Bible Society of South Africa

‘n Nuwe begin – Dag 5

Vrede met God in swaarkry.

Bybelteks(te)

Die heerlikheid wat kom

18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

ROMEINE 8:18-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

ROMEINE 8:24-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie

31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?

ROMEINE 8:28-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?

ROMEINE 8:33-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

ROMEINE 8:38-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die afgelope paar dagstukkies het ons gekyk na die onvermydelike lyding, swaarkry en vervolging wat gelowiges te beurt val. Dit is egter nie swaarkry ter wille van swaarkry nie, maar hou die belofte van geestelike groei en beloning in.

In Romeine 8:20-21 wys Paulus ons op die heerlikheid waarna die mens en die skepping uitsien as hierdie aardse lyding vir eens en vir altyd iets van die verlede sal wees. Veral die skepping sug en verlang vurig dat die kinders van God bekend gemaak sal word. Jy sien, in óns bekendmaking sal die skepping self ook vrygemaak word van verganklikheid en sal dit ook die vryheid smaak wat die heerlikheid van God se kinders sal kenmerk.

 Hy fokus daarna op ons wat die Gees ontvang het: Ons is ook sugtend terwyl ons uitsien na die dag van bevryding en bekendmaking, maar ons bly hoop (Romeine 8:24,25).

Op dae wat ons sukkel om volhardend te bly hoop, los Hy ons nie alleen nie: “So kom die Gees ons ook in ons swakheid te hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie” (Romeine 8:26).

Ongeag slegte dinge wat met ons gebeur, kan ons vir seker weet dat “alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet” (Romeine 8:28). Hoe dan anders? Hy hét ons immers vooruit gekies en bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word (Romeine 8:29), maar meer nog – ons is reeds vrygespreek en verheerlik (Romeine 8:30).

Deur ‘n paar kwelvrae en antwoorde daarop, beklemtoon Paulus God se onveranderlike en liefdevolle verhouding met ons:

“Wàt sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf – meer nog: Dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.” Romeine: 31,33-34 (BDV)

En dan raak hy die hart van God se wese aan as hy vra: “Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Ek is immers daarvan oortuig dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.”

Romeine 8:35,38

Kortkom, te midde van jou beproewings en swaarkry, staan God se liefde vir jou onwrikbaar vas! Én Hy staan gereed om jou uit te help!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS