Loof Hom – Dag 4
Sy betrokkenheid – Loof Hom!
Bybelteks(te)
PSALMS 139
Dawid dink nuut en vanuit ʼn ander perspektief as hy hom tot God rig en die twee vrae in Psalm 139:7 vra. Hy soek nie antwoorde nie; hy ken die antwoorde reeds: Wegkruip, weghardloop of wegvlug van die teenwoordigheid van die Here is geen opsie nie. Hy weet alles en Hy is oral teenwoordig!
Hierdie wete bring vir Dawid sekuriteit, want hy weet: Niks wat oor sy pad kom, of nêrens waar hy gaan, gebeur sonder die medewete en teenwoordigheid van die Here nie. Hy is diep onder die indruk van sy kennis oor die kleinste besonderhede van die mens se lewe, selfs voordat dit nog gebeur. Hy weet of ons sit of opstaan, ry of bly; Hy ken elke gedagte en selfs ons onuitgesproke woorde. Ja, Hy sien dwarsdeur ons; Hy weet alles van ons. Reeds voor ons geboorte was elke dag van ons lewe reeds in sy boek opgeskryf (Psalm 139:1-4,16). Hy was daar, is daar en sal altyd daar wees!
Maar meer nog … Hy beskerm ons: Hy omsluit ons van alle kante, of dit oos of wes, die hemel of die doderyk is. Hy vat ons hand in syne en lei ons deur sy Gees. Selfs duisternis hardloop weg as Hy dit betree … want Hy is die Lig (Psalm 139:8-12). Enige poging van die mens om sonde weg te steek of om vir Hom weg te kruip, is dus sinneloos. Hy is oral teenwoordig, op ons dwaalpaaie en in ons donkerte, en uiteindelik word dit ook aan die Lig blootgestel!
Hy het ons gemaak en weet presies hoe ons dink, redeneer, waarom ons op sekere maniere optree en so dikwels nie onder sy gesag wil buig nie. Maar dit maak Hom nie minder betrokke by ons lewens nie, want sy empatie, aangevuur deur liefde, laat Hom nie toe om sy rug op ons te draai nie. As die Predikerskrywer ons optrede teenoor die Almagtige so raak beskryf, hoeveel te meer weet Hy nie wie ons is nie: “Wat ʼn mens is, word reeds met die naam mens gesê, dit is bekend wat hy is: hy is mens. Hy kan nie ʼn regstryd voer met die Een wat sterker as hy is nie” (Prediker 6:10).
Hy is teenwoordig … ook in ons gewaande grootheid en Hy wil ons verander!