Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Gebed – Dag 1

Om met God te onderhandel

Bybelteks(te)

27Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. 28Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?”

Hierop antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar kry nie.”

29Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit nie doen nie.”

30Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog 'n keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.”

31Maar Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie verdelg nie.”

32Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.”

En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”

GENESIS 18:27-32AFR83Maak oop in die Bybelleser

29Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.

GENESIS 19:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oor die tema van gebed in die Bybel: Wat sou die mens sonder gebed wees? Niks meer as ʼn redelose dier wat uitgelewer is aan eie instink nie. Maar die mens is anders — God het met hom gepraat en hy het geantwoord. Kom laat ons bid.

Abraham se gebed in Genesis 18 is seker een van die mees gewaagde gebede in die Bybel. Dit word beskou as die eerste formele gebed wat in die Bybel opgeteken is. Verder word dit ook beskou as die eerste voorbeeld van onderhandeling tussen God en ʼn mens. Abraham onderskei hom as ʼn meesterlike onderhandelaar en wys ons wat dit beteken om werklik om te gee vir sondaars en met hart en siel vir hulle in te tree in gebed.

Wat nog meer merkwaardig is, is dat God vir Abraham nooi om deel te wees van die onderhandeling: “… sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen?” (18:17). Maar waarom sou Abraham so begaan wees oor die lot van sondige mense wat as gevolg van hulle goddeloosheid vernietig sou word? Moontlik omdat hy ʼn familielid wou red wat met sy gesin in Sodom woon. As hy wou kon hy mos maar met God onderhandel het om sy familie betyds uit die stad te red. Maar dis nie wat hy vir God vra nie: Hy smeek God om enige regverdiges wat in die stad mag wees, ʼn kans te gee. Hierdie is seker een van die mees intense gebede in die Bybel, en wat dit nog meer besonders maak, is dat die leser opgeroep word as getuie van die onderhandeling tussen God en Abraham. Hieruit leer ons dat die gebed van die regverdige besondere gewig dra by God.

Baie eeue later sou daar weer ʼn onderhandeling om die siel van die mens plaasvind — die keer was dit Jesus wat instem om sy lewe te gee vir die redding van talle.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS