Is jy dankbaar? – Dag 7
Dankbaar vir vergifnis
Bybelteks(te)
MATTEUS 18
Rusteloos het die koning deur sy boeke geblaai. Hy kon nie slaap nie en het daarom besluit om vas te stel wie van sy onderdane geld aan hom skuld. Op een plek het hy gestop terwyl hy die inhoud met ʼn frons bestudeer. Geskok oor sy bevinding het hy met sonsopkoms een van sy amptenare ontbied.
“Waar is my geld?” het die koning gebulder toe die amptenaar voor hom verskyn. Bleek van skok omdat hy die koning miljoene rand skuld, het die amptenaar stadig geantwoord: “Ek is jammer, U Majesteit. Ek het nie die geld nie. Ek is bankrot. Ek sal nie die skuld kan betaal nie.” Dié antwoord het die koning selfs kwater gemaak. Hy het een van sy onderdane beveel: “Vat hierdie man, verkoop al sy besittings en vat hom en sy gesin daarna na die markplein waar hulle as slawe verkoop moet word!”
Vreesbevange het die amptenaar op sy knieë voor die koning neergesak en in trane om genade begin smeek: “U Majesteit, asseblief, ek smeek u vir ʼn laaste kans. Ek belowe om elke sent aan u terug te betaal.” Die koning het die amptenaar jammer gekry. Hy kon sien die man het berou en het daarom genade aan hom betoon en sy skuld afgeskryf.
Die amptenaar het die paleis verlig verlaat. Buite het hy ʼn medeamptenaar raakgeloop wat hom net ʼn paar rand skuld. Woedend het hy die man aan die keel gegryp en hom beveel om sy skuld te betaal. Die skuldenaar het om genade gepleit: “Asseblief, meneer, ek smeek jou vir ʼn laaste kans. Ek belowe om elke sent aan jou terug te betaal.” Die amptenaar wou egter niks daarvan hoor nie en hy het die man in die tronk laat gooi.
Toe die koning van hierdie insident te hore kom, het hy die amptenaar dadelik weer na hom ontbied. Dié keer het hy geen genade betoon nie. “Ek het miljoene rande se skuld vir jou afgeskryf,” het die koning aan die amptenaar gesê, “en jy kan nie eens ʼn paar rand se skuld afskryf as jou skuldenaar jou om genade smeek nie?!” Die koning was woedend en het die man in die tronk laat gooi waar hy gemartel is.
In Matteus 18:35 sluit Jesus die bogenoemde gelykenis af met die woorde: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
Dink vir ʼn oomblik terug op jou lewe. Waarvoor het God jou al alles vergewe en waarvan het Hy jou vrygemaak? Dink nou aan almal in jou lewe wat jy nog moet vergewe. Is jy dankbaar vir God se vergifnis deur self ook genade en vergifnis aan hulle te betoon of vergeet jy soos die amptenaar wat vergeet het van die genade wat aan hom betoon is? Sterkte.