Mense betrokke by die geboorte van Jesus – Dag 1
Sagaria
Bybelteks(te)
LUKAS 1
Die geboorte van Johannes die Doper word aangekondig
LUKAS 1
Wat ʼn moeilike jaar was dit nie! Tussen die veranderende politiese en ekonomiese landskap, beide in Suid-Afrika en in ander lande, asook worstelinge in my persoonlike lewe, dink ek dit is veilig om te sê dat dit ʼn ontwrigtende jaar vir my was. En ek dink nie ek is alleen nie. Die voortdurende slegte nuus en die daaglikse dramas het my behoorlik laat steier.
As Christene moet ons onsself egter daaraan herinner dat niks wat gebeur het of nog gaan gebeur vir God ʼn verrassing is nie. Die Kerstyd is ʼn wonderlike geleentheid om ʼn bietjie terug te staan en weer ʼn keer vanuit ʼn ewigheidsperspektief na die wêreld te kyk.
Kom ons staan ʼn bietjie stil by daardie eerste Kersfees en die mense wat by die geboorte van Jesus betrokke was. Sagaria is die eerste persoon by wie ons stilstaan.
Dinge was nie so rooskleurig vir hom nie. Hy en sy vrou, Elisabet, was kinderloos en reeds bejaard. Daar was ʼn stigma rondom kinderloosheid en hy sou dit as ʼn skande ervaar het.
Vir die grootste deel van die jaar, behalwe wanneer Sagaria diens in die tempel moes doen, het Sagaria en Elisabet in ʼn klein dorpie in die bergstreek van Judea gewoon (Lukas 1:39). Hy was redelik obskuur en onbelangrik — ietwat van ʼn plaasjapie. Hulle het boonop geleef in die tyd wat die tiran, Herodes die Grote, (37-4 v.C.) geregeer het.
Sagaria kon maklik opgehou het om te bid … hy kon bitter geword het en opgehou het om te werk vir die God wat nie ʼn kind aan hom gegee het nie. Maar dit is nie hoe die verhaal van Sagaria eindig nie. ʼn Seun, Johannes (die Doper), is aan hom en Elisabet gegee. Hierdie seun het die koms van Jesus aangekondig.