Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 18
Om grensloos lief te hê
Bybelteks(te)
MIGA 6
Liefde wat oor alle grense opoffer, het inderdaad die vroeë kerk gekenmerk. Siprianus van Carthago (200-257 n.C.) het sy volgelinge aangemoedig om genade en barmhartigheid te betoon. Volgens Siprianus is daar niks spesiaals daaraan om jou eie mense lief te hê nie. Hy het later gesterf weens sy belydenis as Christen. Wie die kwaad met die goeie wil oorwin, moet leer om – soos God – dié soort liefde te beoefen wat jou vyande insluit. Dit het die eerste Christene inderdaad gedoen, onder andere tydens die plae wat die Romeinse Ryk getref het.
Shane Claiborne (Shane Claiborne, The Irresistible Revolution) het ʼn paar maande saam met Moeder Teresa in die rioolslote van Kalkutta deurgebring. Hy vertel hoe mense hom dikwels uitgevra het oor Moeder Teresa: Watter soort mens was sy? Shane vertel: “Sy was kort, vol plooie, soos ʼn pragtige, kosbare en wyse ouma.” Die een ding wat hy nooit sal vergeet nie is haar misvormde voete. “Elke oggend, tydens die nagmaal, het ek na haar voete gestaar. Ek het gewonder of Moeder Teresa dalk melaatsheid gehad het. Natuurlik sou ek nooit daaroor uitvra nie.” Een oggend het een van die nonne Shane gevra of hy Moeder Teresa se voete gesien het. Nuuskierig het hy “ja” gesê. Waarop die suster sê: “Ons kry skaars genoeg skoene om in almal se behoeftes te voldoen. Moeder Teresa wil nie hê dat iemand met die ongemaklikste paar opgesaal sit nie, daarom soek sy self dié uit wat die slegste pas. Al die jare van ongemaklike skoene dra, het haar voete misvorm.” Dit is die soort liefde wat ander bo jouself stel. Liefde wat in die hart van Jesus gebore word (oorgeneem uit – Seisoen van Luister, Mei 2010).
Dit is moontlik om lief te hê soos Jesus liefgehad het. Die Here Jesus rus elke gelowige toe om hierdie soort liefde uit te leef. In dieselfde naggesprek waarin Jesus die opdrag tot liefde gee (Johannes 14), vertel Hy van die Heilige Gees wat kom om gelowiges te bemagtig. Deur die werk van die Gees sal Vader en Seun by gelowiges kom woon en ons leer om sy woorde en opdragte uit te voer. Die Heilige Gees sal ons voortdurend herinner aan wat Jesus gesê het en ons tot gehoorsaamheid bemagtig (Johannes 14:15-25). Die Heilige Gees sal ons leer om grensloos lief te hê volgens die voorbeeld van Jesus.