Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 136

Opvang Dag (1 TIMOTEUS 1–6)

Bybelteks(te)

1Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop.

2Aan Timoteus, my eie kind in die geloof.

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Waarskuwing teen vals leerstellings

3Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. 4Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee. 5Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit 'n rein hart, 'n goeie gewete en 'n opregte geloof kom. 6Daar is mense wat hiervan afgedwaal het en in 'n vrugtelose gepraat verval het. 7Hulle wil leermeesters in die wet wees, maar hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.

8Ons weet dat die wet goed is as 'n mens dit op die regte manier gebruik. 9'n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, 10ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is. 11Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.

Dank vir die genade van God

12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

18Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. 19Hou vas aan die geloof en behou 'n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. 20Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.

1 TIMOTEUS 1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Onderrig oor die gebed

1Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.

Pligte van mans en vroue in die gemeente

8Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met 'n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. 9Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11'n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. 13Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. 14Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en 'n heilige lewe, en daarby beskeie bly.

1 TIMOTEUS 2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die ouderlinge van die gemeente

1Dit is 'n waar woord: as iemand graag ouderling wil wees, begeer hy 'n voortreflike werk.

2'n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; 3hy moenie aan drank verslaaf of 'n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. 4Hy moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. 5Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? 6Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland. 7Ook by die mense buite die gemeente moet hy as 'n goeie man bekend staan, sodat daar nie praatjies oor hom ontstaan en hy in 'n strik van die duiwel val nie.

Die diakens van die gemeente

8Net so moet diakens ook manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie en nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie. 9Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou. 10Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien.

11Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar.

12'n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer. 13Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself 'n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.

Die geopenbaarde waarheid van ons geloof

14Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 15Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. 16En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is:

As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig

dat die reg aan sy kant is,

aan die engele het Hy verskyn;

aan die heidennasies is Hy verkondig,

in die hele wêreld is Hy geglo,

en in heerlikheid is Hy opgeneem.

1 TIMOTEUS 3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die afvalligheid in latere tye

1Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. 2Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. 3Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. 4Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, 5want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.

'n Goeie dienaar van Christus Jesus

6As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het. 7Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. 8Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. 9Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word.

10Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo.

11Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer. 12Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. 13Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. 14Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het. 15Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien. 16Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.

1 TIMOTEUS 4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Herderlike vermaning

1'n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, 2die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid.

Die weduwees

3Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. 4Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God.

5'n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede. 6Maar 'n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. 7Skerp ook hierdie dinge in, sodat almal onberispelik kan wees. 8As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as 'n ongelowige.

9'n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. 10Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon.

11Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou. 12Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het. 13Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie. 14Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie. 15Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het.

16As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is.

Die ouderlinge

17Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, 18want die Skrif sê: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.”

19'n Beskuldiging teen 'n ouderling moet jy nie aanneem nie, tensy dit deur twee of drie getuies bevestig word. 20Dié wat verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word.

Ander opdragte

21Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus en die uitverkore engele om jou aan hierdie voorskrifte te hou sonder vooroordeel of partydigheid.

22Moenie iemand oorhaastig die hande oplê en jou so aan die sondes van 'n ander medepligtig maak nie. Sorg dat jy onberispelik bly.

23Moenie langer net water drink nie. Gebruik 'n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.

24Party mense sondig so openlik dat hulle sondes hulle vooruitloop na die oordeel toe. By ander kom die sondes eers later aan die lig. 25So is dit ook met goeie dade: almal kan dit sien. En dié wat nie sigbaar is nie, kan nie verborge gehou word nie.

1 TIMOTEUS 5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die slawe

1Gelowiges wat as slawe onder 'n juk staan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaadpraat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. 2Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde.

Vals leer en ware rykdom

Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp. 3As iemand 'n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4is hy verwaand en weet hy niks. Hy het 'n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. 6Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Die goeie stryd van die geloof

11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

20Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. 21Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.

Die genade sal by julle wees!

1 TIMOTEUS 6AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS