Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 1

Skuldig!

Bybelteks(te)

JESAJA 1

2Luister, hemele, gee aandag, aarde,

want die Here het gesê:

Ek het kinders grootgemaak en opgevoed,

maar hulle het teen My in opstand gekom.

3'n Bees ken sy eienaar

en 'n donkie die krip van sy baas,

maar Israel ken My nie,

my volk het geen begrip van wat Ek doen nie.

JESAJA 1:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek is baie lief vir televisieprogramme wat handel oor die regswêreld en die interessante sake wat prokureurs en advokate moet verdedig. Voor die kern van die saak aangepak word en ons uitvind wie het wat gedoen of nie gedoen nie, verduidelik die aanklaer altyd eers die klag teen die beskuldigde. Jesaja begin sy boek so ʼn bietjie soos ʼn hofsaak; hy is ʼn aanklaer wat die saak vir die jurie stel.

Dit is duidelik hoekom daar ʼn klag teen Juda en Jerusalem gelê word. Hulle het die heilige verbond wat die Here met hulle gesluit het verbreek. Hulle is korrup, hulle hou aan om sonde te doen, en verontagsaam God.

Maar wat van die verdediging? Wat het die beskuldigdes vir hulleself te sê? Ek dink hulle was baie verontwaardig want, hierdie mense wat verhoor word, het ʼn lang lys van al die “regverdige” dinge wat hulle doen. Hulle sê dinge soos: “Maar Edelagbare, ons gee ons tiendes, ons bely ons sondes, ons gaan kerk toe en ons bid.” Die probleem is egter hulle verkeerde houding en gedrag. Hulle sê een ding op ʼn Sondag en doen die teenoorgestelde dinge op ʼn Maandag.

God haat skynheiligheid – in die tyd van Jesaja en vandag nog. Wanneer mense net by godsdienstige bedrywighede betrokke is of kerk toe gaan om ander te beïndruk, of om dit wat hulle verkeerd doen te probeer wegsteek, haat God dit. Wanneer jy jouself afvra of jy ʼn regverdige lewe lei, is gereelde kerkbywoning bo-aan die lys van dinge wat jy doen om reg te leef? Of het jy al oorweeg hoe jy van Maandag tot Saterdag leef?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS