Bible Society of South Africa

Dag 86 – Ouderlinge en diakens

Lees meer oor ouderlinge en diakens.

Bybelteks(te)

Die ouderlinge van die gemeente

1Dit is 'n waar woord: as iemand graag ouderling wil wees, begeer hy 'n voortreflike werk.

2'n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; 3hy moenie aan drank verslaaf of 'n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. 4Hy moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. 5Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? 6Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland. 7Ook by die mense buite die gemeente moet hy as 'n goeie man bekend staan, sodat daar nie praatjies oor hom ontstaan en hy in 'n strik van die duiwel val nie.

Die diakens van die gemeente

8Net so moet diakens ook manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie en nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie. 9Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou. 10Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien.

11Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar.

12'n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer. 13Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself 'n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.

Die geopenbaarde waarheid van ons geloof

14Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 15Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. 16En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is:

As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig

dat die reg aan sy kant is,

aan die engele het Hy verskyn;

aan die heidennasies is Hy verkondig,

in die hele wêreld is Hy geglo,

en in heerlikheid is Hy opgeneem.

1 TIMOTEUS 3:1-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS