Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 3

Loof Hom omdat jy mens is

Bybelteks(te)

PSALMS 139

14Ek wil U loof,

want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

PSALMS 139:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nuwe lewe bly ʼn werk van God – Hy het immers self besluit om die mens te maak na sy beeld, na sy gelykenis. ʼn Geboorte bly daarom seker die grootste bewys van die enige Here se voortgesette betrokkenheid by mense. Geen wonder nie dat Dawid Hom loof vir hierdie aangrypende skeppingswerk: “U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Geen been van my was vir U verborge nie … ek is kunstig geweef … U oë het my ongevormde klomp gesien” (Psalm 139:13,15-16). Dit laat Dawid uitroep: “Ek wil U loof, want U het my op ʼn wonderbaarlike wyse geskep.”

Verwonderd oor hierdie pragskepping wat selfs verhewe is bo die hemel, die sterre en die maan, vra Dawid ʼn retoriese vraag: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Maar hy ken reeds die antwoord: “U het hom weinig minder gemaak as ʼn goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel” (Psalm 8:5-7). En dan maak hy die Here se naam groot hiervoor: “O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Psalm 8:10).

Met die geestelike geboorte van ʼn mens wat kies om God en Jesus te glo, is Hy weer aktief betrokke. Omdat ons so ver afgedwaal het van sy oorspronklike plan vir ons, versoen Hy ons met Homself deur Christus, en so word ons herskep tot ʼn nuwe mens (2 Korintiërs 5:17-19).

Efesiërs 2:10 sê ons is sy maaksel (poiema in Grieks)geskape (of geskep – poieo) in Christus Jesus. Hierdie woord verwys na ʼn maaksel of skepping deur ʼn meestervakman. En dit ís presies wat ons Skepper God is – ʼn Meesterkunstenaar, onvergelykbaar in perfeksie. Wat meer is, Hy is die Digter van alle tye, want die Engelse woord “poem” (gedig) is afgelei van poiema. Wat ʼn unieke skepping is ons nie – mense met die aard van God en gedigte meesterlik en uniek geskryf deur die hand van ons Vader!

Ons loof U, Skepper! Ons verhoog U, Skrywer van ons lewens vol ritme, rym en simmetrie! Ons is u mens-gedigte wat ons lewens tot u eer wil leef!

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS