Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 212

DIE OPENBARING 7–12

Bybelteks(te)

Die honderd vier en veertig duisend

1Daarna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie.

2Ek het ook 'n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met 'n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref, 3en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.”

4Ek het die getal gehoor van dié wat gemerk is: daar was honderd vier en veertig duisend. Hulle was uit elke stam van die volk Israel:

    5uit die stam van Juda is daar twaalf duisend gemerk,
    uit die stam Ruben twaalf duisend,
    uit die stam Gad twaalf duisend,
    6uit die stam Aser twaalf duisend,
    uit die stam Naftali twaalf duisend,
    uit die stam Manasse twaalf duisend,
    7uit die stam Simeon twaalf duisend,
    uit die stam Levi twaalf duisend,
    uit die stam Issaskar twaalf duisend,
    8uit die stam Sebulon twaalf duisend,
    uit die stam Josef twaalf duisend, en
    uit die stam Benjamin is daar twaalf duisend gemerk.

'n Groot menigte

9Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê:

“Amen! Die lof en die heerlikheid,

die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God

tot in alle ewigheid. Amen!”

13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”

14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”

Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en 'n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

DIE OPENBARING 7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sewende seël word oopgemaak

1Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent 'n halfuur lank. 2En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee.

3'n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met 'n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. 5Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing gekom.

Die eerste vier trompette

6Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas.

7Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. 'n Derde van die aarde is verbrand, 'n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand.

8Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos 'n groot berg wat brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword, 9'n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan.

10Toe het die derde engel op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op 'n derde van die riviere en op die waterbronne geval. 11Die ster se naam is Bitterals. 'n Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was.

12Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. 'n Derde van die son en 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle donker geword het. 'n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie.

13Toe het ek 'n arend hoog in die lug sien vlieg, en ek het hom met 'n harde stem hoor skreeu: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette gaan blaas.”

DIE OPENBARING 8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die vyfde trompet

1Die vyfde engel het toe op sy trompet geblaas. Ek het 'n ster gesien wat van die hemel af op die aarde geval het, en die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan hom gegee. 2Hy het toe die skag na die onderaardse diepte oopgemaak, en daar het rook uit die skag uit opgestyg soos die rook van 'n groot oond. Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword.

3Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. 4Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. 5Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig. Die pyn wat hulle veroorsaak, is soos die pyn as 'n skerpioen 'n mens steek. 6In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk.

7Die sprinkane het gelyk soos perde wat regstaan vir oorlog. Op hulle koppe was daar iets soos krone wat gelyk het asof dit van goud is. Hulle gesigte was soos die gesigte van mense. 8Hulle het lang hare gehad soos vrouens se hare, en hulle tande was soos dié van leeus. 9Hulle borskaste was soos ysterharnasse. Die gedreun van hulle vlerke was soos die gedreun van baie strydwaens met perde wat opruk vir oorlog.

10Hulle het sterte met angels soos dié van skerpioene; en in hulle sterte is hulle vermoë om die mense vyf maande lank kwaad aan te doen. 11Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion.

12Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna.

Die sesde trompet

13Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het 'n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. 14Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”

15Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mensdom dood te maak. 16Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog 'n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. 17En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. 18Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is 'n derde van die mensdom doodgemaak. 19Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense.

20Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. 21Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.

DIE OPENBARING 9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die klein boekie

1Toe het ek 'n ander engel, 'n sterke, uit die hemel uit sien afkom. Hy het 'n wolk om hom gehad en 'n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son en sy bene soos vuurpilare. 2In sy hand het hy 'n oop boekie gehad. Hy het toe met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan 3en met 'n harde stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geantwoord. 4En toe die sewe donderslae praat, wou ek dit opskrywe, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie.”

5Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig 6en 'n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met 'n eed bevestig: “Daar is geen tyd meer oor nie. 7Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word, soos Hy die blye tyding aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het.”

8Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.”

9Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee.

Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.”

10Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. 11Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig.”

DIE OPENBARING 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die twee getuies

1Toe is daar vir my 'n meetstok gegee wat soos 'n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. 2Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap.

3“Ek sal aan my twee getuies opdrag gee, en hulle sal, met rouklere aan, my boodskap twaalf honderd en sestig dae lank verkondig.”

4Hulle is die twee olyfbome en ook die twee lampe wat voor die Here van die aarde staan. 5As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen. 6Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.

7Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak. 8Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem. 9Mense van al die volke, stamme, tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n half dae lank daar sien lê en nie toelaat dat hulle begrawe word nie. 10Die bewoners van die aarde sal bly wees oor hulle dood en hulle daaroor verheug. Hulle sal vir mekaar geskenke stuur. Hierdie twee profete was immers vir die bewoners van die aarde tot 'n teistering.

11Ná die drie en 'n half dae het daar egter asem en lewe van God af in hulle gekom. Hulle het opgestaan, en groot vrees het almal oorval wat hulle gesien het. 12Hulle hoor toe 'n harde stem uit die hemel vir hulle sê: “Kom op hierheen!”

Toe het hulle in 'n wolk na die hemel toe opgevaar, en hulle vyande het dit gesien.

13Op daardie oomblik was daar 'n groot aardbewing, en 'n tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geraak en aan die God van die hemel die eer gegee.

14Die tweede “Wee!” is verby. Kyk, die derde kom gou.

Die sewende trompet

15Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het:

“Die koningskap oor die wêreld

behoort aan ons Here en sy Gesalfde,

en Hy sal as koning heers

tot in alle ewigheid.”

16Die vier en twintig ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het toe gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 17en gesê:

“Ons dank U, Here God, Almagtige,

U wat is en wat was,

dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers.

18Die nasies was woedend,

maar nou het die tyd vir u oordeel gekom.

Die eindtyd het aangebreek: die dooies word geoordeel;

aan u dienaars, die profete,

en aan die gelowiges,

dié wat U vrees, klein en groot, word hulle loon gegee;

en dié wat die aarde vernietig, word vernietig.”

19Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar het toe weerligstrale, dreunings, donderslae, 'n aardbewing en 'n groot haelstorm gekom.

DIE OPENBARING 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die vrou en die draak

1Toe het daar 'n groot teken in die hemel verskyn: daar was 'n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar.

3Daar het ook 'n ander teken in die hemel verskyn: daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. 4Sy stert het 'n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om 'n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring.

5Sy het 'n kind in die wêreld gebring, 'n seun, bestem om al die nasies met 'n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe, 6en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar 'n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.

7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

10Toe het ek 'n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het:

“Nou het ons God die redding gebring,

nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde!

Die aanklaer van ons medegelowiges

is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.

11Hulle het self die oorwinning

oor hom behaal danksy die bloed van die Lam

en die boodskap waarvan hulle getuig het;

en hulle het nie hulle lewens

so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.

12Daarom, hemel en dié

wat daarin bly,

verheug julle.

Maar vir julle, land en see,

wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede

en met die wete dat hy min tyd het.”

13Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. 14Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg.

15Die slang het toe 'n stroom water soos 'n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het.

17Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18Die draak het toe op die seestrand gaan staan.

DIE OPENBARING 12AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS