Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 188

Opvang Dag (Jakobus 1–5)

Bybelteks(te)

1Van Jakobus, 'n dienaar van God en die Here Jesus Christus.

Aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is.

Groete!

Geloof en wysheid

2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. 5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. 6Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. 7-8So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

Arm en ryk in die gemeente

9'n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, 10en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos 'n veldblom. 11As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan.

Versoeking en verleiding

12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

13Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 14Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.

16Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. 17Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 18Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.

Hoor en doen

19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20'n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Moenie volgens die uiterlike oordeel nie

1My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms 'n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook 'n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak 'n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vrymaak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Glo en doen

14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? 15Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met 'n ander pad laat ontkom het nie? 26'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Beheersing van die tong

1My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.

'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of 'n druiwestok vye nie. 'n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

Hemelse wysheid teenoor aardse en demoniese wysheid

13Is daar 'n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 14Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 15Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 16want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 18Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.

Waarskuwing teen wêreldliefde en hoogmoed

1Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? 2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. 3As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. 4Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is. 5Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? 6Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:

“God weerstaan hoogmoediges,

maar aan nederiges gee Hy genade.”

7Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Moenie kwaadpraat nie

11Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaadpraat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor. 12Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste?

Afhanklikheid van God

13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. 17As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.

Waarskuwing aan rykes

1En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. 2Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, 3julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos 'n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is. 4Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom. 5Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is. 6Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie.

Volharding

7Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. 11Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

Moenie 'n eed aflê nie

12My broers, dit is baie belangrik dat julle nie 'n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie.

Die gelowige gebed

13As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. 14As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. 15En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking. 17Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

19My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, 20weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat 'n menigte sondes vergewe word.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS