Bible Society of South Africa

Ek is Sy – Dag 1

Sy staan in verhouding met God.

Hierdie is die belangrikste dimensie van vrouwees. Sy staan in ’n unieke geloofsverhouding met God. Sy het die Here regtig lief en soek sy wil vir haar lewe. Maar soms dwaal sy af.

En jy ontdek: Ek is sy!

Bybelteks(te)

Die arm weduwee se gawe

41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

MARKUS 12:41-44AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

3Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,

wat op die regte tyd vrugte dra

en waarvan die blare nie verdroog nie.

Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

PSALMS 1:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hanna lê 'n gelofte af

9Op 'n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.

11Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”

12Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.

14Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”

15Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”

1 SAMUEL 1:9-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op besoek by Marta en Maria

38Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

LUKAS 10:38-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die geboorte van Jesus word aangekondig

26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”

35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”

38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Toe het die engel van haar af weggegaan.

LUKAS 1:26-38AFR83Maak oop in die Bybelleser

36Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid.

LUKAS 2:36-37AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lied van Mirjam

20Mirjam die profetes, suster van Aäron, het 'n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing:

“Sing tot eer van die Here

omdat Hy hoog verhewe is.

Perd en ruiter

het Hy in die see geslinger.”

EKSODUS 15:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

MARKUS 5:25-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sorge van die lewe

25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

MATTEUS 6:25-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

11Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”

12Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”

13Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”

GENESIS 3:1-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

2Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy 'n kind in die wêreld wat my eie kan word.”

En Abram het saamgestem met sy vrou.

3Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het. 4Hy het by Hagar gaan slaap, en sy het swanger geword. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag. 5Toe sê Sarai vir Abram: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur. Ek het my slavin vir jou gegee om met haar gemeenskap te hê, en noudat sy agterkom sy is swanger, minag sy my. Mag die Here hierdie saak tussen my en jou uitwys.”

GENESIS 16:2-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

37'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.”

40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”

“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

LUKAS 7:37-48AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

JOHANNES 11:20-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

  • Sy het die Here baie lief, Hy staan sentraal in haar lewe
  • Sy delf in die Woord
  • Sy bid met oorgawe
  • Sy sit en leer aan die voete van die Here
  • Sy onderwerp haar aan God se wil vir haar lewe
  • Sy wy haar lewe aan die Here
  • Sy dien die Here met blydskap
  • Sy soek haar krag by Jesus
  • Sy laat haar bekommernisse aan die Here oor
  • Sy struikel soms
  • Sy kom na die Here toe en ervaar sy vergifnis
  • Sy leef met ’n toekomsverwagting

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS