Bible Society of South Africa

Kersfees – Dag 5

Die grootste skat ooit!

Bybelteks(te)

7Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.

1 KORINTIËRS 2:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kersfees lê voor die deur en jy’s klaar moeg vir klatergoud rondom die hele affêre. Jy sien so op teen die gekuier en die eet en drink terwyl jou siel van die dors vergaan. Die oordadige koop van geskenke in die naam van iemand wat tweeduisend jare gelede in die eenvoud van ʼn stal gebore is stuit jou teen die bors, maar jy is deel van die mallemeule.

Dit is nie hoe God dit wou gehad het nie. God het sy grootste reddingsplan van stapel gestuur toe Hy sy Seun aarde toe gestuur het. Dit was nie vir Hom maklik om deur die pyn van geboorte te gaan en aan ʼn sondige wêreld blootgestel te word nie – ʼn wêreld waar mense hulle nie eens in hulle wildste drome kon indink wat dit vir die Messias moes beteken het om van sy hemelse heerlikheid af te sien om onder ons te kom woon nie.

Nee, God wat mens geword het, is nie net ʼn enkele dag se opwinding en vermaak nie. Dis die grootste wonderwerk ooit – groter as ʼn tuig wat op Mars land, of as enige popster se vertoning. Dis niks minder as ʼn godswonder nie. Laat ons dus die krip in ons hart bewaar vir volgende jaar en die jare daarop. Kyk verby die tydelike na die ewige waar God reeds vir ons deur sy Seun ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde voorberei het.

Kom ons begin weer: Kersfees lê om die draai en jy kan nie stilbly daaroor nie. Jou hart spring van vreugde en jy jubel saam met ʼn engeleskaar: “Juig die Redder is daar, juig die Redder is daar!”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS