Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 18

Dankbaar dat God voorsien

Bybelteks(te)

1 PETRUS 5

7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

1 PETRUS 5:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

19En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. 20Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

FILIPPENSE 4:19-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit was vroeg in Desember 2011. Ek was steeds betrokke by die oggendskof op Radio Tygerberg 104fm en van ons kollegas het daardie oggend in Gansbaai gaan haaihokduik. Deur die loop van die skof moes ons hulle bel om te hoor wat hulle op die boot beleef. Op die ingewing van die oomblik het ons gereël dat ons twee kaartjies vir luisteraars kon weggee om ook in ʼn later stadium te gaan haaihokduik.

Om in aanmerking te kon kom vir dié gesogte prys, moes luisteraars daardie oggend die korrekte antwoord op ʼn eenvoudige vraag na ons SMS-lyn in die ateljee stuur. Binne sekondes het letterlik honderde SMS’e na die lyn ingestroom. Riaan was ons wenner en ons het hom gebel. Hy was terselfdertyd oorbluf en opgewonde oor die nuus.

Daardie middag het Riaan ʼn draai by die ateljee kom maak om sy storie met ons te deel. Hy het vertel dat sy seun vir maande reeds smeek om te gaan haaihokduik. Hy het gedink dat hy die bonus wat hy daardie Desember by die werk sou kry sou kon gebruik om sy seun vir sy verjaarsdag op hierdie uitstappie te neem. Toe kom die skok: Weens ekonomiese druk kon die maatskappy vir wie Riaan werk daardie jaar geen bonusse uitbetaal nie. Meteens het hy nie geweet hoe hy hierdie belofte aan sy seun sou kon nakom nie.

Natuurlik het Riaan geen manier gehad om sy belofte aan sy seun ʼn werklikheid te maak nie aangesien hy geen ekstra inkomste gehad het om vir hierdie uitstappie te betaal nie. Hy het daarom sy hart voor God uitgestort, Hom vir ʼn wonderwerk gevra en die saak aan Hom oorgelaat. Sonder dat ons vooraf enige kennis hiervan gehad het, het God ons daardie oggend, deur sy Heilige Gees, gelei om Riaan se SMS tussen die honderde ander uit te kies. Riaan se woorde aan die einde van die storie het my veral geraak toe hy sê: “Nou kan ek vir my seun sê dat dit nie net ʼn geskenk van sy aardse pa af is nie, maar reguit van ons hemelse Pa.”

Benodig jy soos Riaan ʼn deurbraak wat net God kan bewerkstellig? Luister dan weer na die woorde in 1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” Ook in Filippense 4:19-20 lees ons: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”

Niks is vir God onmoontlik nie. Kom ons stort ons harte voor Hom uit en dank Hom byvoorbaat dat Hy vir ons kan voorsien. Die deurbraak is dalk veel nader as wat ons dink. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS