Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 16

Vertel die wêreld

Bybelteks(te)

7Hy, die Here, is ons God;

sy reddingsdade strek oor die hele aarde.

PSALMS 105:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en

MATTEUS 28:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

11So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees:

dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,

maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê

en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

JESAJA 55:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons juweel vir vandag kom uit ʼn psalm waar die grootheid van God besing word. Dit vertel die storie van Israel totdat hulle die beloofde land binnegetrek het.

Geïnspireer deur die Heilige Gees het die psalmdigter ʼn psalm gedig wat, alhoewel hy dit miskien toe nie besef het nie, tot vandag toe nog op almal wat deur God verlos is, van toepassing is.

Baie van ons ken St. Augustinus se aanhaling: “The New is in the Old concealed; the Old is in the New revealed.” Soos Augustinus kan ons ook in die lig van die Nuwe Testament sien dat die volle betekenis van die Ou Testament in Jesus Christus vervul is.

In vandag se teksvers vertel die psalmdigter vir ons dat die Here ons God is, en dat sy reddingsdade oor die hele aarde strek. Die boodskap is duidelik: Hy is ons God en ons moet Hom loof en sy grootheid aan al die nasies bekend maak.

Dit is ʼn uitdaging vir alle Christene. Hoe kan ons deel wees van die “groot opdrag” en getrou wees aan hierdie opdrag? “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …” (Matteus 28:19).

God het jou miskien nie geroep om ʼn voltydse sendelinge te wees nie, maar jy kan steeds ʼn onmisbare rol vervul in die uitreik na die nasies.

Een manier hoe jy getrou kan wees aan hierdie opdrag is deur die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub. Deur hierdie uitreik kan jy help verseker dat mense regoor die wêreld Bybels ontvang wat hulle vertel hoe groot God is en wat Hy vir hulle deur sy Seun, Jesus Christus, gedoen het.

“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het” (Jesaja 55:11).

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS