Bible Society of South Africa

Ek is Sy – Dag 8

Sy kry soms swaar.

Sy beleef dat alles in die lewe nie altyd glad verloop nie. Sy kry soms baie seer as ander mense op haar trap, haar misbruik, of as dinge eenvoudig net nie uitwerk soos sy gehoop het nie. Soms sukkel sy om haarself los te maak van dinge in haar verlede, maar ander kere kry sy dit tog reg om met God oor haar swaarkry te praat en haar pyn te konfronteer. Dan ontdek sy dat sy nuut kan begin ten spyte van haar verlede.

En jy ontdek: Ek is sy!

Bybelteks(te)

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

MARKUS 5:25-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

34“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

MATTEUS 25:34-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Toe Ragel merk dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld bring nie, het sy jaloers geword op haar suster. Ragel het vir Jakob gesê: “Gee vir my seuns, anders sterf ek.”

GENESIS 30:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

34Toe Esau veertig was, het hy getrou met Jehudit dogter van Beëri, 'n Hetiet, en met Basemat dogter van Elon, 'n Hetiet. 35Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring.

GENESIS 26:34-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jakob vlug

46Rebekka het vir Isak gesê: “Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau. As Jakob ook met Hetitiese meisies trou, met meisies soos hulle uit hierdie land, kan ek net so wel sterf.”

GENESIS 27:46AFR83Maak oop in die Bybelleser

37'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.”

40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”

“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

LUKAS 7:37-50AFR83Maak oop in die Bybelleser

25Maar as 'n man 'n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf. 26Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer 'n man iemand gryp en vermoor. 27Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie.

DEUTERONOMIUM 22:25-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

10het Amnon vir Tamar gesê: “Bring jy die kos hier na die kamer toe sodat ek dit uit jou hand kan eet.”

Tamar het die broodjies wat sy gereed gemaak het, na haar broer in die kamer gebring. 11Net toe sy naby hom kom om hom te laat eet, gryp hy haar vas en sê vir haar: “My suster, kom lê hier by my.”

12“Nee, my broer,” sê sy vir hom, “moet my nie onteer nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie. Moet nou nie 'n dwaas ding doen nie. 13Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel 'n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.”

14Amnon wou nie na haar luister nie. Hy het haar gepak en verkrag. 15Maar daarna het hy haar verag; hy het 'n groot afsku in haar gekry, en sy afsku was baie groter as sy verliefdheid.

Hy het toe vir haar gesê: “Loop!”

16Maar sy sê vir hom: “Moenie die skande wat jy my aangedoen het, vererger deur my weg te jaag nie.”

Hy wou nie na haar luister nie 17en beveel toe sy slaaf wat hom bedien: “Smyt hierdie vroumens uit en sluit die deur agter haar!”

18Volgens die gebruik van koningsdogters wat nog maagde was, het sy 'n lang mantel met moue aangehad. Nadat die slaaf haar uitgesit en die deur gesluit het, 19het Tamar stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu.

20Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was 'n wrak.

2 SAMUEL 13:10-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Net toe hulle begin vrolik raak, omsingel 'n klomp straatboewe van die stad die huis en hulle slaan op die deur. Hulle sê toe vir die ou man aan wie die huis behoort: “Bring uit die man wat in jou huis gekom het. Ons wil geslagsgemeenskap met hom hê.”

23Die man aan wie die huis behoort, is na hulle toe uit en hy sê vir hulle: “Nee, vriende, moenie hierdie man kwaad aandoen nadat hy in my huis ingekom het nie. Julle moet hom nie so 'n lae ding aandoen nie. 24Hier is my dogter, sy is nog 'n maagd, en die man se byvrou. Ek sal hulle uitbring, verkrag hulle. Doen met hulle wat julle wil, maar moenie hierdie lae ding aan die man doen nie.”

25Maar die mans wou nie na hom luister nie. Toe gryp die Leviet sy byvrou en stoot haar buitentoe na hulle toe. Hulle het met haar geslagsgemeenskap gehad en haar die hele nag deur tot die môre toe verrinneweer. Toe die rooidag breek, het hulle haar gelos. 26Teen die môre se kant het sy by die huis gekom en voor die deur van die huis waarin haar man was, neergeval en bly lê tot sonop. 27Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel. 28Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan vertrek,” maar sy het nie geroer nie. Hy tel haar toe op 'n donkie en maak klaar en vertrek na sy plek toe.

RIGTERS 19:22-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

21Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword. 22Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?”

Sy het toe die Here gaan raadpleeg, 23en Hy het vir haar gesê:

“Daar is twee nasies in jou,

twee volke uit jou sal van mekaar geskei word.

Een sal sterker wees as die ander,

die oudste sal die jongste dien.”

GENESIS 25:21-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

HEBREËRS 11:31AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Verander tog ook nou ons lot, Here,

soos U droë spruite in die Suidland

in waterstrome verander.

5Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.

6Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra,

hy kom juigend terug

terwyl hy sy gerwe dra.

PSALMS 126:4-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

  • Sy ly aan ’n ongeneeslike siekte
  • Sy voel desperaat oor haar kinderloosheid
  • Sy kry swaar omdat haar kind die verkeerde keuses maak
  • Sy worstel met haar ongelukkige verlede
  • Sy is verkrag
  • Sy is die slagoffer van geweld
  • Sy praat met God oor haar swaarkry
  • Sy weet sy kan nuut begin ten spyte van haar verlede
  • Sy weet dat dit ook weer goed sal gaan

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS