaargekom en deur die Jordaanrivier getrek. Hulle het in die Jisreëlvlakte kamp opgeslaan. 34Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem, en hy het die ramshoring geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg. 35Hy het ook boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur en hulle ook opgeroep om hom te volg, en hulle het almal bymekaargekom.

36-37Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.”

38En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, 'n hele kom vol water.

39Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.”

40Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

1Jerubbaäl, dit is Gideon, en al sy manne het vroegmôre klaargemaak en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van Midian was noord van Gideon s'n, in die vlakte by Waarsêershoogte.

2Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’ 3Jy moet vir die manskappe sê dié wat bewe en bang is, moet omdraai en van Gileadberg af padgee. Al die manskappe moet dit kan hoor.”

Twee en twintig duisend man het toe van die leër af padgegee en tien duisend het oorgebly.

4Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel. Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. As Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saamgaan’, moet hy met jou saamgaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een mag nie saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.”

5Toe het Gideon die manne afgevat water toe en daar het die Here vir hom gesê: “Elkeen wat water drink soos 'n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink.”

6Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Die res het gekniel om te drink.

7Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Die ander moet almal huis toe gaan.”

8Gideon-hulle het al die kos en die ramshorings gevat en toe het hy die ander almal huis toe gestuur. Hy het net die drie honderd by hom gehou.

Die kamp van die Midianiete was teenoor hom in die vlakte. 9Dié nag het die Here vir hom gesê: “Kom, gaan na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle in jou mag oor. 10Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan. 11Luister wat hulle sê, dan sal jy moed skep en hulle aanval.”

Gideon en sy slaaf Pura is toe sowat vyftig tree in die Midianiete se kamp in. 12Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see.

13Gideon het in die kamp ingekom net toe 'n man vir sy maat hierdie droom vertel: “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom 'n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die brood het die tent omgestamp en die tent het inmekaargetuimel.”

14Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas. God gee Midian en sy hele leër in Gideon se mag oor.”

15Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, het hy die Here gedank en na die Israeliete se kamp toe teruggegaan en gesê: “Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor.”

16Gideon het die drie honderd man in drie groepe verdeel en aan elkeen 'n ramshoring en 'n leë erdekruik met 'n fakkel daarbinne gegee. 17Toe sê hy vir sy manne: “Let mooi op wat julle moet doen: as ek by die onderpunt van die kamp kom, moet julle doen wat ek doen. 18As ek en almal by my die ramshoring blaas, moet julle almal wat rondom die kamp is, dit ook doen en dan moet julle uitroep: Vir die Here en vir Gideon!”

19Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike. 20Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!”

21-22Hulle het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy pos. Toe die drie honderd man die ramshoring blaas, het die hele kamp op die vlug geslaan, hulle het geskreeu en gehardloop, en toe het die Here dit bewerk dat hulle mekaar daar in die kamp doodmaak. Die kamp se mense het gevlug tot by Bet-Sitta na Sereda se kant toe, tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.

23Die Israeliete uit Naftali, Aser en die hele Manasse is toe opgeroep om die Midianiete te agtervolg. 24Gideon het boodskappers na die Efraimsberge toe gestuur: “Kom val vir Midian aan, beset die Jordaan tot by Bet-Bara voordat die Midianiete daar kom.”

Toe is die Efraimiete opgeroep, en hulle het die Jordaan beset tot by Bet-Bara. 25Hulle het twee leiers van die Midianiete gevang, Oreb en Seëb. Efraim het vir Oreb doodgemaak op die Orebrots en vir Seëb in die Seëbparskuip. Nadat Efraim die Midianiete klaar agtervolg het, het hulle die koppe van Oreb en Seëb na Gideon toe gebring wes van die Jordaan.

1Toe vra die Efraimiete vir Gideon: “Waarom het jy so gemaak met ons? Waarom het jy ons nie opgeroep toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?”

Die Efraimiete het teen hom uitgevaar, 2maar hy het vir hulle gesê: “Wat het ek gedoen in vergelyking met julle? Was die na-oes van Efraim se druiwe nie in hierdie geval baie beter as die volle oes van Abiëser nie? 3God het die leiers van die Midianiete, Oreb en Seëb, in julle mag oorgegee. Ek was nie in staat om te doen wat julle gedoen het nie.”

Eers tóé het hulle bui gesak.

4Daarna het Gideon by die Jordaan gekom en dit oorgesteek met die drie honderd man by hom. Hulle was moeg, maar hulle het aangehou om die vyand te agtervolg. 5Toe sê Gideon vir die mense van Sukkot: “Gee tog brood vir die manne wat by my is. Hulle is moeg en ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.”

6Maar die leiers van Sukkot het vir hom gevra: “Het jy al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou en jou leër moet brood gee?”

7Gideon het vir hulle gesê: “Wanneer die Here vir Sebag en Salmunna in my mag oorgegee het, sal ek julle kom stukkend skeur met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn.”

8Van daar af is hy verder na Pniël toe en hy het ook vir hulle kos gevra, maar die mense van Pniël het hom dieselfde antwoord gegee as dié van Sukkot. 9Toe sê hy vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, sal ek die toring in julle stad platslaan.”

10Sebag en Salmunna was toe in Karkor. By hulle was 'n leër van ongeveer vyftien duisend man. Dit was al wat oorgebly het van die leër van die mense uit die ooste; honderd en twintig duisend van hulle beste soldate het gesneuwel. 11Gideon het toe die Nomadepad ooste toe gevat, na Nobag en Jogboha toe. Die leër van die Midianiete was houtgerus en Gideon het hulle aangeval. 12Sebag en Salmunna het gevlug, maar Gideon het hulle agternagesit en die twee Midianitiese konings gevang. Hy het die hele leër met skrik vervul.

13Gideon seun van Joas is toe van die slagveld af terug oor Gerespas. 14Hy het 'n jong man uit Sukkot gevang en hom ondervra. Die jong man het toe vir hom die name van die sewe en sewentig amptenare en leiers van Sukkot opgeskryf. 15Gideon is toe na die mense van Sukkot toe en hy het vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my gespot het toe julle gesê het: Is Sebag en Salmunna al in jou mag dat ons vir jou moeë manne kos moet gee?”

16Toe het hy die leiers van die stad gevat en hulle 'n les geleer met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn. 17Hy het ook die toring van Pniël platgeslaan en die mense van die stad doodgemaak.

18Toe het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Watter soort mense is deur julle vermoor op Tabor?” en hulle antwoord: “Hulle was almal soos u, elkeen het soos 'n koningskind gelyk.”

19Gideon sê toe: “Hulle was my eie broers. So seker as die Here leef, ek sou julle laat bly lewe het as julle hulle nie vermoor het nie.”

20Toe beveel Gideon sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood!”

Maar die seun het nie 'n vinger verroer nie, want hy was 'n blote kind en hy was bang.

21Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Kom jy, bring jy ons om die lewe. 'n Man se krag lê in homself.”

Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom gevat.

22Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet oor ons regeer: jy, jou seun en sy nageslag. Jy het ons gered uit die mag van Midian.”

23Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.” 24Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my 'n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.”

25Die Israeliete het geantwoord: “Dit doen ons graag.”

Hulle het 'n doek oopgegooi en elkeen het 'n oorring uit sy buit daarop gegooi. 26Die gewig van die goue oorringe wat Gideon gevra het, was negentien en 'n half kilogram. Die maanversierings, oorbelle en pers klere van die Midianitiese konings was nie daarby gereken nie en ook nie die kettinkies rondom die kamele se nekke nie. 27Gideon het 'n efodbeeld van die goud gemaak en dit in sy stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op dié wyse ontrou geword aan die Here. Die beeld was vir Gideon en sy mense 'n valstrik.

28Die Midianiete was onderdanig aan Israel. Hulle het nie weer in opstand gekom nie, en daar was veertig jaar lank vrede in die land in die dae van Gideon.

29Jerubbaäl seun van Joas het na die oorlog teen Midian in sy huis gaan woon. 30Hy het sewentig seuns gehad, almal sy eie kinders, want hy het baie vrouens gehad. 31Ook sy byvrou uit Sigem het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Sy naam was Abimelek. 32Gideon seun van Joas is op hoë ouderdom oorlede, en hy is in Ofra begrawe in die graf van sy pa Joas die Abiësriet.

33Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin vereer. Hulle het vir Baäl-Berit as god aanvaar 34en die Here hulle God vergeet deur wie hulle gered is uit die mag van hulle vyande rondom hulle. 35Hulle was ook nie lojaal teenoor die gesin van Jerubbaäl, dit is Gideon, nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.

Abimelek

1Abimelek seun van Jerubbaäl het na Sigem toe gegaan, na sy ma se mense toe, en vir hulle en vir die hele familie gesê: 2“Vra vir al die leiers van Sigem: Is dit beter as al sewentig seuns van Jerubbaäl oor julle regeer of as net een oor julle regeer? Julle weet goed ek is een van julle.”

3Abimelek se familie het dit vir die burgers van Sigem gevra, en hulle was bereid om vir Abimelek te aanvaar, “want,” het hulle gesê, “hy is een van ons.”

4Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee, en daarmee het Abimelek vir hom leeglêers gehuur om sy volgelinge te wees. 5Hy is toe na sy pa se huis toe in Ofra en daar het hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, almal op een klip doodgemaak. Net Jotam, die jongste seun van Jerubbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip.

6Toe het al die burgers van Sigem en al die mense van Millo bymekaargekom en vir Abimelek gaan koning maak by die groot boom langs die klippilaar van Sigem. 7Dit is aan Jotam vertel en hy het op Gerisimberg gaan staan en vir hulle geskree:

“Luister na my, leiers van Sigem,

dan sal God na julle luister.

8“Die bome het op 'n dag gegaan

om vir hulle 'n koning te salf.

Hulle het vir die olyfboom gesê:

‘Wees koning oor ons!’

9Maar die olyfboom het vir hulle gesê:

‘Moet ek my olie prysgee

waarmee eer betoon word aan gode en mense?

Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

10“Toe sê die bome vir die vyeboom:

‘Kom, wees jý koning oor ons!’

11Maar die vyeboom sê vir hulle:

‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee?

Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

12“Toe sê die bome vir die wingerdstok:

‘Kom, wees jý koning oor ons!’

13Maar die wingerdstok sê vir hulle:

‘Moet ek my wyn prysgee,

my wyn wat gode en mense bly maak?

Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

14“Toe sê al die bome vir die doringbos:

‘Kom, wees jý koning oor ons.’

15En die doringbos sê vir hulle:

‘As julle my werklik wil salf

sodat ek koning oor julle kan wees,

moet julle almal in my skaduwee kom skuil.

As julle dit nie kan doen nie,

sal daar 'n vuur uitgaan uit die doringbos uit

en dit sal die seders van die Libanon verteer.’

16“Dink julle miskien julle het opreg en in goeie trou gehandel toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle reg opgetree teenoor Jerubbaäl en sy huis? Het julle hom behandel volgens wat hy verdien? 17My pa het in julle belang gaan oorlog maak, hy het sy lewe openlik in gevaar gestel, hy het julle uit die mag van die Midianiete bevry. 18Maar julle het vandag in opstand gekom teen hom en sy huis, en julle het sy sewentig seuns almal op een klip doodgemaak. En toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die burgers van Sigem net omdat hy julle familie is. 19As julle vandag opreg en in goeie trou gehandel het teenoor Jerubbaäl en sy huis, moet julle bly wees oor Abimelek en hy moet bly wees oor julle. 20Maar as dit nie so is nie, moet daar 'n vuur uit Abimelek uitgaan en die burgers van Sigem en die mense van Millo verteer. Daar moet ook 'n vuur uit die burgers van Sigem en die mense van Millo uitgaan en vir Abimelek verteer.”

21Jotam het toe gevlug. Hy het na Beër toe padgegee en daar gaan woon omdat hy bang was vir sy broer Abimelek.

22Abimelek het drie jaar lank oor Israel geregeer. 23Toe het God vyandskap laat kom tussen Abimelek en die burgers van Sigem, en hulle het teen hom in opstand gekom. 24God het dit oor Abimelek gebring oor die onreg wat hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God wou hulle dood wreek, en Hy het dié dinge oor die burgers van Sigem gebring omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25Die burgers van Sigem het teen Abimelek hinderlae opgestel op die bergtoppe, en hulle het almal wat verbykom, beroof. Dit is aan Abimelek vertel.

26Gaäl seun van Ebed en sy broers het daar verbygekom en in Sigem aangekom. Die burgers van Sigem het hom vertrou. 27Hy en sy mense het op 'n keer lande toe gegaan om druiwe te pluk en te pars. Toe het hulle begin feesvier in die tempel van hulle god en nadat hulle geëet en gedrink het, het hulle vir Abimelek begin verkleineer. 28Gaäl seun van Ebed het gevra: “En wie is Abimelek nogal, en wie is Sigem dat ons aan hom moet onderdanig wees? Moet Jerubbaäl se seun en sy goewerneur Sebul nie eerder aan die mense van Gamor, Sigem se voorvader, onderdanig wees nie? Waarom moet ons aan Abimelek onderdanig wees? 29As ek in bevel was van hierdie mense, sou ek vir Abimelek verjaag het.”

Gaäl het vir Abimelek gedaag: “Bring maar jou groot leër!”

30Toe Sebul die stadsgoewerneur verneem wat Gaäl seun van Ebed gesê het, het hy baie kwaad geword. 31Hy het 'n boodskap aan Abimelek in Torma gestuur: “Gaäl seun van Ebed en sy mense het na Sigem toe gekom en hulle sweep die stad teen jou op. 32Jy en jou manne moet vannag kom en in die veld 'n hinderlaag opstel. 33En môreoggend teen sonop moet jy die stad storm. Dan sal hy en die mense by hom teen jou optrek en kan jy vir Gaäl straf.”

34Abimelek en al sy manne het toe in die nag klaargemaak en op vier punte 'n hinderlaag teen Sigem opgestel. 35Toe Gaäl seun van Ebed op pad buitentoe by die stadspoort gaan staan, het Abimelek en sy manne juis in die hinderlaag opgestaan. 36Gaäl het die manne gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af.”

Maar Sebul sê vir hom: “Dis die skaduwee van die berg wat jy vir mense aansien.”

37Gaäl het weer met hom gepraat en vir hom gesê: “Kyk, daar kom mense van die middelpunt van die land af. Daar kom ook 'n afdeling van die groot waarsêersboom af.”

38Toe sê Sebul vir hom: “Hoe lyk dit nou met jou groot mond waarmee jy gesê het: ‘Wie is Abimelek nogal dat ons aan hom moet onderdanig wees?’ Is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Trek nou op en gaan veg teen hulle.”

39Gaäl is toe voor die burgers van Sigem uit en hy het teen Abimelek gaan veg. 40Hy het vir Gaäl op die vlug gejaag en Gaäl het vir Abimelek gevlug. Daar het baie mense gesneuwel by die stadspoort. 41Abimelek het in Aruma gewoon, en Sebul het vir Gaäl en sy mense verdryf en hulle kon nie in Sigem bly woon nie.

42Die volgende môre het die burgers van die omgewing dit vir Abimelek gaan vertel. 43Hy het sy manne gevat en in drie groepe verdeel en 'n hinderlaag in die veld opgestel. Toe hy die mense uit die stad sien uitkom, het hy hulle gestorm en verslaan. 44Abimelek en die leiers by hom het gestorm en by die poort van die stad gaan staan, en die twee ander groepe het gestorm en al die mense in die oop veld verslaan. 45Abimelek het daardie hele dag teen die stad geveg. Hy het dit ingeneem en al die mense daarin doodgemaak. Hy het die stad afgebreek en sout daaroor gestrooi.

46Toe al die burgers van Migdol-Sigem dit hoor, het hulle na die grafkelder in die tempel van El-Berit toe gegaan. 47Aan Abimelek is vertel dat al die burgers van Migdol-Sigem daar bymekaargekom het. 48Toe het hy met sy manne Salmonberg uitgeklim. Hy het 'n byl gevat, 'n boomtak afgekap en dit op sy skouer getel. Toe sê hy vir sy manne: “Julle het gesien wat ek doen. Doen dit ook gou!”

49Elkeen het toe vir hom 'n tak gekap en hulle het vir Abimelek gevolg. Hulle het dit teen die grafkelder opgestapel met die mense daarbinne, en dit aan die brand gesteek. So het hulle al die burgers van Migdol-Sigem doodgemaak, omtrent duisend mans en vrouens.

50Daarna is Abimelek na Tebes toe. Hy het dit beleër en ingeneem. 51In die middel van die stad was daar 'n sterk toring en al die mans en vrouens van Tebes het daarheen gevlug, al die burgers van die stad is daar in. Hulle het hulleself daarin toegesluit en op die dak van die toring gaan staan. 52Abimelek het by die toring gekom en wou dit bestorm, maar toe hy by die deur van die toring kom om dit aan die brand te steek, 53het 'n vrou 'n maalklip op sy kop gegooi en sy kopbeen verbrysel. 54Toe roep hy gou sy wapendraer en sê vir hom: “Trek jou swaard! Maak my dood. Hulle moenie van my kan sê 'n vrou het my doodgemaak nie!”

Sy wapendraer het hom toe met die swaard deurboor, en so is Abimelek dood.

55Toe die Israeliete sien Abimelek is dood, is hulle almal huis toe.

56So het God die onreg gestraf wat Abimelek sy pa aangedoen het toe Abimelek sy sewentig broers vermoor het. 57God het ook al die verkeerde dade van die mense van Sigem op hulle koppe laat afkom: die vloek wat Jotam seun van Jerubbaäl oor hulle uitgespreek het, het hulle getref.

Tola en Jaïr

1Na Abimelek het Tola na vore gekom om die Israeliete te red. Hy was 'n seun van Puwwa, seun van Dodo uit Issaskar, en hy het in Samir op die Efraimsberge gewoon. 2Hy was drie en twintig jaar lank die leier van Israel. Hy het gesterf, en hy is in Samir begrawe.

3Na hom het Jaïr uit Gilead na vore gekom en hy was twee en twintig jaar lank die leier van Israel. 4Jaïr het dertig seuns gehad en elkeen het op 'n jong donkie gery. Hulle het dertig dorpe besit en dit word nou nog die tentdorpe van Jaïr genoem. Die dorpe is in Gilead geleë. 5Jaïr het gesterf, en hy is begrawe in Kamon.

Jefta

6Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Baäls en die Astartes en die gode van Sidon vereer, en ook dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne. Hulle was ontrou aan die Here, hulle het Hom nie gedien nie. 7Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete en Hy het hulle oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete. 8Van toe af het die Amoriete die Israeliete in Gilead agtien jaar lank verdruk en mishandel. Gilead was oos van die Jordaan, in die gebied van die Amoriete. 9Die Amoriete het selfs die Jordaan oorgesteek en teen Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak en Israel swaar laat ly.

10Toe het die Israeliete tot die Here geroep: “Ons het teen U gesondig. Ons was ontrou aan ons God en ons het die Baäls gedien.”

11Die Here het vir die Israeliete gesê: “Toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne, 12die mense van Sidon, Amalek en Maon julle verdruk het en julle tot My geroep het, het Ek julle uit hulle mag gered. 13Maar julle was nou ontrou aan My, julle het ander gode gedien en daarom het Ek julle nie nou gered nie. 14Gaan roep tot die gode wat deur julle gekies is. Laat hulle julle red noudat julle swaarkry.”

15Maar die Israeliete het die Here geantwoord: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in u oë, maar red ons tog net vandag!”

16Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het 'n end gemaak aan hulle swaarkry.

17Die Ammoniete is opgeroep en hulle het kamp opgeslaan in Gilead. Die Israeliete het ook bymekaargekom en in Mispa kamp opgeslaan.

18Die leiers van Gilead het vir mekaar gevra: “Wie sal die oorlog teen die Ammoniete begin? Dié man moet die leier van al Gilead se mense word.”

Stuur u lig en u waarheid

1Laat tog reg aan my geskied, o God,

behartig tog my saak teen 'n godlose bende,

red my van vals en misdadige mense.

2Net U is my skuiling, my God;

waarom verstoot U my dan?

Waarom moet ek gebuk gaan

onder die smaad van die vyand?

3Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei

en my bring na u heilige berg,

na u woning!

4Laat my ingaan na die altaar van God,

die God oor wie ek wil jubel en juig,

dat ek U kan loof met die lier,

o God, my God!

5Waarom is ek so in vertwyfeling

en waarom kerm ek so?

Vertrou op God!

Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.

Hy is my helper en my God!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS