Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 19

In gesprek met God

Bybelteks(te)

2My God, my God, waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

Goeie Vrydag – die dag toe Jesus Christus sy lewe vir ons opgeoffer het ten einde ons verhouding met God te herstel.

Stel jou voor, daardie eerste Goeie Vrydag. Ons Here is uitgeskel, gespot, geslaan, verneder en ter dood veroordeel. Toe is Hy aan die kruis vasgespyker waar Hy in ondraaglike pyn gehang het.

Sy uitroep, “My God, my God, waarom het U my verlaat”, weerklink steeds deur die eeue. Dit is die woorde van eensaamheid en elke Goeie Vrydag tref dit ons opnuut.

Op hierdie absolute laagtepunt van sy lewe hier op aarde, wend Jesus Hom tot die psalms. Dit is iets wat ons gerus kan onthou wanneer ons teëspoed ondervind.

In hierdie uiterste van omstandighede het Jesus nie sy verdrukkers gevra om Hom te begenadig nie. Hy het ook nie sy dissipels, waarvan almal behalwe een Hom verlaat het, gevra om te help nie. Nee, Hy het Hom direk tot God gewend.

Wanneer ons ʼn krisis beleef, is gebed selde ons eerste prioriteit. Ons verkies om eers by ander ondersteuning te soek.

In hierdie uitroep tot God werp Jesus Homself volkome op God en deel Hy sy diepste gevoelens.

Ek vermoed dat ons soms te skaam is om openhartig te wees in ons gebede. Soms bid ons eerder op ʼn tradisionele wyse en gebruik ʼn paar bekende frases eerder as om werklik vir ons hemelse Vader te sê wat ons op die hart het.

Ons Vader ken ons harte en vir ons eie onthalwe moet ons volkome deursigtig wees wanneer ons met Hom praat.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS