Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 21

Hy kan – en Hy sal!

Bybelteks(te)

6As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

HEBREËRS 11:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons sondes kla ons aan

1Die arm van die Here is nie te kort om te help nie

en sy oor is nie te doof om te hoor nie.

24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

MARKUS 11:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit was ʼn warm dag op die markplein in Kapernaum, toe die Romeinse soldaat met ʼn hoë rang voor Jesus gaan staan. Die dringendheid in sy houding en spanning op sy gesig was ʼn teken dat hy vir ʼn ernstige saak daar is: “Here,” het hy smekend begin. “Ek het ʼn kneg by die huis wat ernstig siek is. Hy krul van die pyn en kan nie eens loop nie. Asseblief, kom help hom!” Sonder om te aarsel het Jesus gesê: “Ek kom dadelik.”

ʼn Mens sal dink dat die soldaat dadelik sou omswaai om Jesus na sy huis te begelei. Sy reaksie is egter anders. Hy staan doodstil en kyk Jesus in sy oë: “Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie! Ek is ʼn man wat gesag ken. Ek het mense bo my met gesag en ook mense onder my. Sodra ek ʼn opdrag gee aan mense onder my weet ek dat dit dadelik uitgevoer word. Ek weet dat U gesag het. Sê daarom sommer hier wat moet gebeur en ek glo dit sal gebeur!” Jesus was verbaas en beïndruk deur die man se geloof. In Matteus 8:10 antwoord Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ʼn groot geloof nie gevind nie.” In Matteus 8:14 lees ons Jesus se reaksie tot die Romeinse soldaat se woorde: “‘Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het.’ Sy kneg het gesond geword in daardie uur.”

Wat is jou behoefte vandag? ʼn Huweliksmaat? Gesondheid? Wysheid oor jou finansiële posisie? ʼn Kindjie van jou eie? Wysheid oor besluite wat geneem moet word? Hoe gaan jy na God? In absolute vertroue — of met ʼn mate van twyfel in jou hart? In Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Ook in Jesaja 59:1 lees ons: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie.” As ons glo dat God dit kan doen en wat ons Hom vra is in sy wil vir ons lewens, kan ons die woorde in Markus 11:24 vasgryp: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Alhoewel ons God nooit kan manipuleer of vir Hom kan probeer voorskryf nie, kan ons met ʼn opregte hart gevul met ʼn kinderlike geloof ons harte voor Hom uitstort, wetende dat Hy vir ons ʼn lewe in oorvloed kan help beleef. Kom ons leer van die Romeinse soldaat en plaas ons geloof in God wat ons kan help. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Skryf neer wat jou behoeftes en begeertes is. Gesels met God daaroor en vertrou Hom dat Hy vir jou die beste sal gee vir jou lewe. Soms beskerm Hy ons met toe deure.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS