Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 65

Rigters 1–5, Psalm 3

Bybelteks(te)

Die verowering van die land

1Na die dood van Josua het die Israeliete die Here geraadpleeg. Hulle het gevra: “Wie van ons moet eerste teen die Kanaäniete gaan veg?”

2Die Here het geantwoord: “Juda moet gaan. Ek gee die land oor in sy mag.”

3Toe sê Juda vir sy broer Simeon: “Kom saam met my na die gebied toe wat aan my toegesê is, dan veg ons saam teen die Kanaäniete. Ek sal dan weer saam met jou gaan na jou gebied toe.”

Simeon is toe saam met hom.

4Juda het toe gaan veg, en die Here het die Kanaäniete en die Feresiete in Juda se mag oorgegee en hy het in Besek tien duisend man verslaan. 5Daar het hy op Adoni-Besek afgekom en teen hom geveg en die Kanaäniete en die Feresiete verslaan. 6Adoni-Besek het gevlug, maar Juda het hom agternagesit en hom gevang. Hulle het sy duime en groottone afgesny. 7Toe sê Adoni-Besek: “God het my nou die straf gegee wat ek verdien, want ek het sewentig konings se duime en groottone laat afsny, en hulle moes kos soek onder my tafel.” Juda het vir Adoni-Besek na Jerusalem toe gevat, en hy is daar dood.

8Juda het teen Jerusalem geveg en dit ingeneem. Hulle het sy inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek. 9Daarna het Juda gaan veg teen die Kanaäniete wat gewoon het op die Bergland, in die Suidland en in die Laeveld.

10Toe het Juda teen die Kanaäniete van Hebron gaan veg en vir Sesai, Agiman en Talmai verslaan. Hebron was vroeër bekend as Kirjat-Arba. 11Van hier af het Juda teen die mense van Debir gaan veg. Debir was vroeër bekend as Kirjat-Sefer.

12By daardie geleentheid het Kaleb beloof: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat vir Kirjat-Sefer aanval en inneem.”

13Otniël seun van Kenas, 'n jonger broer van Kaleb, het dit ingeneem, en Kaleb het sy dogter Aksa vir hom as vrou gegee. 14Toe sy by hom kom, het hy haar aangepor om vir haar pa landbougrond te vra. Sy het van haar donkie afgeklim en Kaleb het vir haar gevra: “Wat wil jy vir my vra?”

15Toe sê sy vir hom: “Gee my 'n stuk vrugbare grond. U het my die droë Suidland gegee. Gee my nou ook standhoudende water.”

Kaleb het toe vir haar fonteine in die hooggeleë deel en fonteine in die laaggeleë deel gegee.

16Die Keniete, afstammelinge van Moses se skoonpa, het saam met Juda uit die Palmstad getrek na die Judawoestyn toe. Dit was geleë in die Suidland by Arad. Hulle het by die volk daar gaan woon.

17Juda het met sy broer Simeon saamgespan en die Kanaäniete verslaan wat in Sefat woon. Hulle het die stad in puin gelê en dit Gorma genoem.

18-19Die Here was by Juda, en hulle het die Bergland in besit geneem. Maar Juda kon nie die inwoners van die Vlakte verslaan en hulle stede verower nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad. Hulle stede was Gasa, Askelon en Ekron, elkeen met sy grondgebied.

20Soos Moses beveel het, is Hebron aan Kaleb gegee, en hy het die drie nasate van Enak uit Hebron verdryf.

21Die Jebusiete het in Jerusalem gewoon, en die Benjaminiete het hulle nie verslaan nie. Hulle woon nou nog saam met die Benjaminiete in Jerusalem.

22Die Josefstam het na Bet-El toe opgeruk en die Here was by hulle. 23Hulle het verkenners na Bet-El toe gestuur. Bet-El was vroeër bekend as Lus. 24Die verkenners het 'n man uit die stad sien kom en vir hom gevra: “Wys ons tog hoe om in die stad te kom. Ons sal jou goed behandel.”

25Hy het vir hulle gewys hoe om in die stad te kom. Die Josefstam het toe die stad verower en sy mense doodgemaak maar hierdie man en sy hele familie gespaar. 26Hy is toe na die Hetiete toe en daar het hy vir hom 'n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam.

27Manasse kon nie die stede Bet-San en Taänak en hulle buitedorpe verslaan nie, ook nie die inwoners van die stede Dor, Jibleam en Megiddo en hulle buitedorpe nie. Die Kanaäniete was sterk genoeg om in daardie stede te bly woon. 28Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen maar nie die stede ingeneem nie.

29Ook Efraim het nie die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, verslaan nie. Hulle het in Geser by Efraim bly woon.

30Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verslaan nie. Die Kanaäniete het by Sebulon bly woon en moes dwangarbeid doen.

31Aser het nie die inwoners van Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob verslaan nie. 32Die mense van Aser het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, want Aser het hulle nie verslaan nie.

33Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verslaan nie. Hy het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes dwangarbeid doen vir Naftali.

34Die Amoriete het vir Dan berg-in gedryf en hom nie in die laagte laat kom nie. 35Die Amoriete was sterk genoeg om in Har-Geres, Ajalon en Saälbim te bly woon. Maar toe die Josefstam sterker geword het, moes die Amoriete dwangarbeid doen.

36Die grens van die Amoriete het by Skerpioenpas by die klip begin en het daarvandaan verder geloop.

1Die Engel van die Here het van Gilgal af na Bokim toe gegaan. Hy het gesê: “Ek het julle uit Egipte laat trek en julle gebring in die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal my verbond met julle nooit verbreek nie, 2maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Maar julle het My nie gehoorsaam nie. Waarom het julle dit gedoen? 3Daarom sê Ek vir julle: Ek sal nie hierdie nasies van julle af wegdryf nie. Hulle sal vir julle 'n strik word, en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word.”

4Toe die Engel van die Here dit alles vir die Israeliete gesê het, het die hele volk hard gehuil. 5Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Hulle het daar 'n offer aan die Here gebring.

6Nadat Josua die volk laat gaan het, het hulle die land gaan verower en daarna het elkeen na sy grond toe gegaan. 7So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien. Dit was ook nog so terwyl die leiers geleef het wat vir Josua oorleef het. Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here gedoen het om vir Israel te help. 8Josua, seun van Nun en dienaar van die Here, het honderd en tien jaar oud geword. Hy het gesterf, 9en hy is begrawe op sy grond in Timnat-Geres op die Efraimsberge noord van Gaäsberg. 10Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

Die Here stuur leiers om sy volk te lei

11Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien. 12Hulle het opgehou om die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte laat trek het, te dien. Hulle het ander gode begin dien, van die gode van die nasies in die omgewing. Die Israeliete het hierdie gode aanbid en die Here getart. 13Hulle het opgehou om die Here te dien en hulle het die Baäls en die Astartes gedien.

14Toe het die Here kwaad geword vir Israel en hulle oorgegee in die mag van roofbendes deur wie Israel beroof is. Die Here het hulle ook uitgelewer aan die vyande in die omgewing. Die Israeliete kon nie meer teen hulle vyande standhou nie. 15In watter rigting die Israeliete ook al gaan veg het, die Here het hulle teëgestaan. Dit is wat Hy voorheen vir hulle met 'n eed bevestig het. Die Israeliete het baie swaar gekry.

16Maar die Here het leiers na vore laat kom en dié het die volk gered uit die mag van die mense deur wie hulle beroof is. 17Die volk het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die volk was ontrou aan die Here en het ander gode aanbid en baie gou die pad van hulle voorvaders verlaat en ongehoorsaam geword aan die gebooie van die Here.

18Wanneer die Here vir hulle leiers na vore laat kom het, was Hy by die leiers en so het Hy die volk gered uit die mag van hulle vyande. So was dit so lank as die leier geleef het, want die Here het medelye gehad met sy volk wanneer hulle om hulp geroep het oor hulle vyande deur wie hulle verdruk is. 19Maar na die leier se dood het hulle nog erger as hulle voorvaders gehandel en ander gode aangehang en gedien en aanbid. Hulle het nie hulle verkeerde dade en hulle hardkoppigheid laat vaar nie.

20Dan het die Here kwaad geword vir die Israeliete en gesê: “Omdat hierdie volk hulle nie steur aan die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het en My nie gehoorsaam nie, 21sal Ek uit die nasies wat nie deur Josua voor sy dood oorwin is nie, nie verder 'n enkele mens verdryf om vir die Israeliete plek te maak nie. 22Ek wil hulle met hierdie nasies op die proef stel om te sien of die Israeliete so gehoorsaam sal wees aan my wil soos hulle voorvaders en daarvolgens sal lewe of nie.”

23Daarom het die Here hierdie nasies met rus gelaat en hulle nie dadelik verslaan en in Josua se mag oorgegee nie.

1Die Here het hierdie nasies met rus gelaat om die Israeliete met hulle op die proef te stel, dié Israeliete wat nie ondervinding gehad het van al die oorloë teen die Kanaäniete nie. 2Die Here wou hierdie Israeliete leer hoe om oorlog te maak, hulle wat dit nie voorheen ondervind het nie. Die volgende nasies is met rus gelaat: 3die Filistyne met hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die mense van Sidon en die Hewiete wat Libanonberg bewoon het, van Baäl-Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.

4Hulle is met rus gelaat om Israel met hulle te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here, die gebooie wat Hy hulle voorvaders deur Moses beveel het. 5Die Israeliete het toe gewoon tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 6Die Israeliete het met die dogters van hierdie nasies getrou en hulle dogters met hierdie nasies se seuns laat trou. Die Israeliete het hierdie nasies se gode gedien.

Otniël

7Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en die gewyde pale gedien. 8Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete. Hy het hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië en hulle was ag jaar sy onderdane.

9Toe het die Israeliete tot die Here geroep, en Hy het vir hulle 'n redder na vore laat kom wat hulle gered het. Hy was Otniël seun van Kenas, 'n jonger broer van Kaleb. 10Die Gees van die Here was op hom en hy het oor Israel geregeer. Otniël het oorlog gemaak teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië, en die Here het hom oorgegee in die mag van Otniël. Hy het vir Kusan-Risatajim verslaan.

11Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood.

Ehud

12Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle laat kry omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. 13Eglon het die Ammoniete en ook vir Amalek by hom laat aansluit, en hulle het die Israeliete gaan verslaan en die Palmstad verower. 14Die Israeliete was agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab.

15Toe het hulle tot die Here geroep om hulp, en Hy het 'n redder vir hulle na vore laat kom, Ehud seun van Gera, 'n Benjaminiet. Ehud was links, en die Israeliete het hom met die belasting gestuur na koning Eglon van Moab toe.

16Ehud het vir hom 'n swaard gemaak, 'n halwe meter lank en aan albei kante geslyp. Hy het dit aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak. 17Hy het die belasting oorhandig aan koning Eglon van Moab, 'n baie vet man. 18Nadat Ehud die belasting oorhandig het, het die koning die mense wat dit gebring het, laat vertrek, 19maar Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “Koning Eglon, ek het 'n geheime boodskap om vir u te gee.”

Toe sê die koning: “Laat ons alleen,” en al sy amptenare het van hom af weggegaan. 20Ehud het nader gekom na die koning toe waar hy gesit het in sy koel bovertrek wat net vir hom bedoel was, en vir hom gesê: “Ek het 'n boodskap van God vir u.”

Hy het toe opgestaan van sy troon af, 21en Ehud het sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek. 22Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul, sodat Ehud dit nie kon uittrek nie. Hy het toe deur 'n geheime uitgang 23en deur die voorportaal uitgegaan nadat hy die deur van die bovertrek toegetrek en gesluit het. 24Nadat hy uit is, het Eglon se amptenare gekom en toe hulle sien dat die deure van die bovertrek gegrendel is, het hulle gedink die koning is seker besig om hom te ontlas daar in die koel vertrek.

25Hulle het tot vervelens toe gewag, maar die koning het nie die deure van sy bovertrek oopgemaak nie, en toe hulle 'n sleutel vat en oopsluit, lê hulle koning daar dood op die vloer. 26En omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug. 27Toe hy daar kom, het hy die ramshoring op die Efraimsberge laat blaas. Die Israeliete het van daar af na hom toe gekom. Hy het hulle leier geword 28en vir hulle gesê: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.”

Hulle is toe saam met hom en hulle het die Jordaandriwwe na Moab toe beset en niemand daar laat deurgaan nie. 29By daardie geleentheid het hulle die Moabiete verslaan: omtrent tien duisend man, almal sterk en goeie soldate. Niemand het ontsnap nie.

30Moab is daardie dag deur Israel onderwerp, en daar was tagtig jaar lank vrede in die land.

Samgar

31Na Ehud het Samgar seun van Anat opgetree. Hy het ses honderd Filistyne doodgeslaan met 'n stok en so vir Israel gered.

Debora

1Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag. 3Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk.

Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. 4In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was 'n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. 6Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe. 7Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.”

8Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.”

9Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan 'n vrou uitlewer.”

Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan. 10Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek.

11In daardie gebied was daar 'n man met die naam Geber, 'n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af en sy tent opgeslaan by die groot boom in Saänannim naby Kedes.

12Daar is aan Sisera vertel dat Barak seun van Abinoam na Taborberg toe opgetrek het. 13Sisera het toe sy nege honderd strydwaens en al sy manskappe van Garoset-Gojim af laat kom na Kisonspruit toe.

14Toe sê Debora vir Barak: “Trek op, want vandag gee die Here vir Sisera in jou mag oor. Die Here gaan voor jou uit.”

Barak het toe van Taborberg af afgegaan, en die tien duisend man het hom gevolg. 15Die Here het Sisera en sy strydwabemanning en sy hele leër baie bang laat word vir Barak en sy mag, en Sisera het van sy strydwa af afgespring en te voet gevlug. 16Barak het die strydwaens en die leër agternagesit tot by Garoset-Gojim, en die hele leër van Sisera is afgemaai: daar het nie een van hulle oorgebly nie.

17Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer. 18Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!”

Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter 'n gordyn weggesteek. 19Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my 'n bietjie water om te drink.”

Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak. 20Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!”

21Jael die vrou van Geber het toe 'n tentpen gevat en met 'n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood.

22Barak was besig om vir Sisera te agtervolg, en Jael het na Barak toe gegaan. Toe sê sy vir hom: “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.”

Toe Barak by haar kom, lê Sisera daar dood met 'n tentpen deur sy slaap.

23Daardie dag het God vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder 24en hulle het al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom vernietig het.

Die oorwinningslied van Debora en Barak

1Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam gesing:

2“Julle moet die Here prys,

want leiers het opgetree in Israel,

die volk het hulle aangemeld vir die oorlog.

3Luister, konings,

gee aandag, regeerders!

Ek sing tot eer van die Here,

ek prys die Here die God van Israel met my lied:

4Toe U uit Seïr gekom het, Here,

toe U uit die veld van Edom opgetrek het,

het die aarde gebewe,

het die hemel reën gegee:

die wolke het strome water gegee.

5Die berge het weggesmelt voor die Here,

voor Hom uit Sinai,

voor die Here die God van Israel.

6“In die dae van Samgar seun van Anat,

in die dae van Jael was die hoofpaaie stil,

reisigers het ompaaie gebruik.

7Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn

en agteruitgegaan

totdat ek, Debora, na vore gekom het,

totdat 'n moeder in Israel na vore gekom het.

8Toe die volk nuwe gode vir hulle gekies het,

het daar oorlog gekom,

maar nie een uit Israel se duisende soldate

het die wapen opgeneem nie.

9“Ek staan by die leiers van Israel,

by dié wat hulle vrywillig aangemeld het.

Julle moet die Here prys,

10julle wat op bruin donkies ry,

julle wat op mooi saalkleedjies sit,

julle wat op reis is,

julle moet dit alles vertel!

11“Tussen die drinkbakke praat hulle daaroor,

besing hulle die oorwinning wat die Here behaal het,

sy oorwinning vir die boere van Israel.

“Die volk van die Here kom bymekaar by die stadspoorte,

hulle sing:

12‘Kom, Debora, kom,

kom, kom sing 'n lied!

Maak klaar, Barak seun van Abinoam,

kom maak vir jou krygsgevangenes!’

13“Dié van my volk wat oorgebly het,

het bymekaargekom by die leiers,

die volk van die Here het na my toe gekom,

al die dapper vegters:

14party was van Efraim, selfs ver uit Amalek uit,

saam met hulle Benjamin, almal uit jou volk,

party was van Makir, sy leiers het gekom,

en uit Sebulon dié wat die heersersepter dra,

15die leiers uit Issaskar was by Debora.

Issaskar was soos Barak,

in die laagte was Issaskar by Barak.

“By Ruben se suipplekke is daar baie beraadslaag.

16Waarom het jy by die saalsakke bly sit,

bly luister na die fluitspel by die veetroppe?

By Ruben se suipplekke is daar baie beraadslaag.

17Gilead het oorkant die Jordaan bly sit,

en waarom het Dan by die skepe gebly?

Aser het by die seestrand bly sit,

nie van sy kaai af geroer nie.

18Sebulon was nie bang vir die dood nie

en Naftali het die dood getrotseer op die hoogland.

19“Konings het gekom, hulle het geveg,

die konings van Kanaän het geveg

by Taänak, by Megiddo se waters,

maar hulle het nie silwer buitgemaak nie.

20Uit die hemel het die sterre geveg,

uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg.

21Die Kisonrivier het die vyand meegesleur,

die Kisonrivier, die rivier uit die voortyd.

“Hou moed! Wees sterk!

22“Die perde het met hulle hoewe gekap,

die sterkes het in jaaggalop voortgestorm.

23“Die Engel van die Here het gesê:

‘Julle moet vir Meros vervloek,

julle moet sy inwoners sonder genade vervloek,

want hulle het nie vir die Here kom veg nie,

nie vir Hom teen die dapper vegters kom veg nie.’

24“Geseënd is Jael vrou van Geber die Keniet,

meer geseënd as al die vrouens,

die vrouens wat in tente woon.

25Sisera het water gevra, sy het hom melk gegee,

in 'n koningsbeker het sy vir hom dikmelk gegee.

26In haar hand het sy die tentpen vasgevat,

in haar regterhand die werksman se hamer.

Sy het vir Sisera daarmee getref, sy kop papgeslaan,

sy het die slaap van sy kop verbrysel,

dit deurboor.

27By haar voete het hy neergesak, geval en bly lê,

by haar voete het hy neergesak en geval;

waar hy neergesak het, het hy geval, morsdood.

28“Sisera se ma het deur die venster gekyk,

sy het by die traliewerk gestaan en gekla:

‘Waarom talm sy strydwa om te kom,

waarom bly die gedreun van sy strydwawiele weg?’

29“Haar slimste hofdame antwoord haar

en sy sê die woorde agterna:

30‘Hulle het 'n groot buit in die hande gekry,

hulle verdeel dit:

'n meisie of twee vir elke soldaat;

gekleurde klere as buit vir Sisera;

gekleurde weefwerk as buit,

gekleurde doeke vir my nek,

dit is die buit!’

31“Mag al u vyande so omkom, Here,

maar mag dié wat vir U liefhet,

wees soos die son wat in sy volle krag skyn.”

Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land.

Hulp kom net van die Here af

1'n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.

2Ek het so baie vyande, Here!

Baie kom in opstand teen my.

3Daar is talle wat van my sê:

“Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela

4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante,

U herstel my eer en aansien.

5As ek na die Here roep,

antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela

6As ek gaan lê, slaap ek goed;

ek word ook weer wakker,

want die Here sorg vir my.

7Ek is nie bang vir tienduisende mense

wat van alle kante af op my toesak nie.

8Kom tog, Here,

help my, my God!

U het nog altyd my vyande se mag verbreek,

U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.

9Hulp kom net van die Here af.

U laat dit goed gaan met u volk.Sela

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS