Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 19

Hoor die woord van die Here

Bybelteks(te)

JESAJA 66

2Ek het alles gemaak

en so het alles ontstaan,

sê die Here.

Ek slaan ag op die mens in nood,

op dié een wat berou het oor sy sonde,

wat ontsag het vir my woord.

3Die mense offer bulle

maar hulle maak ook mense dood as offers,

hulle offer lammers

maar hulle breek ook honde se nekke as offers,

hulle bring graanoffers maar ook offers van varkbloed,

hulle offer wierook maar hulle prys ook afgode;

hulle het besluit om hulle eie kop te volg,

hulle is lief vir hulle afskuwelike afgodsoffers.

4Daarom besluit Ek dat hulle gestraf moet word

en bring Ek verskrikking oor hulle.

Toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie,

toe Ek gepraat het, het niemand geluister nie;

hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë,

hulle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

5Hoor die woord van die Here,

julle wat ontsag het vir sy woord:

Julle broers deur wie julle gehaat word,

deur wie julle verstoot word ter wille van my Naam, sê:

“Laat die Here sy mag bewys,

dat ons kan sien waarom julle so bly is!”

Maar hulle sal ontnugter word:

JESAJA 66:2-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 66

18Ek weet wat hulle doen en dink;

die tyd kom dat Ek al die nasies en al die taalgroepe

bymekaar gaan maak.

Hulle sal kom en hulle sal sien hoe magtig Ek is.

19Ek sal 'n teken onder hulle oprig

en Ek sal van dié van hulle wat die oordeel oorleef het,

uitstuur na ander nasies toe,

na Tarsis, na Pul, na Lud met sy bedrewe boogskutters,

na Tubal, na Griekeland,

en na die ver eilande toe

wat nie van my roem gehoor het nie

en nie my mag ervaar het nie.

So sal dié wat Ek gestuur het,

onder die nasies verkondig

hoe magtig Ek is.

20Hulle sal al julle volksgenote uit al die nasies

as 'n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens,

op drastoele, op muile en op kamele.

Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe,

na Jerusalem toe, sê die Here.

Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers

in rein skottels na die huis van die Here toe bring.

21Ek sal van hulle as priesters en Leviete aanstel,

sê die Here.

22Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak,

in my diens sal staan,

sê die Here,

so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.

23Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef, voor My in aanbidding kom buig,

sê die Here.

24Wanneer hulle uit die stad uitgaan,

sal hulle die lyke sien

van die mense wat hulle teen My verset het.

Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie,

en die vuur waarin hulle brand, sal nie geblus word nie;

hulle sal iets afgrysliks wees vir al wat leef.

JESAJA 66:18-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesaja eindig met ʼn beskrywing van God se finale veroordeling en die beloning van die regverdiges op aarde wat nuut gemaak is. Die heerlikheid van God sal deur al die nasies verkondig word en mense van al die nasies sal voor Hom kniel en Hom aanbid. Die nuwe hemel en die nuwe aarde word geopenbaar. Wat ʼn wonderlike slot tot hierdie kragtige woorde wat Jesaja gebring het.

Alhoewel hierdie hoofstuk (66:18-24) op ʼn wonderlike openbaring eindig, is daar tog aan die begin van die boodskap ʼn waarskuwing. Die Here sê: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). ʼn Paar verse verder in Jesaja 66:5 praat Jesaja direk met diegene wat berou het oor hulle sonde: “Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe!” Hulle word gestel teenoor diegene in Jesaja 66:4 wat nie antwoord of luister wanneer die Here roep en praat nie. Hierdie sleutelverse som Jesaja se boodskap op: die teenoorgestelde van sonde is nie godsdiens nie maar eenvoudig gehoorsaamheid.

In elke geslag word ware en vals Christene nie bepaal deur wie die beste vertoning as Christen lewer nie, maar wel wie getrou bly aan die woord van God.

Het jy werklik ontsag vir die woord, of soos ons teksvers vra, “bewe jy vir die woord?” Maak jy erns met die woord or verwag jy dat God aan jou persoonlike wense, begeertes en verwagtinge moet voldoen? Aanvaar jy net daardie dele in die Bybel waarmee jy saamstem en verwerp die dele wat jy as ongerieflik of verkeerd beskou? Wat doen jy indien die woord van die Here bots met jou manier van dinge doen?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS