Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 6

Dankbaar vir “toe deure”

Bybelteks(te)

JEREMIA 29

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 22

22Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie.

JESAJA 22:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Was jy al ooit in jou lewe dankbaar vir ʼn toe deur? Natuurlik is geen mens aanvanklik dankbaar as jy onsuksesvol in ʼn belowende werksaansoek is, pyn beleef weens ʼn verhouding wat op die rotse eerder as in ʼn huwelik eindig, of wanneer ʼn koopkontrak vir wat jy gedink het julle droomhuis sou wees deur die mat val nie. Tog, dank jy God of blameer jy Hom vir toe deure in jou lewe?

Die afgelope tyd het verskeie lesers van deurbrake, voorsiening of vertroosting uit God se hand getuig. Dit bly interessant om op te let hoeveel keer ʼn “toe deur” later ʼn geleentheid geword het waartydens lesers God se teenwoordigheid, voorsiening en krag kon beleef. God ken ons elkeen se toekoms. Juis daarom kan ons met geruste harte weet dat, sou ons ʼn toe deur beleef, Hy heel moontlik besig is om óf ons karakter te vorm óf om ons van verkeerde keuses te beskerm omdat Hy iets veel beters vir ons in die toekoms beplan.

In Jeremia 29:11 sê God immers: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!” In Romeine 8:28 staan geskryf: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” En in Jesaja 22:22 roep God vir Eljakim om sy dienaar te wees en sê dan die volgende oor hom: “Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit sal niemand oopsluit nie.” Omdat hierdie outoriteit aan God behoort kon hy Eljakim toelaat om deure oop en toe te sluit.

Dalk moet ek jou weer vra: Dank jy God of blameer jy Hom vir toe deure in jou lewe? Jy was dalk onsuksesvol in jou werksaansoek, maar maande later word jy in ʼn veel beter posisie aangestel (waarvoor jy nie sou kwalifiseer as jy daardie aanvanklike werksgeleentheid gekry het nie). Jy beleef dalk pyn en verwerping na ʼn gebroke verhouding, net om later met dankbaarheid daarop terug te kyk omdat jy daarna jou sielsgenoot en toekomstige huweliksmaat ontmoet het. En die koopkontrak wat deur die mat geval het, was dalk die grootste beskerming en seën uit God se hand omdat julle vandag ʼn veel groter en beter huis besit.

Kom ons begin doelbewus dankbaar raak vir die toe deure in ons lewens – al verstaan ons dit nie aanvanklik nie. Met verloop van weke, maande of jare mag ons dalk daarop terugkyk en God oneindig dank! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS