Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 172

PREDIKER 7–12

Bybelteks(te)

Wie wysheid het

1'n Goeie naam is beter as reukolie,

die sterfdag beter as die geboortedag.

2Dit is beter om na 'n huis toe te gaan waar daar gerou word

as na 'n huis waar daar feesgevier word.

Elkeen wat lewe, moet ter harte neem

wat die uiteinde van die mens is.

3Droefheid is beter as lag;

agter 'n somber gesig skuil 'n helder gees.

4Wie wysheid het, voel hom tuis waar daar gerou word,

die dwaas voel hom tuis waar daar plesier is.

5Dit is beter om vermaan te word deur iemand wat wysheid het,

as om besing te word deur 'n dwaas.

6Soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot,

so klink die gelag van 'n dwaas.

Ook hier kom dit tot niks.

7Afpersing maak van 'n verstandige mens 'n dwaas,

'n omkoopgeskenk vernietig die goeie oordeel.

8'n Voltooide taak is beter as een wat pas begin is.

Geduld is beter as hoogmoed.

9Moenie gou kwaad word nie:

dit is 'n dwaas wat gou kwaad word.

10Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie;

dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie.

11Wysheid saam met besittings is goed;

dit is 'n voordeel vir elkeen wat leef.

12Wysheid bied beskerming soos geld beskerming bied;

kennis en wysheid verryk die lewe van hom wat dit besit.

13Kyk na die werk van God:

wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?

14Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie.

15In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien:

'n regverdige gaan onder al doen hy reg,

'n goddelose geniet 'n lang lewe, al doen hy verkeerd.

16Moet jou nie te regverdig wil hou nie,

moenie aanspraak maak op meer wysheid as wat jy het nie;

waarom jou eie ondergang soek?

17Moenie aanhou verkeerd doen nie,

moenie dwaas wees nie;

waarom voor jou tyd doodgaan?

18Dit is goed dat jy aan die een vermaning vashou

en die ander ook nie laat los nie,

want hy wat vir God dien, gehoorsaam altwee.

19Wysheid gee aan dié wat dit het,

meer mag as wat tien maghebbers in 'n stad het.

20Daar is geen mens op aarde regverdig nie,

niemand wat net goed doen en nie sondig nie.

21Moet jou nie steur aan alles wat gesê word nie. Dan sal jy jou dit nie aantrek as jou slaaf jou verwens nie. 22Jy weet hoe baie kere jy self ander verwens het.

23Ek het alles met die hulp van wysheid getoets.

Ek wou wysheid bekom, maar dit het buite my bereik gebly.

24Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik,

baie diep; wie kan dit vind?

25Ek het my opnuut daaraan gewy om te wete te kom, na te vors en te ondersoek wat wysheid en insig is, en ek het toe vasgestel dat goddelose optrede dwaasheid is, dat onverstandige optrede geen doel dien nie. 26Ek het gevind:

'n vrou wat strikke stel vir mans,

is erger as die dood self.

Haar bekoorlikheid is 'n vangnet,

in haar arms is jy 'n gevangene.

Wie voor God reg lewe, vermy haar,

maar die sondaar laat hom deur haar vang.

27Dit het ek gevind, sê die Prediker,

toe ek een en een bymekaargesit het

om die regte insig te kry.

28Wat ek nog altyd soek,

het ek nie gevind nie.

Ek het wel uit duisend mense een betroubare man gevind,

maar so 'n vrou het ek onder hulle nie gevind nie.

29Die één ding wat ek wel gevind het, is dit:

God het die mense goed en opreg gemaak,

tog het hulle hulle besig gehou met allerlei slimmighede.

1Wie het werklik wysheid?

Wie kan verklaar wat gebeur?

Wysheid maak 'n mens vriendelik,

dit verander 'n strak gesig.

2Wat my betref: Gehoorsaam die bevel van die koning op grond van die eed van getrouheid voor God. 3Moenie voortvarend wees nie, moenie by 'n swak saak staan nie, gee liewer pad voor die koning, want hy doen wat hy goed vind. 4Sy woord is wet; wie kan van hom rekenskap eis?

5Wie 'n bevel gehoorsaam, beland nie in die moeilikheid nie. Wie wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel. 6Elke ding het sy tyd en sy manier. Daar is baie gevare wat die mens bedreig. 7Hy weet nie wat sal gebeur nie. Wie kan vir hom sê hoe dit sal wees?

8Niemand het die mag om die wind te stuit nie;

niemand het seggenskap oor sy sterfdag nie;

in oorlogstyd spring niemand vry nie.

Wie verkeerd doen, word nie deur sy verkeerde daad gered nie.

9Dit alles het ek gesien. Ek het aandag gegee aan alles wat in hierdie wêreld gebeur wanneer een mens mag oor 'n ander het om hom kwaad aan te doen.

10Ek het gesien slegte mense word begrawe, en verdwyn, terwyl dié wat van die tempel af kom en reg gehandel het, ook in die stad vergeet word.

Ook hier kom dit dus tot niks.

11Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen. 12Al doen die sondaar ook hoeveel kwaad en leef hy nogtans lank, ek weet: met die vromes wat vir God dien, sal dit goed gaan; 13met die goddelose wat nie vir God dien nie, sal dit nie goed gaan nie. Soos 'n vlugtige skaduwee wat gou verdwyn, sal die goddelose nie lank lewe nie. 14Ook hier lei wat op die aarde gebeur, tot niks: oor regverdiges kom wat goddeloses toekom, oor goddeloses kom wat regverdiges toekom.

Ook hierin, sê ek, kom dit tot niks.

15Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee.

16So het ek my daarop toegelê om agter te kom wat wysheid is en om te begryp waarmee mense hulle op die aarde besig hou sonder dat hulle dag of nag tot rus kom. 17Toe het ek al die werk van God begryp; die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Doen wat jou hand vind om te doen

1Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind:

God regeer oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen. Niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie.

2Een en dieselfde lot tref almal:

die regverdige en die goddelose,

die goeie, die reine en die onreine,

die een wat offer en die een wat nie offer nie.

Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar,

soos dit gaan met die een wat 'n eed aflê,

so gaan dit met hom wat weier om 'n eed af te lê.

3Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.

4Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop.

'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is.

5Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks;

daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet;

6dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog.

Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.

7Eet dus jou brood met vreugde,

drink jou wyn met 'n bly gemoed;

God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.

8Dra altyd wit klere,

versorg jou hare met olie.

9Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet,

dié lewe wat tot niks kom nie,

maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het,

die hele lewe wat tot niks kom nie.

Dit is wat jou toekom in die lewe,

wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld.

10Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen,

want in die doderyk waarheen jy op pad is,

is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.

11Verder het ek in hierdie wêreld gesien:

dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie,

nie die sterkstes wat die oorlog wen nie,

nie dié met wysheid wat kos het nie,

nie die verstandiges wat ryk word nie,

nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.

Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.

12Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie.

Soos visse wat gevang word in 'n net,

soos voëls wat gevang word in 'n wip,

so word die mens gevang as die teëspoed kom,

as dit hom skielik oorval.

Wysheid teenoor dwaasheid

13Ook hierdie stukkie wysheid het ek in hierdie wêreld gesien, en vir my was dit belangrik:

14Daar was 'n klein stadjie met min mense. 'n Magtige koning het teen die stad opgetrek, dit beleër en hom daar ingegrawe. 15In die stad was 'n arm man met baie wysheid, en hy het die stad deur sy wysheid gered. Maar niemand het die arm man onthou nie.

16Toe het ek gesê:

Wysheid is wel beter as krag,

maar die wysheid van die arme word geminag,

en niemand luister na wat hy sê nie.

17Die rustige woorde van dié wat wysheid het, word beter gehoor as die geskree van een wat heers oor dwase.

18Wysheid is beter as wapens,

maar een misstap kan baie wat goed is, bederf.

1Dooie vlieë laat salf stink en gis,

'n bietjie dwaasheid doen meer kwaad as wat wysheid en eer goed doen.

2Die verstand van een wat wysheid het, gee hom krag,

maar dié van 'n dwaas maak hom swak.

3Selfs waar die dwaas met die pad langs loop,

ontbreek sy verstand;

hy wys vir almal dat hy 'n dwaas is.

4As die heerser vir jou kwaad word,

moenie jou pos verlaat nie;

kalmte voorkom groot foute.

5Daar is 'n verkeerde ding wat ek in hierdie wêreld gesien het,

'n fout wat begaan word deur een wat gesag het:

6die dwaas kry hoë aansien

en die rykes ontvang geen eer nie.

7Ek het slawe te perd gesien

en vorste te voet op die grond soos slawe.

8Wie 'n sloot grawe, val self daarin,

wie 'n muur afbreek, word deur 'n slang gepik.

9Wie klippe afbreek, word daardeur beseer,

wie hout kap, moet versigtig wees.

10As die byl stomp word en nie geslyp word nie,

moet jy meer krag gebruik.

Dit betaal om jou verstand te gebruik.

11As die slang pik voor hy besweer is,

bereik die besweerder niks nie.

12Die woorde van iemand wat wysheid het, vind byval;

die dwaas vernietig homself met wat hy sê.

13Wat hy sê, begin met dwaasheid

en eindig met louter onsin.

14Die dwaas praat aanmekaar,

maar geen mens weet wat sal gebeur nie,

en niemand kan vir hom sê wat ná hom sal kom nie.

15Die dwaas put homself uit met wat hy doen;

hy weet nie eers hoe om by sy stad te kom nie.

Alles kos geld

16Ellende wag vir die land waarvan 'n slaaf koning is

en waar amptenare vroeg in die dag begin feesvier.

17Dit gaan goed met die land

waarvan die koning vir homself kan besluit

en waar amptenare op die regte tyd feesvier,

met selfbeheersing en nie met 'n drinkery nie.

18Luiheid laat die dak inval,

slap hande laat die huis lek.

19Eet bring plesier,

wyn vrolik die lewe op,

maar alles kos geld.

20Moenie die koning verwens nie, nie eens in jou gedagte nie,

moenie die ryke verwens nie, nie eens in jou slaapkamer nie;

die voëltjies kan oorvertel wat jy gesê het,

hulle kan jou woorde oordra.

Werp jou brood op die water

1Werp jou brood op die water,

eendag kry jy dit terug.

2Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke,

want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie.

3As die wolke vol water is,

reën hulle leeg op die aarde;

of 'n boom nou suid of noord val,

dit bly lê waar dit geval het.

4Wie die wind bly dophou, saai nie,

wie na die wolke bly kyk, oes nie.

5Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles.

6Saai jou saad in die môre,

gaan in die laatmiddag daarmee voort.

Jy weet nie watter van die twee sal 'n oes lewer nie

en of altwee ewe goed sal wees nie.

Dink aan jou Skepper

7Die lig is aangenaam,

dit is goed vir die oë om die son te sien.

8As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees.

Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is.

Alles kom tot niks.

9Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug

en jou jong dae ten volle geniet.

Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou,

maar moenie vergeet dat God

van jou rekenskap sal eis oor alles nie.

10Hou kommer uit jou hart

en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen.

Ook die jeug en die jonkheid kom tot niks.

1Dink aan jou Skepper in jou jong dae

voor die swaar dae kom,

die jare aanbreek waarvan jy sal sê:

“Ek het daar niks aan nie.”

2Dit is die tyd wanneer die son donker sal word

en ook die daglig, die maan en die sterre,

die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën.

3Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe,

die sterk manne waggel

en die malers ophou maal omdat hulle min geword het,

die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk,

4wanneer die deure na die straat toe toegemaak word,

die geluid van die meul dof word,

die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls begin sing

al hoor hy geen lied meer nie.

5Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte

en vir alles op die pad skrik,

die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan,

die sprinkaan homself moeisaam voortsleep

en die kapperkruid nutteloos word,

die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan

en dié wat treur, op die straat rondgaan,

6die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word

en die goue kruik breek,

die kruik by die fontein stukkend breek

en die wiel by die put stukkend val,

7die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was,

en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.

8Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.

Dien God en gehoorsaam sy gebooie

9Die Prediker was nie net 'n man met wysheid nie, hy het ook die volk onderrig. Hy het nagedink, nagevors en baie spreuke gemaak. 10Hy het daarna gestrewe om hom raak uit te druk en die waarheid getrou op te teken. 11Die woorde van mense met wysheid is soos skerp stokke, versamelde spreuke is soos spykers wat ingeslaan is. Hulle is deur een Herder gegee.

12Die belangrikste van alles is: My seun, wees versigtig! Daar kom nie 'n einde aan die skryf van baie boeke nie, te veel studie ooreis die liggaam. 13Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. 14God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS