Mense betrokke by die geboorte van Jesus – Dag 10
Koning Herodes
Bybelteks(te)
MATTEUS 2
Die kindermoord
Ek het nog altyd hierdie moord van die seuntjies jonger as twee jaar as een van die mees ontstellende gebeure in die Bybel ervaar. Watter soort koning beveel ʼn slagting van onskuldige kinders?
Daar bestaan egter genoeg historiese bewyse van Herodes se karakter wat ʼn mens laat besef dit is presies die soort regeerder wat hy was. Hy het op ʼn stadium ʼn swaer, drie van sy seuns en een van sy vroue laat doodmaak omdat hy vermoed het dat hulle ʼn komplot teen hom smee. Keiser Augustus het glo op ʼn keer gesê: “Dit is beter om Herodes se vark te wees as sy seun”.
So aaklig soos wat dit ook al mag wees, vertel Matteus ons hierdie verhaal om ons te herinner aan die geestelike konflik wat voortdurend om ons woed. Dit is ʼn bewys dat baie mense die oorlog wat die duiwel teen God voer, sal lei en dit herinner ons ook daaraan dat God nie beloof het om ons van die duiwel se boosheid in hierdie wêreld te spaar nie. Paulus sê: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.” (2 Timoteus 3:12).
Laat God ons dus aan ons eie lot oor? Nee, God bly nie net stil, of is te besig of gee nie om nie. Die vrede van God wat ons in sy Seun Jesus Christus ontvang, help ons om die chaos van ons huidige wêreld te verduur. God se vrede is nie afwesig in konflik nie — dit is die antwoord vir enige konflik. Onthou Jesus se woorde toe Hy gesê het: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Johannes 16:33).