Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 213

DIE OPENBARING 13–18

Bybelteks(te)

Die dier uit die see

1En toe het ek 'n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. 2Die dier wat ek gesien het, het soos 'n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van 'n beer en sy bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. 3Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop. 4Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?”

5Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen. 6Hy het teen God begin laster, hy het God se Naam en sy woonplek en dié wat in die hemel bly, belaster. 7Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie. 8Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie.

9As iemand kan hoor, moet hy hierna luister!

10As iemand bestem is

vir gevangenskap, gaan hy in gevangenskap;

as iemand bestem is om met 'n swaard doodgemaak te word,

word hy met 'n swaard doodgemaak.

Hier het die gelowiges volharding en geloof nodig.

Die dier uit die aarde

11Toe het ek 'n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos 'n lam s'n, maar hy het soos 'n draak gepraat. 12Hy oefen al die gesag van die eerste dier namens hom uit.

Hy maak dat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, dié een waarvan die dodelike wond genees het. 13Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. 14Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei. Hy sê die bewoners van die aarde ook aan om 'n beeld op te rig vir die dier wat die litteken van die slagmes het en wat weer lewend geword het. 15Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie.

16Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naam.

18Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is 'n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.

DIE OPENBARING 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die honderd vier en veertig duisend op Sionsberg

1Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe. 2En ek het 'n geluid uit die hemel uit hoor kom wat soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer geklink het. Die geluid wat ek gehoor het, was ook soos dié van siterspelers wat op hulle siters speel. 3Hierdie mense sing 'n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie. 4Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. 5Uit hulle mond het daar nooit 'n leuen gekom nie. Hulle is onberispelik.

Die aankondiging van die oordeel

6Toe het ek 'n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het 'n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig, 7en hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”

8'n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.”

9'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, 10sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. 11Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”

12Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.

13Toe het ek 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.”

“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”

Die voltrekking van die oordeel

14Toe het ek 'n wit wolk gesien. Op die wolk het daar Iemand soos die Seun van die mens gesit. Hy het 'n goue kroon op sy kop gehad en 'n skerp sekel in sy hand. 15'n Engel het uit die tempel uitgekom en hard geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd het gekom om te oes. Die aarde is ryp vir die oes.”

16Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel ingesteek op die aarde, en die aarde is afgeoes.

17Toe het daar 'n ander engel uit die tempel wat in die hemel is, uitgekom. Hy het ook 'n skerp sekel gehad. 18Nog 'n ander engel het van die altaar se kant af gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en het met 'n harde stem geroep na die engel wat die skerp sekel het, en vir hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.”

19Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek. Hy het die wingerd op die aarde afgeoes en die oes in die groot parskuip van God se toorn gegooi. 20Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het.

DIE OPENBARING 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sewe engele met die laaste plae

1Toe het ek 'n ander groot en wonderbaarlike teken in die hemel gesien. Ek het sewe engele gesien wat die sewe laaste plae bring. Daarmee het die toorn van God sy einde bereik.

2En ek het iets soos 'n spieëlgladde see met vuur daarin gesien. Die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met siters wat hulle van God gekry het. 3Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam:

“Groot en wonderbaarlik is u dade,

Here God, Almagtige.

Reg en betroubaar is u optrede,

Koning van die nasies.

4Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie?

U alleen is heilig!

Al die nasies sal kom en U aanbid,

want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is.”

5Hierna het ek gesien: die tempel in die hemel, die woonplek van God, is oopgemaak, 6en die sewe engele wat die sewe plae bring, het uit die tempel uitgekom. Hulle het helder blink klere aangehad, en elkeen het 'n goue band om die bors gehad. 7Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, gevul met die toorn van God, van Hom wat tot in alle ewigheid lewe. 8Die tempel het vol rook geword vanweë die heerlikheid en die mag van God, en niemand kon in die tempel ingaan voordat die sewe plae van die sewe engele hulle einde bereik het nie.

DIE OPENBARING 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die eerste vier bakke

1Toe het ek uit die tempel 'n harde stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!”

2Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid.

3Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van 'n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan.

4Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword.

5Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê:

“U is regverdig,

U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het;

6want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet,

en U het hulle self bloed laat drink.

Dit het hulle verdien.”

7Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê:

“Ja, Here God, Almagtige,

betroubaar en reg is u oordele.”

8Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand. 9Die mense is deur 'n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.

Die vyfde bak

10Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn 11en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.

Die sesde bak

12Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om 'n pad vir die konings uit die ooste oop te maak. 13Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. 14Hierdie geeste, wat wondertekens doen, is bose geeste. Hulle gaan na die konings van die hele wêreld toe om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige.

15“Kyk, Ek kom onverwags soos 'n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.”

16Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

Die sewende bak

17Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. Van die troon in die tempel af het daar 'n stem hard uitgeroep: “Dit is verby!”

18Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook 'n groot aardbewing soos daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie, so 'n geweldige groot aardbewing was dit. 19Die groot stad het in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het inmekaargestort. God het ook nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy gloeiende toorn te gee nie. 20Al die eilande het verdwyn, en berge was daar ook nie meer nie. 21Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.

DIE OPENBARING 16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sedelose vrou

1Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou wys hoe die oordeel voltrek word oor die berugte sedelose vrou wat by baie waters bly 2en met wie die konings van die aarde onsedelik verkeer het. Die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid.”

3Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na die woestyn toe geneem. Daar het ek 'n vrou gesien wat op 'n helderrooi dier sit. Die dier was oortrek met godslasterlike name en het sewe koppe en tien horings gehad. 4Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid. 5Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het 'n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.” 6En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het.

Die betekenis van die dier

Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder. 7Die engel sê toe vir my: “Waarom verwonder jy jou? Ek sal jou vertel wat die verborge betekenis is van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en die tien horings het.

8“Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees.

9“Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings. 10Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort rukkie bly. 11Die dier wat eers was en nie nou is nie, is self die agste. Hy hoort by die sewe en gaan na die verderf toe.

12“Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking. 14Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

Die ondergang van die sedelose vrou

15Verder het hy vir my gesê: “Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale.

16“Die tien horings wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand. 17God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het.

18“Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen.”

DIE OPENBARING 17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die val van Babilon

1Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel uit sien afkom. Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig. 2Hy het met 'n sterk stem uitgeroep:

“Geval, geval het die grote Babilon.

Dit het die blyplek

van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere,

3omdat al die nasies

van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het.

Die konings van die aarde

het onsedelik met haar verkeer,

en die sakemanne van die aarde het ryk geword

uit haar grenselose weelde.”

4Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê:

“Gaan uit haar uit, my volk,

sodat julle nie aan haar sondes deel kry

en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.

5Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop,

en God het haar ongeregtighede onthou.

6Behandel haar

soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het.

In die beker waarin sy vir julle ingeskink het,

moet julle vir haar

twee keer soveel inskink.

7In die mate waarin sy gepronk

en in wellus gelewe het,

in dié mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen.

Sy sê by haarself:

‘Ek sit as koningin op my troon.

Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie.’

8Daarom sal al die plae haar op een dag tref:

pes, droefheid en hongersnood.

Sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”

Die konings huil oor haar val

9Die konings van die aarde wat onsedelik met haar gelewe en hulle daarin verlustig het, sal huil en te kere gaan oor haar wanneer hulle die rook sien soos sy verbrand word. 10Hulle sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word, en sal sê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!

Die groot stad, Babilon, die sterk stad!

In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!”

Die sakemanne huil oor haar val

11Die sakemanne van die aarde huil en kerm oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle goed te koop nie: 12goue goed en silwergoed, edelstene en pêrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer, 13kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense.

14Daar sal gesê word:

“Hierdie produkte

wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen.

Al die weelde en skittering

is nou vir jou verlore

en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.”

15Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm 16en sê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!

Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi,

en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!

17In een oomblik is soveel rykdom verwoes!”

Die seemanne huil oor haar val

Al die skeepskapteins en almal wat êrens heen vaar, die matrose en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan 18en het geskreeu toe hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle het gesê: “Watter stad kon met dié groot stad vergelyk word?”

19Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!

Die groot stad!

Almal wat skepe op see het,

het ryk geword van haar skatte. In een oomblik is sy verwoes!”

20Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete!

God het die oordeel

waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek.

Die stad se val is permanent

21Toe het 'n sterk engel 'n groot klip, so groot soos 'n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê:

“So, met geweld, sal Babilon,

die groot stad,

neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie.

22Die musiek van siterspelers

en sangers,

van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie.

Geen ambagsman

van watter ambag ook al sal ooit weer in jou gekry word nie.

Die gedreun van 'n meul sal nooit weer in jou gehoor word nie.

23Die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie.

Die stemme van bruid

en bruidegom sal nooit weer in jou gehoor word nie.

Jou sakemanne was die heersers van die aarde,

en deur jou bedrog

is al die nasies mislei.”

24Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is.

DIE OPENBARING 18AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS