Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 42

NUMERI 32–36, 1 KORINTIËRS 11

Bybelteks(te)

Die stamme oorkant die Jordaan

(Vgl. Deut. 3:12-20)

1Die stamme Ruben en Gad het groot troppe vee besit. Hulle het gesien dat die Jaser- en Gileadstreke goeie veewêreld is, 2en het toe vir Moses, die priester Eleasar en die volksleiers gaan sê: 3“Die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon 4wat deur die Here vir die volk Israel verower is, is goeie veewêreld, en ons het baie vee. 5As u dit goedvind,” het hulle gesê, “gee dan hierdie gebied vir ons as besitting en moet ons nie verplig om deur die Jordaan te trek nie.”

6Moses sê toe vir hulle: “Moet julle volksgenote gaan veg terwyl julle hier bly? 7Waarom wil julle die ander Israeliete ontmoedig om na die land toe te trek wat die Here vir hulle gegee het? 8So het julle voorvaders ook gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. 9Hulle het tot by Eskolspruit gegaan en die land verken, en toe die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land toe wou gaan wat die Here vir hulle gegee het nie. 10-11Dié dag het die Here baie kwaad geword omdat hulle Hom nie getrou gevolg het nie. Hy het met 'n eed verklaar dat die manne van twintig jaar en ouer wat uit Egipte getrek het, nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. 12Net Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua seun van Nun sal die land sien, want hulle het die Here getrou gevolg. 13Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het. 14En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel. 15As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.”

16Hulle het toe vir Moses gesê: “Ons sal hier krale bou vir ons kleinvee en stede vir ons gesinne, 17maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land. 18Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie. 19Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”

20Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg. 21Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het. 22Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting. 23Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal. 24Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”

25Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het. 26Ons vrouens en kinders, ons kleinvee en ons beeste sal hier in die stede van Gilead bly, 27maar al ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg soos u gesê het.”

28Moses het toe vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel 29gesê: “As die mense van Gad en Ruben, al hulle gewapende manne, saam met julle deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg, en die land aan julle onderwerp is, moet julle die Gileadgebied aan hulle as 'n besitting gee. 30Maar as hulle gewapende manne nie saam met julle gaan nie, moet hulle tussen julle in Kanaän 'n besitting kry.”

31Die mense van Gad en Ruben het toe geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het. 32Ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek na Kanaän toe, maar ons besitting moet hier oos van die Jordaan wees.”

33Moses het toe die koninkryk van koning Sihon van die Amoriete, en die koninkryk van koning Og van Basan, die hele streek met sy stede en die gebied daar rondom, aan die stamme Gad en Ruben en aan die halwe stam van Manasse seun van Josef gegee.

34Die mense van Gad het Dibon, Atarot, Aroër, 35Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, 36Bet-Nimra en Bet-Haram as vestingstede ingerig en ook krale vir hulle kleinvee gebou.

37Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim, 38Nebo, Baäl-Meon, waarvan die naam verander is, en Sibma. Hulle het die ander stede wat hulle herbou het, se name behou.

39Die afstammelinge van Makir seun van Manasse het na Gilead toe gegaan, dit verower en die Amoriete wat daar was, uitgedryf. 40Moses het Gilead toe aan die mense van Makir seun van Manasse gegee, en hulle het daar gaan woon.

41Jaïr, ook 'n afstammeling van Manasse, het die tentdorpe gaan verower, en hulle tentdorpe van Jaïr genoem.

42Nobag het Kenat en sy buitedorpe gaan verower, en die plek Nobag genoem, na homself.

Israel se kampplekke tussen Egipte en Kanaän

1Hier volg nou 'n oorsig van die Israeliete se kampplekke nadat hulle volgens stamindeling onder leiding van Moses en Aäron uit Egipte getrek het. 2Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van die kampplekke aangeteken. Dit is hoe hulle getrek het: 3Hulle het uit Rameses vertrek op die vyftiende van die eerste maand, die dag ná die paasfees. Deur die magtige dade van die Here het hulle voor die oë van die Egiptenaars weggetrek 4terwyl die Egiptenaars nog besig was om hulle eersgeborenes, wat deur die Here om die lewe gebring is, te begrawe. Dit is hoe die Here die oordeel oor hulle gode voltrek het. 5Die Israeliete het van Rameses af weggetrek en by Sukkot kamp opgeslaan. 6Hulle het Sukkot verlaat en kamp opgeslaan by Etam aan die rand van die woestyn. 7Hulle het Etam verlaat, en is toe terug na Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon, en het by Migdol kamp opgeslaan. 8Hulle het die omgewing van Pi-Hagirot verlaat en deur die Rietsee na die woestyn toe getrek. Na drie dae se trek deur die Etamwoestyn het hulle by Mara kamp opgeslaan. 9Hulle het Mara verlaat en by Elim aangekom. Daar was twaalf fonteine en sewentig palmbome, en hulle het daar kamp opgeslaan. 10Hulle het van Elim af teruggedraai en by die Rietsee kamp opgeslaan.

11Hulle het die Rietsee verlaat en in die Sinwoestyn kamp opgeslaan. 12Hulle het die Sinwoestyn verlaat en by Dofka kamp opgeslaan. 13Hulle het Dofka verlaat en by Alus kamp opgeslaan. 14Hulle het Alus verlaat en by Refidim kamp opgeslaan. Daar was nie drinkwater vir die volk nie. 15Hulle het Refidim verlaat en in die Sinaiwoestyn kamp opgeslaan. 16Hulle het die Sinaiwoestyn verlaat en by Kibrot-Taäwa kamp opgeslaan. 17Hulle het Kibrot-Taäwa verlaat en by Gaserot kamp opgeslaan. 18Hulle het Gaserot verlaat en by Ritma kamp opgeslaan. 19Hulle het Ritma verlaat en by Rimmon-Peres kamp opgeslaan. 20Hulle het Rimmon-Peres verlaat en by Libna kamp opgeslaan. 21Hulle het Libna verlaat en by Rissa kamp opgeslaan. 22Hulle het Rissa verlaat en by Kehelata kamp opgeslaan. 23Hulle het Kehelata verlaat en by Har-Sefer kamp opgeslaan. 24Hulle het Har-Sefer verlaat en by Garada kamp opgeslaan. 25Hulle het Garada verlaat en by Makhelot kamp opgeslaan. 26Hulle het Makhelot verlaat en by Tagat kamp opgeslaan. 27Hulle het Tagat verlaat en by Terag kamp opgeslaan.

28Hulle het Terag verlaat en by Mitka kamp opgeslaan. 29Hulle het Mitka verlaat en by Gasmona kamp opgeslaan. 30Hulle het Gasmona verlaat en by Moserot kamp opgeslaan. 31Hulle het Moserot verlaat en by Bene-Jaäkan kamp opgeslaan. 32Hulle het Bene-Jaäkan verlaat en by Gor-Gidgad kamp opgeslaan. 33Hulle het Gor-Gidgad verlaat en by Jotbata kamp opgeslaan. 34Hulle het Jotbata verlaat en by Abrona kamp opgeslaan. 35Hulle het Abrona verlaat en by Esjon-Geber kamp opgeslaan. 36Hulle het Esjon-Geber verlaat en by Kades in die Sinwoestyn kamp opgeslaan. 37Hulle het Kades verlaat en by Horberg aan die grens van Edom kamp opgeslaan.

38Op bevel van die Here het die priester Aäron teen Horberg uitgeklim en daar op die eerste van die vyfde maand in die veertigste jaar ná die Israeliete se uittog uit Egipte gesterf. 39Aäron was honderd drie en twintig jaar toe hy op Horberg dood is. 40Die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Suidland van Kanaän gewoon het, het gehoor dat die Israeliete aan die kom is. 41Die Israeliete het Horberg verlaat en by Salmona kamp opgeslaan. 42Hulle het Salmona verlaat en by Punon kamp opgeslaan. 43Hulle het Punon verlaat en by Obot kamp opgeslaan. 44Hulle het Obot verlaat en by Ije-Abarim aan die grens van Moab kamp opgeslaan. 45Hulle het Ije-Abarim verlaat en by Dibon-Gad kamp opgeslaan. 46Hulle het Dibon-Gad verlaat en by Almon-Diblatajim kamp opgeslaan. 47Hulle het Almon-Diblatajim verlaat en in die Abarimberge regoor Nebo kamp opgeslaan. 48Hulle het die Abarimberge verlaat en in die Moabsvlakte aan die Jordaan regoor Jerigo kamp opgeslaan. 49Daar in die Moabsvlakte aan die Jordaan, tussen Bet-Jesimot en Abel-Sittim, het hulle kamp opgeslaan.

50In die Moabsvlakte aan die Jordaan regoor Jerigo het die Here vir Moses gesê: 51“Praat met die Israeliete en sê vir hulle: As julle die Jordaan na Kanaän toe oorsteek, 52moet julle al die inwoners van dié land verdrywe. Vernietig al die afgodsbeelde wat hulle vir hulle uitgesny en gegiet het, en verwoes al hulle hoogtes. 53Neem die land in besit en gaan woon daar, want Ek gee die land aan julle as besitting. 54Verdeel die land deur loting volgens julle stamme. Gee meer grond aan 'n groter groep, en minder aan 'n kleiner groep. Elkeen kry sy deel waar die lot dit aanwys. Elke stam moet sy eie grond hê. 55As julle nie al die inwoners van die land verdryf nie, sal dié van hulle wat oorbly, soos splinters in julle oë en soos dorings in julle sye wees. Hulle sal teen julle oorlog maak oor die land waarin julle woon, 56en dan sal Ek aan júlle doen wat Ek aan húlle wou doen!”

Beskrywing van die landsgrense

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in Kanaän kom, moet die land wat vir julle as besitting aangewys is, die volgende grense hê:

3“Julle suidgrens is die grens van die Suidland, van die Sinwoestyn af tot teen Edom. Aan die oostekant begin hierdie grens by die suidelike punt van die Soutsee, 4daarvandaan draai dit suid van Skerpioenpas weg en loop dit deur tot by Sin. Daarvandaan gaan dit suid van Kades-Barnea tot by Gasar-Addar en dan verby tot by Asmon, 5waar dit wegdraai en met Egiptespruit langs loop tot by die see.

6“Julle wesgrens is die Groot See.

7“Julle noordgrens moet loop van die Groot See af: trek 'n lyn van daar af tot by Horberg in die noorde, 8en van daar af tot by Lebo-Hamat. Daarvandaan loop die grens na Sedad toe 9en verder tot by Sifron en Gasar-Enan. Dit is julle noordgrens.

10“Vir julle oosgrens moet julle 'n lyn trek van Gasar-Enan af tot by Sefam. 11Die grens loop dan van Sefam af tot by Ribla, oos van Ajin, en daarvandaan teen die oostelike oewer van die Gennesaretmeer en dan met 12die Jordaan langs tot by die Soutsee.

“Dit is die grense van julle hele land.”

13Moses het vir die Israeliete gesê: “Dit is die land wat julle deur loting moet verdeel, die gebied wat volgens bevel van die Here aan die nege en 'n halwe stamme gegee moet word. 14Die families in die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het reeds hulle grond gekry. 15Hierdie twee en 'n halwe stamme het hulle grond regoor Jerigo, oos van die Jordaan, gekry.”

16Die Here het ook nog vir Moses gesê: 17“Die manne wat die land vir julle moet verdeel, is die priester Eleasar en Josua seun van Nun. 18Stel een leier uit elke stam aan om die land te help verdeel. 19Die name van dié manne is:

    “Kaleb seun van Jefunne vir die stam Juda;
    20Samuel seun van Ammihud vir die stam Simeon;
    21Elidad seun van Kislon vir die stam Benjamin;
    22Bukki, seun van Jogli, leier van die stam Dan;
    23Ganniël, seun van Efod, leier van die stam Manasse seun van Josef;
    24Kemuel, seun van Siftan, leier van die stam Efraim;
    25Elisafan, seun van Parnak, leier van die stam Sebulon;
    26Paltiël, seun van Assan, leier van die stam Issaskar;
    27Agihud, seun van Selomi, leier van die stam Aser;
    28Pedael, seun van Ammihud, leier van die stam Naftali.”

29Dit is die manne aan wie die Here opdrag gegee het om Kanaän onder die Israeliete te help verdeel.

Stede vir die Leviete

1In die Moabsvlakte aan die Jordaan, regoor Jerigo, het die Here vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete hulle moet in die gebiede wat hulle besit, vir die Leviete stede gee om in te woon, en ook weiveld rondom die stede. 3Dan sal hulle stede hê om in te woon, en ook weivelde vir hulle beeste, hulle kleinvee en ander diere. 4Julle moet 'n strook van ten minste vier honderd en vyftig meter wyd buite die stadsmuur vir die Leviete as weiveld gee. 5Meet van die buitekant van die stad af aan die oostekant nege honderd meter, aan die suidekant nege honderd meter, aan die westekant nege honderd meter, en aan die noordekant nege honderd meter, met die stad in die middel. Dit sal hulle weiveld rondom die stede wees.

6“Ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet asielstede wees waarheen iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, kan vlug. Afgesien hiervan moet julle vir die Leviete nog twee en veertig stede gee. 7Julle moet vir hulle altesaam ag en veertig stede met hulle weivelde gee. 8Die stede wat julle in die gebied van elke stam aan die Leviete gee, moet volgens die grootte van die gebied wees wat elke stam gekry het: meer stede van die groter stamme en minder van die kleiner stamme.”

Asielstede

(Vgl. Deut. 19:1-13; Jos. 20:1-9)

9Die Here het vir Moses gesê: 10“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan na Kanaän toe trek, 11moet julle stede aanwys wat asielstede vir julle kan wees waarheen 'n persoon kan vlug wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het. 12Dit moet vir julle plekke wees waar julle veilig is teen die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene, sodat iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, nie hoef te sterf voordat hy sy saak voor die bevoegde vergadering gelê het nie. 13Die ses stede wat julle gee, sal vir julle asielstede wees. 14Julle moet drie asielstede oos van die Jordaan en drie in Kanaän beskikbaar stel. 15Die ses stede moet plekke van asiel wees vir Israeliete sowel as vir vreemdelinge en ander uitlanders tussen julle, sodat elkeen wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug.

16“As iemand 'n ander met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. 17As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. 18As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. 19'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. 20As iemand 'n ander uit haat stamp of hom doelbewus met iets gooi, sodat hy sterf 21of hom uit vyandskap met die vuis slaan, sodat hy sterf, moet so iemand doodgemaak word; hy is 'n moordenaar. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22“Maar as iemand sonder opset en sonder vyandskap 'n ander stamp of hom per ongeluk raakgooi 23of as iemand sonder dat hy kyk 'n klip gooi wat die dood kan veroorsaak, en dit 'n ander tref, sodat hy sterf, en hy wat gegooi het, het dit nie uit vyandskap of met verkeerde bedoelings gedoen nie, 24moet die bevoegde vergadering volgens hierdie bepalings uitspraak lewer tussen hom wat die dood veroorsaak het en die bloedverwant wat die dood wil wreek. 25Die vergadering moet die beskuldigde bevry uit die mag van die bloedverwant en hom terugstuur na die asielstad toe waarheen hy gevlug het. Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het. 26Maar as die een wat die dood veroorsaak het, hom waag buite die gebied van die asielstad waarheen hy gevlug het, 27en die bloedverwant wat die dood wil wreek, loop hom raak, mag die bloedverwant hom doodmaak sonder om skuldig te wees aan moord. 28Die man wat die dood veroorsaak het, moet in die asielstad bly tot die dood van die hoëpriester, en eers ná die dood van die hoëpriester kan hy na sy eie grond toe teruggaan.

29“Dit is 'n vaste voorskrif vir julle en vir julle nageslag, waar julle ook al mag woon. 30Enigeen wat die dood van 'n ander veroorsaak, mag slegs as moordenaar doodgemaak word op grond van die getuienis van meer as een persoon. Een getuie is nie genoeg om iemand met die dood te straf nie. 31Julle mag nie loskoopgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat die dood skuldig is nie. Hy moet beslis doodgemaak word. 32Julle mag ook nie loskoopgeld aanneem vir iemand wat na sy asielstad toe gevlug het en voor die dood van die hoëpriester na sy grond toe teruggekeer het nie. 33Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is. 34Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete.”

Bepalings oor die grond van Selofgad se dogters

1Die familiehoofde van die mense van Gilead seun van Makir, seun van Manasse uit die Josefstam, het met Moses en die leiers, die familiehoofde van die Israeliete, kom praat 2en gesê: “Toe die Here u beveel het om die land tussen die Israeliete te verdeel, het die Here u ook opdrag gegee om die grond wat ons stamverwant Selofgad toegekom het, aan sy dogters te gee. 3As hulle nou met mans uit ander Israelitiese stamme trou, sal hulle grond wegval uit ons familiebesitting en gevoeg word by dié van die stam waaraan hulle dan sal behoort. So sal die grond wat aan ons toegewys is, van ons weggeneem word. 4As die hersteljaar vir die Israeliete aanbreek, sal die dogters se grond gevoeg word by die stam waaraan hulle dan behoort, en so sal hulle grond van dié van ons families weggeneem word.”

5Op bevel van die Here het Moses toe die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “Wat die mense van die Josefstam sê, is reg. 6Die Here het ten opsigte van Selofgad se dogters beveel dat hulle met enigiemand mag trou wat hulle goedvind solank hulle binne die stamverband trou. 7Geen grond van die Israeliete mag van die een stam op 'n ander oorgaan nie, want elke Israeliet moet vashou aan sy deel van die stam se grond. 8Elke dogter wat grond besit in een van die Israelitiese gebiede, moet met iemand uit haar pa se stam trou, sodat die familiegrond vir elke Israeliet behoue bly. 9Geen grond mag van een stam op 'n ander oorgaan nie; elke Israelitiese stam moet aan sy grond vashou.”

10Die dogters van Selofgad het gedoen soos die Here vir Moses beveel het. 11Hulle almal, Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, het met hulle neefs aan vaderskant getrou. 12Hulle het getrou binne die stam van Manasse seun van Josef, en hulle grond het deel gebly van dié van hulle pa se stam. 13Dit is die gebooie en bepalings wat die Here deur middel van Moses die Israeliete beveel het in die Moabsvlakte aan die Jordaan, regoor Jerigo.

1Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.

Die verhouding tussen God, Christus, man en vrou

2Ek vind dit prysenswaardig dat julle in alles aan my bly dink en vashou aan die oorgelewerde leer soos ek dit aan julle oorgedra het. 3Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en 'n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus. 4Elke man wat bid of profeteer met iets op sy kop, doen sy hoof, Christus, oneer aan. 5Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos 'n vrou wie se hare afgeskeer is.

6As 'n vrou nie iets op haar kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit 'n skande is vir 'n vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op haar kop sit.

7'n Man behoort nie iets op sy kop te sit nie. Hy is die beeld en sieraad van God, maar die vrou is die sieraad van die man. 8Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man. 9Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. 10Daarom behoort die vrou 'n teken van die man se gesag oor haar op haar kop te hê ter wille van die engele. 11Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, 12want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God.

13Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir 'n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid? 14Die algemene opvatting is tog dat dit vir 'n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie, 15maar dat dit vir 'n vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as 'n bedekking.

16Ons het in die erediens nie 'n ander gewoonte nie, en die ander gemeentes van God ook nie. Dit sê ek vir iemand wat hieroor wil stry.

Onreëlmatighede by die nagmaal

17Noudat ek besig is om voorskrifte te gee – daar is dinge wat ek nie prysenswaardig vind nie. Dit is dat julle samekomste eerder kwaad doen as goed. 18Wat my veral hinder, is dat daar, soos ek hoor, verdeeldheid onder julle is wanneer julle as gemeente saamkom; en gedeeltelik glo ek dit ook. 19Daar moet trouens partyskappe onder julle wees sodat dit bekend kan word wie van julle die toets kan deurstaan.

20As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie, 21want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink. 22Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie, en wil julle die armes verneder? Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Hieroor prys ek julle beslis nie!

23Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

25Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

26Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Ongepaste deelname aan die nagmaal

27Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 28Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 29want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur 'n oordeel oor homself. 30Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 31As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 32Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie.

33Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. 34As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie.

Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

1 KORINTIËRS 11AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS