Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 6
Jesus se opstanding gee ons hoop!
Bybelteks(te)
1 PETRUS 1
Die lewende hoop en die egte geloof
Jesus Christus se opstanding het ons lewens verander. Dit het daartoe gelei dat ons nie net ʼn verlede het nie, maar ook ʼn toekoms. Indien ons sê dat ons glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het, is dit ʼn uitspraak oor ʼn gebeurtenis in die verlede. Indien ons sê ons het hoop, is dit wat ons van Jesus in die toekoms glo.
Geloof in Jesus se kruisdood beskryf ons verlede en die nuwe begin. Hoop in Jesus beskryf ons daaglikse voortsetting van ons nuwe lewe en ons nuwe toekoms. Ons geloof kan net hoopvol wees as ons glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. Geloof en hoop is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die een kan nie sonder die ander nie!
Ná die opstanding van Christus leef ons in die tyd van hoop! Die opstanding is vir die Christen ʼn werklikheid. Dit is ook die hoogtepunt en die simboliese beginpunt van die nuwe lewe vir ons as Christene! Dit is een van die hoekstene van ons geloof! Sonder hoop sal ons nie kan glo nie.
As jy sê jy glo – dan is dit omdat jy vertrou en daaraan vashou dat Jesus reeds vir jou sondes betaal het.
As jy sê jy het hoop – dan is dit omdat jy vertrou dat die Here in die toekoms steeds koning in jou lewe sal wees en jy deel sal kry aan sy erfenis.
Jy sien, hoop is ʼn vertrouensuitspraak in die toekoms! Maar dit begin nou reeds. Jy het nou reeds hoop in al jou omstandighede! Jy vertrou dat Jesus elke dag met jou sal leef. Dit is ʼn vertroue dat jy jou lewe, jou land, jou gesin, ja alles, in die hande van Koning Jesus kan los. Jesus se opstanding het vir gelowiges ʼn nuwe toekoms gegee, die toekoms dat hulle sal lewe, al gaan hulle liggame sterwe.
Daar is net een oorsaak van die Christelike hoop en dit is die opstanding van Jesus. Sonder die opstanding het ons ʼn geloof sonder hoop. Jesus het die bande van hopeloosheid – naamlik, die dood – verbreek.