Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 21

Die afwagting op Christus se wederkoms

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 21

2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is.

DIE OPENBARING 21:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Toe het ek ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ʼn bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2)

Soos wat ons gedurende Adventtyd voorberei op die Kerstyd, moet ons ook met verwagting uitsien na Christus se wederkoms en onsself gereedmaak.

“Die stad was gereed soos ʼn bruid wat vir haar man versier is.” Dink aan ʼn bruid se voorbereiding vir haar troue: Maande vooruit word alles tot in sy fynste besonderheid beplan in afwagting op die groot huweliksdag. Daar word verwys na “die heilige stad” – heilig: vir God afgesonder. Dit laat my dink aan hoe Ester vir koning Ahasveros afgesonder is en ʼn tydperk van twaalf maande skoonheidsbehandeling ontvang het om voor hom te verskyn.

Christus kom beslis weer en niemand weet wanneer nie. Hoe gereed is ek? Waarmee sal Hy my besig vind? Sal Hy my herken omdat ek soveel op die pad van heiligmaking gevorder het en ek al byna soos Hy lyk? Sal ek so voorbereid wees op sy koms dat ek instinktief net my hande na Hom kan uitsteek om Hom te verwelkom?

Ek herinner my aan die gelykenis wat Jesus in Matteus 25 vertel het van die tien meisies waarvan net vyf werklik voorbereid en gereed was om die bruidegom te ontmoet.

Laat Adventtyd ons ook herinner dat Christus gegaan het om vir ons plek gereed te maak in ons Vaderhuis en dat Hy weer op die wolke sal terugkeer. Ons kan met verwagting uitsien na sy wederkoms en gereedstaan om Hom te ontvang!

 

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS