Bible Society of South Africa
Neville Turley

Juwele uit die Psalms – Dag 1

Dis jou keuse

Bybelteks(te)

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

PSALMS 1:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

ROMEINE 7:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tydens Jesus Christus se bediening hier op aarde het Hy dikwels uit die Psalms aangehaal. Die meeste Christene het ʼn gunsteling psalm of teksvers uit die Psalms waardeur die Heilige Gees hulle versterk, vertroos en opbou. Vir die meeste Christene is Psalms ʼn persoonlike skatkis vol “juwele” wat ons nader aan God bring en waaruit ons seëninge sonder tal kan put.

Vir hierdie reeks het ek “juwele” uit die skatkis van die Psalms gekies wat persoonlik tot my gespreek het.

Neem nou maar ons teksvers vir vandag. Dit gee aan ons ʼn formule vir ware geluk. Indien jy ware blydskap wil hê, moet jy ʼn godvresende lewe lei. Die keuse is joune; goed en kwaad word duidelik in swart en wit uitgespel, want God verdra nie skakering van grys nie.

Die probleem is dat die mens ʼn kombinasie van beide goed en kwaad is, en ons maak dikwels keuses wat ons later berou.

Paulus som hierdie dilemma mooi op, want ons wil dikwels doen wat reg is, maar ons slaag nie daarin nie: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ʼn ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ʼn gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is” (Romeine 7:22-23).

Paulus was in dieselfde situasie as elke ander mens. Hy het egter sy antwoord in Jesus Christus gevind. Ons teksvers vir vandag herinner ons voortdurend daaraan dat ons die bose in ons moet oorwin en ʼn godvresende lewe moet lei om ware geluk te kan vind. Maar net soos Paulus kan ons dit nie self doen nie. Slegs deur Jesus Christus kan ons in hierdie lewe en tot in ewigheid ware geluk vind.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS