God se genade, liefde en krag – Dag 1
Baie dinge kan nie bewys word nie
Bybelteks(te)
PSALMS 19
Hoe bewys ʼn mens dat God bestaan? Of nie bestaan nie? Iemand het eendag in ʼn toespraak beweer dat God nie bestaan nie en dat hy dit kan bewys: “As daar ʼn God is, kan Hy my nou laat sterf. Ek gee Hom twee minute.” Dramaties het die man sy horlosie dopgehou en toe daar na twee minute niks gebeur het nie, het hy die gevolgtrekking gemaak: “Sien julle, daar is geen God nie.” Waarop ʼn vrou uit die gehoor toe vir hom skree: “Hy hou nog te veel van jou!” (2 Petrus 3:9).
Die opmerking van die vrou het aangetoon dat die man in beginsel niks bewys het nie. Daar was meer as een verklaring vir die feit dat die man nie gesterf het nie. Maar dit bly ʼn belangrike vraag: Bestaan God wel of nie?
Ek glo wel dat God bestaan. Maar soos hierdie man wat ʼn punt wou bewys, kan ek my geloof ewemin bewys as hy sy ongeloof. Is dit dan dom om in iets te glo wat nie bewys kan word nie? Nee, want daar is maar min dinge wat ʼn mens kan bewys. ʼn Mens kan nie bewys dat die son môre sal opkom nie, en tog glo ons dat dit sal gebeur. ʼn Mens kan nie bewys dat jy jou lewensmaat liefhet nie, en tog is dit waar.
Wat kan ons help om te glo dat God bestaan? Iemand het gesê dat indien God bestaan, sal Hy sy bestaan tog self moet laat waarneem. Dan sou Hy Homself tog bekend maak en kontak met ons soek.
Die Bybel vertel hoe God die inisiatief geneem het om kontak met mense te soek (1 Samuel 3:21). Die duidelikste manier was toe Hy self na ons in sy Seun Jesus Christus gekom het. In Jesus het God onder ons gewoon en het Hy ons laat sien wie Hy is.